UV span hernubare krag in

UV span hernubare krag in (Foto: iFlair Photography)

Hernubare energiestelsels word bestempel as baie duur om aanvanklik te installeer, hoewel dit op die lang duur hoë ekonomiese opbrengste lewer.

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Departement Fasiliteitebestuur span met ʼn besluit om hernubare energie te installeer nou ook hierdie innoverende tegnologie in.

Die universiteit het minder kapitaal-intensiewe sonkragopwekkingsopsies gekies om elektrisiteit in verskillende geboue en parkeerterreine op al drie UV-kampusse op te wek.

“Volgens die UV se energiebestuursbeleid bevat alle ontwerpe doeltreffende, hernubare energiebronne wat van LED-ligte (ligemissiediode) tot sonkrag wissel,” sê Anton Calitz, elektriese ingenieur in universiteitseiendomme se Departement Fasiliteitebestuur.

Suid-kampus neem voortou met hernubare energie

In Desember 2016 is altesaam 26 sonaangedrewe LED-straatligpale by die onlangs voltooide Legae-koshuis se parkeerterrein en die buiteheining-sekuriteitsgebied op die Suid-kampus geïnstalleer. Hierdie lae-onderhoudstelsel verbeter sekuriteit ná donker en dit is onafhanklik van die nasionale kragbron, wat ’n belangrike voordeel is tydens kragonderbrekings. Bedryfskoste is laer omdat grootskaalse grondwerk en kabelinstellings nie vereis word nie.

Die infrastruktuur wat onlangs voltooi is, kan ook met trots daarop aanspraak maak dat dit die eerste is waar ’n gryswaterstelsel geïnstalleer is. Hierdie stelsel sal ook in 2017 by drie ander koshuise op die Bloemfontein-kampus geïnstalleer word. Gryswater bestaan uit bad-, stort- en badkamer-wasbakwater. Die water word dan hergebruik om toilette te spoel, asook vir besproeiingsdoeleindes.

Sonkrag speel ʼn rol in verskeie elektriese bedrywighede

Op die Bloemfontein- en Qwaqwa-kampus sal die rekenaarlaboratoriums, asook die Thakaneng-brug Studentesentrum en die voorgestelde Afromontaan-navorsingsentrum gedurende 2017 met vrystaande dak-sonstelsels toegerus word. Hierdie stelsels is ontwerp om onafhanklik van die elektrisiteitsrooster (Eskom) te werk.

Die stelsels werk net gedurende sonligure wanneer die PV-sonpanele deur die son verhit word, wat dit geskik maak vir stelsels soos ventilasiewaaiers, waterpompe en klein sirkulasiepompe vir sonkrag-waterverhittingstelsels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Vissie ·

Wonderlike nuus! Wens meer instansies wil hierdie voorbeeld volg. Ons gebruik sonkrag by die huis om ons huis se water te verhit, en dit werk uitstekend. Ons spaar 40% per maand aan krag-koste. En die water word nie net verhit nie, dit word kookwarm, tot 98°.

B-man ·

Mooi so! Eskom (en munisipaliteite) moet besef dat hulle elke keer ‘n klomp kliënte verloor, wanneer hulle die kragtarief verhoog.

Rupert Ashford ·

Jy verstaan nie mooi nie. Dit is juis die doelwit om elektrisiteitspryse so hoog op te jaag dat die sg hernubare bronne ekonomies lewensvatbaar kan raak. Dit is die doel nie die oorsaak nie.

Eish ·

Dis die pad om te loop. Bothaville in die Vrystaat, beskik oor die eerste groen mieliemeule in die land. Bedags verskaf honderde sonpanele die meule se krag tot aandrywing. Voorwaar n prestasie.

E.K. - ek sê net! ·

Nou ja toe! En baie mense is altyd so neerhalend oor die goeie ou Vrystaat! Mooi so!

Sarie ·

Mooi Vrystaat ten spyte van Ace en Olly presteer die Boere nog.

Jaco Peacock ·

Ek verskaf en installeer sonpanele vir daaglikse elektrisiteit gebruik en son water verwarmers.
Daar is huidiglik verskeie sulke “installeerders” wat nie eerlik is met die Klient rondom die tekortkominge van die son stelsels nie. Die son stelsels is afhanklik van SON, en is nutteloos op reen, en bewolkte dae, daarom die “BYSTAND” van Eskom steeds in sulke situasies. Sommige kliente is onder die indruk dat die SON alleen, in al hulle verwagting sal voorsien. Tegnologie is nog nie daar nie, en son stelsels kan beslis n impak maak op huidiglike elektriese rekenings.
Jaco

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.