Verbruikersake: Meer koop aanlyn, maar wees nogtans versigtig

aankope-aanlyn-internet

(Foto: Negative Space/Pexels.com)

Die pandemie het ons lewenswyse vir altyd verander asook die manier waarop ons inkopies doen. Waar Suid-Afrikaanse verbruikers eens lugtig was vir aanlyninkopies, het hulle tydens die grendeltyd geleer om alles en nog wat aanlyn te koop. Statistieke van Standard Bank se kaartafdeling wys dan ook ’n dramatiese skuif in betalingsgedrag vir die tydperk tussen April en September vanjaar. Gedurende hierdie tyd is 20% van alle Standard Bank-kredietkaarttransaksies aanlyn gedoen, met ’n styging van 84% in die waarde van aanlyninkopies by supermarkte en kruidenierswinkels vergeleke met die vorige jaar. Aankope by aanlynwinkels het ook met 458% toegeneem vergeleke met 2019. Ina Opperman verduidelik hoe jy hierdie nuwe inkopieneiging veilig kan aanpak.

Verbruikers wat aanlyn inkopies doen, kan staatmaak op die beskerming van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies sowel as die Wet op Verbruikersbeskerming.

Wet op Verbruikersbeskerming

Die Wet op Verbruikersbeskerming beskerm al jou regte – van jou reg om goedere na te gaan en wanneer jy goedere terug kan gee tot jou reg op veilige goedere van goeie gehalte en die versweë waarborg van gehalte wat op alle goedere van toepassing is.

Jou reg om goedere te kies of na te gaan

Artikel 18 bepaal dat jy die reg het om goedere te kies of na te gaan. Wanneer jy dus goedere aanlyn koop net op grond van ’n beskrywing, moet die goedere wesenlik ooreenstem met wat ’n gewone en waaksame verbruiker op grond van die beskrywing kon verwag.

Aflewering

Volgens artikel 19 is ondernemings verantwoordelik daarvoor om goedere binne ʼn redelike tydperk af te lewer, tensy julle anders ooreenkom. Jy kan die transaksie kanselleer as jou bestelling nie betyds aflewer word nie.

Artikel 47 bepaal ook dat ʼn onderneming nie jou geld mag aanvaar as hy nie beplan om die bestelling af te lewer nie. Indien die voorraad op is, moet die maatskappy jou geld terugbetaal.

Teruggee van goedere

Artikel 20 bepaal dat jy die reg het om goedere terug te gee binne tien werksdae as jy dit nie self kon nagaan voordat jy dit gekoop het nie; as die verkeerde goedere gestuur is; as jy van die goedere wat afgelewer is, nie bestel het nie; of indien die goedere nie geskik is vir die doel waarvoor jy dit gekoop het nie.

Die onderneming dra die koste en die risiko om goedere terug te stuur. As die produk nog in die verpakking is, moet die volle bedrag wat jy betaal het, aan jou terugbetaal word. As jy dit reeds uitgehaal het, kan die onderneming ’n redelike bedrag aftrek om die produk weer te verpak, tensy jy dit moes uithaal om dit na te gaan.

Valse en bedrieglike beskrywings

Artikel 41 bepaal dat maatskappye nie valse, misleidende of bedrieglike voorstellings mag maak nie en dit sluit beskrywings in. Ondernemings mag nie valse, misleidende of bedrieglike voorstellings oor wesenlike feite van die produk maak of impliseer nie. Oordrywing, insinuasie of dubbelsinnigheid en die versuim om ’n wesenlike feit bekend te maak, word ook nie toegelaat nie. Die onderneming mag ook nie aandui dat die produk bestanddele, kenmerke, bybehore, nut, voordele, gehalte of goedkeuring, ’n bepaalde standaard, gehalte, graad, styl of model is, nuut of ongebruik is, as dit nie waar is nie.

Veilig en van goeie gehalte

Volgens artikel 55 is dit jou reg om te eis dat jy veilige goedere van goeie gehalte te kry. Goedere moet geskik wees vir die doel waarvoor dit bedoel is en van goeie gehalte, in goeie werkende toestand en vry van enige defekte en vir ’n redelike tydperk bruikbaar en duursaam.

Artikel 56 bepaal dat alle goedere ’n versweë waarborg van gehalte het en dat jy die reg het om goedere binne ses maande aan die verskaffer terug te gee op die verskaffer se onkoste en risiko, indien dit nie aan die vereistes en standaarde in artikel 55 voldoen nie. Die onderneming moet dit herstel of vervang of jou geld terugbetaal.

Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies

Die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies wys hoe belangrik dit is om by ’n onderneming aanlyninkopies te doen net as die nodige inligting op die webwerf gegee word. Die onderneming se webwerf moet hierdie inligting gee:

  • Die onderneming se volle naam en regstatus, straatadres, telefoonnommer en e-posadres;
  • Hoe jy kan betaal met ’n krediet- of debietkaart of direk met ’n elektroniese oorplasing na die onderneming se bankrekening, met volle bankbesonderhede vir elektroniese oorplasings;
  • Wanneer jou produkte afgelewer word;
  • Die beleid oor produkte wat teruggestuur of omgeruil word. Jy kan nie goedere ondersoek voordat jy koop nie en daarom is dit belangrik om seker te maak jy kan goedere waarmee jy ontevrede is, terugstuur om jou geld terug te kry of die produk om te ruil;
  • Hoe terugbetalings gedoen word en hoe gou dit gebeur. Die beleid is gewoonlik dat jou geld terugbetaal word in die rekening waaruit jy betaal het, sodra die maatskappy die teruggestuurde produk ontvang; en
  • Wat die maatskappy doen om jou persoonlike inligting te beskerm wat jy goedertrou gee. Dit sluit jou ID-nommer en kredietkaartbesonderhede in en moet beskerm word teen kuberkrakers en ander e-skurke.

Wenke vir aanlyninkopies:

  • Die faktuur moet die volledige prys van die produk aandui en dit moet vervoerkoste, belasting en enige ander kostes insluit.
  • Jy moet ook die geleentheid kry om die elektroniese transaksie te hersien.
  • Wees versigtig vir ondernemings wat vra dat jy geld in ’n spesifieke persoon se rekening inbetaal en nie in ’n onderneming se rekening nie. ’n Onderneming wat reg bedryf word, sal nie van jou verwag om geld in ’n individu se rekening in te betaal nie.
  • ’n Facebook-blad is nie ʼn webwerf nie en voldoen dus nie aan die vereistes van die Wet nie. Jy het dus geen regte as jy iets direk op Facebook koop nie.

Kla hier

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor aanlyninkopies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.