Vandag is Internasionale Verbruikersregtedag

slim-tv-slimtoestelle

Foto: Julian O’hayon/Unsplash.com

Vrydag is Internasionale Verbruikersregtedag, wat jaarliks op 15 Maart gevier word. Die dag word sedert 1983 uitgesonder om verbruikers daaraan te herinner om aktief toe te sien dat hul regte gerespekteer word en wêreldwyd saam te staan vir verbruikers. Ina Opperman het gaan kyk hoe verbruikersregte vandag gevier word en hoe dit ook in Suid-Afrika gedoen word.

Consumers International (CI) is ’n internasionale verbruikersorganisasie wat die tema vir elke jaar se vieringe kies. Vanjaar is die tema “Betroubare Slimtoestelle”. Hierdie slimtoestelle sluit alles in: van daardie horlosies wat boekhou van jou fiksheid tot assistente wat met jou stem lewe kry en slimtelevisiestelle. Kortliks: alle toestelle wat deesdae al hoe meer met mekaar in verbinding tree sonder dat dit eintlik so bedoel is.

Daarom wil CI vandag daarop fokus wat verbruikers nodig het en graag wil hê in ’n wêreld waar toestelle met ander toestelle verbind is en hoe belangrik dit is dat verbruikers die middelpunt is van die ontwikkeling van digitale produkte en dienste.

Slimtoestelle

Slimtoestelle kan met mekaar praat, inligting deel en met die gebruiker “praat” deur middel van die internet en verskillende kommunikasiekanale. Dinge soos slimfone, elektroniese speletjies, slimtelevisiestelle, termostate, speelgoed en selfs motors kan inligting versamel, analiseer en oordra na ander toestelle in ’n netwerk. Hierdie netwerke van slimtoestelle word ook die Internet of Things (IoT) genoem.

Verbruikers gebruik graag slimtoestelle omdat dit gerieflik en vinnig is en persoonlike diens bied. Dink net wat jou slimfoon alles doen: jy kan teksboodskappe stuur, oproepe maak, jou treë tel, kyk waar jy is en selfs jou polsslag meet, terwyl dit jou verbind aan ander toestelle soos drukkers, luidsprekers, alarmstelsels of toestelle wat jou gesondheid dophou.

Volgens CI gebruik verbruikers in ontwikkelende lande dikwels hul slimfone om te betaal vir goedere en dienste, om betalingsbewyse te stuur en te ontvang, kommunikasie, toegang tot hul salarisse te verkry en vir lenings aansoek te doen. Daarom is dit belangrik om slimfone te verskaf wat bekostigbaar en veilig is wanneer dit op die internet gebruik word.

Daar is ook reeds ’n hele reeks slimprodukte wat daarop gerig is om die lewe makliker te maak vir gestremde mense, soos horlosies wat vibreer as ’n blinde mens ’n e-pos kry of ’n liggie wat aangaan as iemand aan die deur van ’n dowe persoon klop.

Dis dan ook geen wonder dat meer en meer verbruikers slimprodukte aanskaf nie. Volgens verbruikersopnames is daar tans 23,1 miljard toestelle in die wêreld wat aan mekaar verbind is en na verwagting sal hierdie syfer verdriedubbel teen 2025. Verbruikers sal na verwagting ook teen 2026 byna dubbel soveel soos nou bestee aan slimprodukte.

Veral slimfone het oor die afgelope drie jaar omtrent die wêreld oorgeneem, sê CI. Daar is vandag omtrent 4 miljard slimfone in die wêreld, meer as dubbel soveel as drie jaar gelede. Na verwagting sal 72% van internetgebruikers teen 2025 net hul slimfone gebruik om met die internet te verbind. Byna die helfte van hierdie nuwe gebruikers sal in China, Indië, Indonesië, Nigerië en Pakistan wees, hoofsaaklik omdat landlyne daar die duurder opsie is om met die internet te verbind.

Verbruikers in ontwikkelende lande staan egter nie soveel tou soos diegene in ontwikkelde lande om slim toestelle soos slimfone aan te skaf nie, weens swak ondersteuningsinfrastruktuur, duur dienste en data en stadige internetspoed. Volgens CI bly die koste van datapakkette in ontwikkelende lande die groot struikelblok vir verbruikers omdat 1 GB data in Afrika byvoorbeeld gemiddeld 18% van iemand daar se maandelikse inkomste beloop.

Ten spyte hiervan verwag analiste steeds dat meer verbruikers slimtoestelle sal aanskaf, grootliks te danke aan beter infrastruktuur.

Regte vir verbruikers van slimtoestelle

Terwyl netwerke in alle streke verbeter en belegging in nuwe tegnologie toeneem, gaan verbruikers egter baie weerloos wees ten opsigte van geleenthede en risiko’s. CI meen dit is belangrik om aandag te skenk aan die kwessies rakende sekuriteit en privaatheid soos al hoe meer verbruikers slimtoestelle begin gebruik.

Dit is ook belangrik om te weet hoe die data ingesamel word op jou slimtoestel en hoe hierdie data gebruik word. Verbruikers moet beter beskerm word om te verseker hulle het vertroue in die slimtoestelle wat hulle gebruik, sê CI.

Hoe vier ons die dag in SA?

Volgens die Nasionale Verbruikerskommissie het hy besluit om in sy vieringe af te wyk van die internasionale tema en liewer aandag te skenk aan die “staat van verbruikersbeskerming”.

Die kommissie het vandeesweek saam met die departement van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake in KwaZulu-Natal, die Ethekwini-munisipaliteit en verskeie reguleerders ’n reeks blitsbesoeke gedoen by verskeie probleemgebiede in Durban om seker te maak handelaars voldoen aan alle wetgewing wat verbruikers beskerm.

Die vieringe word afgesluit met ’n gesprek tussen die regering en rolspelers om krities te kyk na die staat van verbruikersbeskerming in Suid-Afrika tien jaar nadat die Wet op Verbruikersbeskerming gepromulgeer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.