Verbruikersake: Oppas vir daardie aanlyn voorwaardes

data-digitaal-rekenaar-brille

(Foto: Kevin Ku/Pexels)

Dit het vir verbruikers, veral nou in die tyd van die pandemie waar ons meer aanlyn leef, al tweede natuur geraak om te kliek op die “aanvaar” knoppie wanneer hulle aanlyn transaksies doen. Ons doen dit sonder om twee keer te dink, maar navorsing wat by die Universiteit Stellenbosch gedoen is, wys dat jy onwetend tot ongunstige voorwaardes kan instem. Ina Opperman verduidelik waarom verbruikers versigtig moet wees aan die hand van dr. Sanmarie van Deventer van die Departement Privaatreg se navorsing vir haar doktorsgraad.

Elke keer wanneer jy ’n webwerf besoek en op die “aanvaar”-knoppie kliek of sagteware aflaai, sluit jy ’n aanlyn kontrak wat nie onderhandelbaar is nie, soos dat jy die bepalings en voorwaardes vir die gebruik van webwerwe of die privaatheidsbeleid van aanlyn verskaffers aanvaar. Daar is dikwels geen vereiste dat jy dit onderteken nie. Die inhoud word ook nie behoorlik gereguleer nie.

“Die enigste opsie vir verbruikers is om nie die diens te gebruik nie of in sommige gevalle kan sekere blaaierstellings gebruik word om hul privaatheid te beskerm. Dit is ongelukkig waar dat verbruikers baie min kan doen om hulself aanlyn te beskerm en daarom moet bepalings in aanlynkontrakte wat moontlik onbillik kan wees, gereguleer word,” sê sy.

Van Deventer sê gebeure soos die Facebook-Cambridge Analytica-dataskandaal, waarin duisende verbruikers se persoonlike inligting onregmatig gebruik is, wys dat daar ʼn behoefte bestaan om die inhoud van aanlyn kontrakte te reguleer en verbruikers sodoende te beskerm. Hierdie aanlyn kontrak sluit egter nie ander aanlyn transaksies, soos ’n kontrak wat per e-pos onderhandel en gesluit is, uit nie.

Sy het as deel van haar navorsing bepaal hoe aanlyn kontraktering by die bestaande regsbeginsels in die Suid-Afrikaanse wetgewing inpas en dit vergelyk met dié in die VSA en die Europese Unie wat reeds voorskrifte en regulasies daaroor het. Nog baie min navorsing is hieroor gedoen en dit is nog nie deur die howe oorweeg nie.

“Hoewel die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies dit duidelik maak dat kontrakte geldig aanlyn gesluit kan word, bly ander vrae soos die afdwingbaarheid van kontrakte wat gesluit word wanneer jy voortgaan sonder om ondubbelsinnig aan te dui dat jy die voorwaardes aanvaar, onbeantwoord.”

Die wetgewende gesag het ook nog nie die kwessies wat uit hierdie soort kontrakte voortspruit, soos klousules wat privaatheid skend of toegang tot howe belemmer, in die konteks van aanlyn kontrakte oorweeg nie, sê sy.

“Die Wet op Verbruikersbeskerming en die Wet op Beskerming van Persoonlike Inligting reguleer wel sommige van die kwessies, maar ander word nie hanteer nie omdat dit nie spesifiek op die aanlyn omgewing gerig is nie.”

Ondoeltreffende maatreëls

Van Deventer het ook in haar studie bevind dat maatreëls om verbruikersbewustheid oor aanlyn voorwaardes te skep, oor die algemeen ondoeltreffend is om verbruikers te beskerm. Dit kan nadelige gevolge hê omdat dit die toepassing van ongunstige voorwaardes wettig.

“Verbruikers kies rasioneel om nie die voorwaardes van aanlyn kontrakte te lees nie, omdat die koste in die vorm van tyd wat bestee word, swaarder weeg as die voordeel, veral omdat verbruikers feitlik geen bedingingsmag ten opsigte van aanlyn kontrakte het nie.

“Hulle is dikwels onbewus daarvan dat hulle ’n kontrak aangaan – hulle weet nie dat deurblaai tot die sluit van ’n kontrak lei nie, of hulle kliek op die aanvaardingknoppie van die voorwaardes sonder om die regsgevolge daarvan te besef. Dus besef verbruikers nie waartoe hulle instem nie, en hulle kan in elk geval nie die voorwaardes verander nie.”

Een moontlike uitsondering

Volgens Van Deventer is die een moontlike uitsondering die idee van vrywillige toestemming wat in die Europese Algemene Verordening op die Beskerming van Data (GDPR) ingestel is. Die GDPR vereis toestemming wat vryelik gegee word en alleen staan wanneer jy instem tot die gebruik van jou persoonlike inligting. Dit verhoed dat ’n verskaffer die gebruik van ’n webwerf of produk van sodanige toestemming afhanklik maak, tensy die inligting noodsaaklik is vir die verskaffing van die diens.

“Dit beteken dat instemming tot nie-noodsaaklike gebruik van sy of haar persoonlike inligting opsioneel is, eerder as ’n voorvereiste vir toegang tot die internetdiens. Hierdie vorm van toestemming kan doeltreffende beskerming bied, hoewel dit slegs vir spesifieke klousules aanbeveel word.”

Onbillike voorwaardes

Van Deventer meen dat die inhoud van aanlyn kontrakte oor die algemeen gereguleer moet word, veral spesifieke klousules met unieke aanlyn risiko’s, soos:

  • klousules wat verband hou met die bewilliging van aanvullende regte (soos die gebruik van persoonlike inligting en verbruiker-gegenereerde inhoud)
  • eensydige wysigingsklousules (’n verskaffer kan die bepalings van ’n kontrak verander sonder dat jy tot die variasie instem)
  • eensydige beëindigingsklousules
  • keuse van jurisdiksie-klousules (klousules wat die spesifieke hof te bepaal wat uitsluitsel gee oor enige dispuut wat uit die kontrak ontstaan) en
  • klousules wat bepaal watter wette gebruik sal word om ’n dispuut wat weens die kontrak onstaan, te beslis.

Sy sê verbruikers is huiwerig om regstappe te doen en hul regte af ​​te dwing wanneer daar ’n dispuut ontstaan, omdat dit ’n duur en omslagtige proses is. “Ideaal gesproke moet reguleerders en verbruikersorganisasies ’n meer aktiewe rol in die handhawing van wetlike voorwaardes speel. Meganismes moet ook gevind word om verskaffers daarvan te weerhou om onbillike voorwaardes in aanlyn kontrakte in te sluit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae