Verbruikersake: Vermy klagtes oor aanlynkopies só

(Foto: pixabay)

Met die Vierde Nywerheidsrewolusie op ons, begin verbruikers al hoe meer aanlyninkopies doen omdat dit so gerieflik is om sommer iets op jou foon te koop eerder as om heelpad winkel toe te ry. Maar terwyl meer verbruikers aanlyninkopies doen, hoop klagtes oor aanlyninkopies ook op. Die kantoor van die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -dienste het juis onlangs in sy jaarverslag gemeld dat 6% van die 2 191 klagtes wat hy in die vorige boekjaar ontvang het, oor aanlyninkopies gehandel het. Ina Opperman het gaan kyk wat die Nasionale Verbruikerskommissie doen en sê daaroor.

Die Nasionale Verbruikerskommissie het in reaksie op hierdie tendens, van meer klagtes oor aanlyninkopies, saam met die provinsiale verbruikerskantore besluit om aanlyninkopies een van hul fokuspunte vir die huidige boekjaar te maak. Die kommissie sal ook ondernemings bystaan met monitering en raad om te verseker hulle voldoen aan die vereistes van openbaarmaking vir aanlynondernemings met behulp van ’n sakegids.

Die sakegids is gebaseer op riglyne vir internasionale beste praktyk van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling en plaaslike wetgewing, soos die Wet op Verbruikersbeskerming en die Wet op Elektroniese Kommunikasie. Die gids is daarop gerig om te verseker dat verbruikers beskerm word en dat ondernemings wat produkte aanlyn verkoop, die plig het om te verseker dat die volgende beginsels nagekom word:

  • Inligting in eenvoudige en verstaanbare taal, wat van kardinale belang is om te verseker dat verbruikers ingeligte besluite neem wanneer hulle aanlyninkopies doen. Indien meer as een taal beskikbaar is om transaksies in te doen, moet die onderneming al die inligting wat nodig is vir verbruikers om ’n ingeligte besluit te neem, in al hierdie tale verskaf.
  • Ondernemings mag geen misleidende inligting direk of indirek verskaf nie oor enige wesenlike feit wat verband hou met die produk, soos gehalte, standaardvereistes, inhoud en gebruik.
  • Die regte pryse moet aangedui word sodat jy vooraf weet hoeveel jy moet betaal of wat die totale prys van die kontrak is wat jy sluit. Die verskillende betalingsopsies moet vooraf bekend gemaak word sodat jy kan begryp wat die koste-implikasies van elke opsie is.
  • Ondernemings mag nie staatmaak op die voorwaardes om belangrike inligting oor wesenlike en belangrike inligting oor te dra nie, aangesien verbruikers dikwels nie die voorwaardes lees nie. Alle inligting moet vooraf in eenvoudige en verstaanbare taal oorgedra word en nie eers wanneer die kontrak gesluit is nie. Dit sal jou help om eers te dink oor wat jy koop en jou in staat stel om dit met ander produkte te vergelyk.
  • Ondernemings moet jou uitdruklike toestemming kry voordat hulle jou vra om te betaal vir goedere en dienste wat jy aanlyn koop. Ondernemings mag nie vertrou op voorafgemerkte blokkies nie, aangesien dit nie ’n betroubare vorm van verbruikerstoestemming is nie. Verbruikers bevraagteken dikwels nie blokkies wat reeds afgemerk is nie. Dit is ook van toepassing op negatiewe opsiebemarking, waar jy uitdruklik moet aandui dat jy iets nie wil hê nie, anders beskou die onderneming dit as toestemming. Hierdie soort aanbod kan nie afgedwing word nie ingevolge artikel 31 van die Wet op Verbruikersbeskerming. Outomatiese hernuwing van kontrakte is ook onbillik en onwettig en druis in teen die gees van die wet. Ondernemings mag egter, volgens artikel 14 van die Wet, ’n kontrak op ’n maand-tot-maand-grondslag hernu indien jy nie op skrif aandui dat jy nie die kontrak aan die einde van die tydperk wil hernu nie. Ondernemings is ook verplig om jou meer as veertig dae voor die verstryking van die kontrak te laat weet dat dit gaan verstryk en of die voorwaardes en pryse dieselfde gaan wees indien jy dit wel hernu.
  • Die tydsberekening wanneer inligting aan jou gestuur word, is ook belangrik. Die meeste ondernemings verskaf inligting vooraf wanneer jy iets aanlyn koop, maar wanneer jy ’n deurlopende kontrak het, is dit nodig om deurlopend inligting te verskaf eerder as om staat te maak op inligting wat aan jou verskaf is voordat jy die kontrak geteken het.
  • ʼn Beleid oor die teruggee van goedere en terugbetaling van geld moet reeds bestaan. Ondernemings moet hul beleide ten opsigte van teruggee en terugbetaal vooraf beskikbaar stel en die beleid moet in eenvoudige en verstaanbare taal weergegee word, maklik gevind kan word en maklik toeganklik wees. Volgens artikel 55 van die Wet, moet goedere geskik wees vir die doel waarvoor jy dit wil gebruik, goed werk en nie enige foute hê Indien daar fout is met die goedere binne ses maande ná aflewering, kan jy dit op die onderneming se risiko en onkoste teruggee sonder dat die onderneming ’n boete hef, en daarop aandring dat die onderneming die foutiewe goedere vervang, herstel of jou geld terug betaal.
  • Inligting oor die onderneming moet ook verskaf word en moet ten minste die volgende insluit: volle naam en regstatus, registrasienommer, name van amptenare en plek van registrasie, kontakbesonderhede, fisieke adres en lidmaatskap van enige selfregulerende liggaam of akkreditasie.
  • Inligting oor die transaksie moet weergegee word op ’n duidelike rekeningstaat, wat die prys, bykomende heffings, koste van derdepartye, voorwaardes, betalingsmetode, maniere om uit te tree en aflewering insluit. Ondernemings moet ook vooraf inligting verskaf oor al die heffings wat gevra kan word, insluitende doeanebelasting vir internasionale transaksies en posgeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.