Verbruikersrubriek: Beskerm jouself teen internetskelms

sosiale-media-gebruiker-facebook-internet.jpg

Argieffoto.

Daar sal altyd ʼn skelm wees wat jou geld wil steel. Danksy hedendaagse tegnologie sit daardie skelm waarskynlik agter ʼn rekenaar en wag dat jy jou geld sommer in sy rekening inbetaal vir enigiets van ʼn katjie met ʼn stamboom langer as jou arm, tot swaar nywerheidsmasjinerie. Dit maak ʼn mens bang om iets wat aanlyn geadverteer word te koop of self iets só te verkoop. Ina Opperman gee raad oor hoe om jouself te beskerm as jy iets aanlyn koop.

Die polisie het vandeesweek weer gewaarsku dat mense wat goedere koop wat op die internet geadverteer word, versigtig moet wees nadat twee vroue vandeesweek in die landdroshof op Hoopstad verskyn het op aanklag van bedrog. Hulle is aangekeer nadat ʼn sakeman wat laaigrawe wou koop, uit R500 000 bedrieg is.

Die vroue het sedert 2012 meer as 120 advertensies op webwerwe soos Gumtree geplaas vir toerusting soos nywerheidstoerusting, laaigrawe en motoronderdele namens verskeie maatskappye wat nie bestaan nie. Wanneer kopers gekla het dat hulle nie die goedere kry wat hulle gekoop het nie, het die susters glo gesê die maatskappy is gelikwideer.

Die Wet op Verbruikersbeskerming

Die Wet op Verbruikersbeskerming beskerm jou wel teen handelaars wat goedere, wat jy nie gesien het nie, verkoop. Dié wet beskerm jou egter nie in private kooptransaksies wanneer jy iets by iemand anders koop wat nie ʼn geregistreerde onderneming besit nie.

Oppas vir hierdie skelmstreke

Verbruikers moet lig loop vir internetskelmstreke soos hierdie:

  • E-pos van maatskappye wat kleinadvertensies plaas wat goedere te koop aanbied.
  • Goedkoop blyplekke om te huur wat jy nie kan sien voordat jy die deposito betaal nie.
  • Winskopies wat te goed klink om waar te wees. Wanneer duur items soos selfone, kameras en rekenaars teen ʼn belaglik lae prys verkoop word, moet jy lig loop.
  • Poste wat min ondervinding vereis teen groot salarisse.
  • Belaglike voorwaardes, soos dat jy moet betaal voordat ʼn item beskikbaar gestel kan word en dat dit nie per koerier gestuur kan word nie.
  • Geen dokumente soos ʼn brief van die bank is beskikbaar nie.
  • Verdagte webwerwe wat lyk soos webwerwe van regte maatskappye.

Loop ook lig wanneer jy iets verkoop. Die bekendste skelmstreek is dat iemand jou “betaal” deur die geld in jou rekening te deponeer en die betaalstrokie vir jou te stuur. Die strokie word vervals en jy is jou goedere kwyt.

Beskerm jouself só

  • Luister na jou instink. As jy nie gemaklik voel met die transaksie nie, moenie die geld oorbetaal nie. Daai klokkie wat in jou kop lui, doen dit nie verniet nie.
  • Moenie geld oorbetaal voordat jy al die inligting het waarvoor jy vra nie, al is die verkoper hoe haastig om te verkoop of al is jy haastig om te koop. Moenie jou steur aan stories dat die verkoper môre die land verlaat en gou moet verkoop nie of dat iemand anders ook belangstel nie.
  • Vra vir foto’s van die goedere met vandag se koerant by om te wys die goedere bestaan wel. Baie van die skelmstreke wentel om goedere wat nie eens bestaan nie en skelms gebruik foto’s wat op die internet beskikbaar is om verbruikers te mislei. ʼn Foto met die dag se koerant kan moontlik bewys dat die goedere wel bestaan.
  • Moenie jou laat afskrik deur ʼn ongeskikte verkoper wat jou dreig nie. Staan op jou regte en moenie toelaat dat iemand jou boelie om geld oor te betaal nie.
  • Onthou dat elektroniese kontantoorplasings direk deurgaan na die rekeninghouer toe, al pas die rekeninghouer se naam nie by die rekeningnommer nie. Dit is waarom skelms vra vir ʼn elektroniese oorplasing eerder as ʼn kontantinbetaling by ʼn kassier, waar die betaling nie gedoen kan word as al die besonderhede nie korrek is nie.
  • Meningsopnames waarin jy koopbewyse kan wen en jou persoonlike inligting moet gee om die prys te kry. Skelms gebruik die inligting om weer ander verbruikers te bedrieg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Mvs ·

Ons so stel afgetrap mt n Cheryl van vermoedelik PE vir n mobile melkmasjien, ekt di geld oorbetaal in rekening wat di volgende dag afgelewer sou word. Syt my naderhand skelwoorde toe gesnou en madam ht verdwyn met my geld en sogenaamde melkmasjien! Haar tel was toe onder n prostituut gelys. Hoop sy kom n …ding oor!

t ·

Gebruik ‘n toepassing met die naam “TrueCaller”om nommers na te gaan voor jy selfs eers bel. Jy kan dit selfs op jou eie PC oopmaak. Dit het my al verskeie kere gekeer om te bel vir die “aanbod van ‘n leeftyd”.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.