Verbruikersake: Wet oor veiligheid van jou persoonlike inligting nou van krag

(Foto: Rustam Ziabirov/Unsplash.)

Oral waar jy gaan, word jou persoonlike inligting neergeskryf en nou, in die tyd van Covid-19, nóg meer as ooit. Verbruikers is al jare lank bekommerd oor wat met hul persoonlike inligting gedoen word en baie was al slagoffers van identiteitsdiefstal. En om nie van die alewige pesoproepe van bemarkers te praat nie! Nou het belangrike dele van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (ook bekend as Popia) op 1 Julie in werking getree. Wat beteken dit vir verbruikers? Ina Opperman het gaan kyk hoe verbruikers se persoonlike inligting nou beskerm gaan word.

Die presidensie het onlangs bekend gemaak dat artikels 2 tot 38, 55 tot 109, 111 en 114 op 1 Julie vanjaar in werking tree, maar instansies het 12 maande grasie om aan die vereistes van die Wet te voldoen ingevolge artikel 114.

Volgens artikel 2 is die doel van die Wet om mense se grondwetlike reg op privaatheid te beskerm wanneer dit deur ’n verantwoordelike party gebruik word, onderworpe aan regverdigbare beperkings gerig op die balansering van jou reg op privaatheid teenoor ander regte, veral die reg op toegang tot inligting en die beskerming van belangrike belange.

Die Wet is ook daarop gerig om te reguleer hoe jou persoonlike inligting gebruik mag word, sowel as jou regte en stappe om jou persoonlike inligting te beskerm teen gebruik wat nie ooreenstem met die Wet nie. Dit stel ook vrywillige en verpligte maatreëls in, soos die instelling van ’n inligtinsreguleerder, om te verseker jou regte word gerespekteer en bevorder, toegepas en verwesenlik.

Jou regte

Jou regte word bepaal in artikel 3, wat lui dat jy die reg het om, onder meer:

  • verwittig te word dat jou inligting ingesamel word of deur ’n ongemagtigde persoon verkry is;
  • vas te stel of iemand inligting oor jou het en toegang daartoe kan kry;
  • te versoek dat die inligting reggestel, vernietig of uitgewis word;
  • redelik beswaar aan te teken teen die gebruik van jou persoonlike inligting;
  • enige tyd te kla oor die gebruik van jou inligting vir direkte bemarking;
  • te keer dat jou persoonlike inligting gebruik word vir direkte bemarking deur middel van ongeoorloofde elektroniese kommunikasie;
  • nie onderworpe te wees aan outomatiese prosesse om ’n profiel van jou te skep nie; en
  • by die Inligtingsreguleerder te kla as iemand met jou reg tot die beskerming van jou persoonlike inligting inmeng en ’n siviele eis teen die oortreder in te stel.

Uitsluitings

Volgens artikel 6 van die Wet is dit nie van toepassing op jou persoonlike of huishoudelike aktiwiteite nie en nie heridentifiseer kan word nie, of indien dit deur ’n openbare instelling gebruik word vir nasionale veiligheid of indien vereis deur die kabinet, uitvoerende raad van ’n provinsie of hofprosesse. Verskeie uitsluitings geld ook vir die oogmerke van joernalistiek, letterkunde en kuns.

Voorwaardes vir regmatige gebruik

Deel A van hoofstuk 3 bevat verskeie voorwaardes vir die regmatige gebruik van jou persoonlike inligting:

  • Voorwaarde 1: Verantwoordingspligtigheid, wat bepaal dat die verantwoordelike party moet verseker dat daar voldoen word aan die voorwaardes vir regmatige gebruik van jou inligting.
  • Voorwaarde 2: Beperkte gebruik, wat bepaal dat die gebruik regmatig en nie uitermatig nie moet wees, dat jy toestem om noodsaaklike inligting vir ’n transaksie te verskaf en beswaar kan maak teen die insameling van jou inligting.
  • Voorwaarde 3: Oogmerkspesifikasie, wat bepaal dat insameling net vir ’n bepaalde oogmerk gedoen mag word en dat inligtingsdokumente net vir ’n sekere tyd gehou mag word.
  • Voorwaarde 4: Beperkte verdere gebruik, wat bepaal dat dit net verder gebruik mag word vir die oorspronklike oogmerk.
  • Voorwaarde 5: Inligtingsgehalte, wat bepaal dat die inligting volledig, akkuraat en bygewerk moet wees en nie misleidend nie.
  • Voorwaarde 6: Openheid, wat bepaal dat dokumentasie bygewerk moet word en dat jy in kennis gestel moet word indien jou persoonlike inligting ingesamel word.
  • Voorwaarde 7: Veiligheidsvoorsorgmaatreëls, wat bepalings bevat oor integriteit en vertroulikheid, inligting wat gebruik of ingesamel word deur ’n gemagtigde persoon of operateur en veiligheidsbreuke, waar iemand anders onwettig toegang verkry.
  • Voorwaarde 8: Jou deelname, wat bepalings bevat oor toegang tot jou inligting, regstelling daarvan en hoe toegang verkry word.

