Verbruikersake: Wees veilig as jy aanlyn koop

aanlyn-aankope

Foto: FirmBee/Pixabay.com

Suid-Afrikaanse verbruikers het na verwagting verlede jaar R45,3 miljard op aanlyninkopies uitgegee, 19% meer as in 2017. Hulle hou veral daarvan om klere, vermaak en onderwysverwante goed, asook kaartjies vir geleenthede aanlyn te koop. Dit is duidelik dat hulle aanlyninkopies al hoe meer vertrou. Hierdie vertroue is ook heel geregverdig, solank jy sorg dat jy alles in jou vermoë doen om jouself in die proses te beskerm. Ina Opperman verduidelik hoe jy jouself kan beskerm wanneer jy aanlyninkopies doen.

Volgens die jongste PayPal- en Ipsos-verslag oor aanlyninkopies, het 65% van almal met internettoegang aangedui dat hulle die afgelope twaalf maande aanlyn inkopies gedoen het. Daar is aanduidings dat aanlyninkopies nog verder gaan toeneem tot ’n geskatte R61,9 miljard teen 2020.

Dit raak al hoe geriefliker om aanlyn te koop aangesien tegnologie dit voortdurend makliker maak met byvoorbeeld apps, waarmee jy inkopies kan doen. Meer as 75% van mense dui ook aan dat hulle daarvan hou om aanlyn te koop omdat dit so gerieflik is.

Terwyl jy deesdae meer hoor van mense wat praat oor hoe gemaklik dit is om aanlyn te koop, lui daar by die meeste van ons steeds ’n klokkie oor daardie vriendin wat klere aanlyn bestel het wat glad nie gelyk het soos op die webwerf toe dit afgelewer is nie, of iemand wat selfs aanlyn wild gekoop het wat toe nooit bestaan het nie.

Verbruikers kla oor die algemeen oor goedere wat nie afgelewer word nie, geld wat nie terugbetaal word nie of produkte wat nie lyk soos dit moet nie. Jy kan egter die meeste van hierdie klagtes vermy as jy verseker die transaksie voldoen aan die vereistes van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies en die Wet op Verbruikersbeskerming.

Wet op Verbruikersbeskerming

Die Wet op Verbruikersbeskerming beskerm jou wanneer jy aanlyn inkopies doen in artikels 18, 19, 20, 41, 47, 55 en 56:

  • Jy het volgens artikel 18 die reg om goedere te kies of na te gaan. Indien jy iets op die internet koop op grond van ’n beskrywing, moet dit wesenlik ooreenstem met dit wat ’n gewone en waaksame verbruiker op grond van die beskrywing kon verwag.
  • Jou regte in verband met aflewering word beskerm in artikel 19, wat bepaal die maatskappy waar jy koop, moet goedere binne ʼn redelike tydperk aflewer, tensy julle anders ooreenkom. Jy kan die transaksie kanselleer indien dit wat jy bestel het, nie betyds aflewer word nie.
  • Jy het die reg volgens artikel 20 om goedere binne tien werksdae terug te gee as jy dit op die internet gekoop het. Jy kan goedere teruggee as die verkeerde goedere gestuur is, of indien goedere wat nie bestel is nie, afgelewer is. Die belangrike bepaling hier is dat jy ook goedere kan teruggee as dit nie geskik is vir die doel waarvoor jy dit gekoop het nie, byvoorbeeld as dit nie werk nie. Die maatskappy moet die koste en risiko dra om dit terug te stuur. Jy moet die volle bedrag terugkry as jy iets onoopgemaak terugstuur. Die maatskappy kan egter ’n redelike bedrag aftrek om die produk weer te verpak, tensy jy dit moes uithaal om dit na te gaan.
  • Artikel 41 beskerm jou teen valse, misleidende of bedrieglike voorstellings oor wesenlike feite oor produkte. Webwerwe mag nie oordryf, insinueer of dubbelsinnig wees wanneer ’n produk of diens beskryf word nie. Hulle mag ook nie sê ’n produk het bestanddele, kenmerke, bybehore, nut, voordele, gehalte of goedkeuring as dit nie waar is nie. ’n Bepaalde standaard, gehalte, graad, styl of model mag ook nie valslik daaraan toegedig word nie. Gebruikte produkte mag ook nie as nuut of ongebruik beskryf word nie.
  • Niemand mag ook goedere aanbied wat hy nie beplan om af te lewer nie. Volgens artikel 47 moet die maatskappy al jou geld terugbetaal as die voorraad op is.
  • Volgens artikel 55 het jy die reg om te verwag goedere wat jy aanlyn koop, veilig en van goeie gehalte is. Jy kan ook verwag dit moet geskik wees vir die doel waarvoor jy dit koop, in goeie werkende toestand en vry van enige defekte. Dit moet ook vir ’n redelike tydperk bruikbaar en duursaam wees en aan enige toepaslike standaarde kragtens die Wet op Standaarde voldoen.
  • Alle goedere het in elk geval ’n versweë waarborg van gehalte. Artikel 56 bepaal dat jy goedere binne ses maande aan die verskaffer kan teruggee op sy onkoste en risiko, indien dit nie aan die vereistes en standaarde van artikel 55 voldoen nie. Hy moet ook goedere wat gebreek is, herstel of vervang, of jou geld terug betaal.

Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies

Die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies vereis dat webwerwe die onderneming se volle naam en regstatus gee op sy webtuiste, saam met sy straatadres en telefoonnommer, die webadres en e-posadres. Die webtuiste moet ook die volgende inligting duidelik gee:

  • Kan jy met ’n krediet- of debietkaart betaal of ’n elektroniese oorplasing doen om te betaal? Die webwerf moet die volle bankbesonderhede gee vir elektroniese oorplasings en mag nie van jou vereis om die geld in ’n individu se rekening in te betaal nie.
  • Inligting oor hoe gou bestellings afgelewer word.
  • Die maatskappy se beleid oor produkte wat teruggestuur of omgeruil word.
  • Hoe terugbetalings gedoen word en wanneer.
  • Hoe die maatskappy jou persoonlike inligting beskerm.

Die faktuur moet die volle prys van die produk aandui en dit moet vervoerkoste, belasting en enige ander kostes insluit. Jy moet ook die geleentheid kry om die elektroniese transaksie te hersien.

Onthou: ’n Facebook-blad is nie ʼn webwerf nie en hoef dus nie te voldoen aan die vereistes van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies nie. Koop dus liewer by ’n webwerf.

Kla hier

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor aanlyninkopies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alex ·

Koop by betroubare aanlyn-winkels.
If it looks too good to be true, it probably is.

JB ·

Moet onder geen omstandighede deur Viagogo kaartjies vir geleenthede koop nie. Google lys hulle heel eerste op hulle search, en as hulle eers jou geld het dan kan jy niks meer doen nie. Hulle word in Brittanje en in Australië gedagvaar, maar sover ek weet gebeur niks met hulle in S.A nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.