Hoofstuk 4 gee vrystelling van voorwaardes waar die Inligtingsreguleerder vrystelling kan gee van die voorwaardes ten opsigte van sekere werksaamhede.

Spesiale persoonlike inligting

Deel B handel oor die gebruik van spesiale persoonlike inligting, wat bepalings bevat oor wanneer die gebruik van spesiale persoonlike inligting verbode is, algemene magtiging en magtiging op grond van geloofs- of filosofiese oortuigings, ras of etniese herkoms, vakbondlidmaatskap, politieke oortuiging, gesondheid of sekslewe en kriminele gedrag of biometriese inligting.

Kinders

Deel C handel oor die gebruik van kinders se persoonlike inligting, wat die gebruik van kinders se persoonlike inligting verbied, tensy:

  • magtiging van ’n bevoegde persoon verkry is;
  • dit nodig is om ’n reg te vestig, uit te oefen of te beskerm;
  • dit nodig is om te voldoen aan ’n regsverpligting ingevolge internasionale reg; of
  • dit nodig is vir historiese, statistiese of navorsingsoogmerke.

Die reguleerder kan partye op versoek magtig om kinders se inligting in te samel en redelike voorwaardes daarvoor stel.

Toesig en gedragskodes

Hoofstuk 5 bevat bepalings oor toesig, soos die instelling, bevoegdhede, pligte en werksaamhede van die Inligtingsreguleerder en Inligtingsbeamptes, terwyl hoofstuk 7 bepalings bevat oor gedragskodes wat die reguleerder mag instel.

Direkte bemarking

Hoofstuk 8 van die Wet bevat verskeie bepalings oor direkte bemarking om verbruikers te beskerm,  direkte bemarking deur middel van ongeoorloofde elektroniese kommunikasie, gidse vir kontakbesonderhede en geoutomatiseerde besluitneming.

Artikel 69 bepaal dat:

  • die gebruik van jou persoonlike inligting vir direkte bemarking deur middel van elektroniese kommunikasie verbied word, tensy jy toestemming daarvoor gegee het of ’n klant van die instansie is;
  • ’n instansie jou net een keer mag nader indien jou toestemming vereis word, indien jy nie voorheen geweier het nie en jou toestemming op die voorgeskrewe wyse verkry is;
  • ’n instansie waar jy ’n klant is, mag net jou persoonlike inligting gebruik indien jy jou inligting gegee het tydens die koop van ’n produk of diens of vir direkte bemarking. Jy moet ook die geleentheid kry om gratis en sonder ’n omvattende proses beswaar te maak teen die gebruik van jou inligting toe dit ingesamel is of tydens direkte bemarking; en
  • enige kommunikasie vir direkte bemarking moet die instansie identifiseer en ’n adres verskaf waar jy kan vra dat die kommunikasie gestaak word.

Inligtingsvloei oor landsgrense, afdwinging, misdrywe, strawwe en administratiewe boetes

Hoofstuk 9 bevat bepalings oor inligtingsvloei oor landsgrense en hoofstuk 10 oor die afdwinging van die bepalings van die Wet, terwyl hoofstuk 11 die misdrywe, strawwe en administratiewe boetes bepaal.

Oorgangsbepalings

Die oorgangsbepalings word verduidelik in artikel 114, wat lui dat die gebruik van persoonlike inligting binne een jaar in ooreenstemming met die Wet gebring moet word.

Kla hier:

Besoek die reguleerder se webwerf by https://www.justice.gov.za/inforeg/index.html of stuur e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.