Talle Facebook-gebruikers het al die behoefte uitgespreek om ʼn plasing waarvan hulle nie hou nie, te kan “afkeur” (“dislike”).
Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof van Facebook, het Dinsdag tydens ʼn vraag-en-antwoordsessie in Kalifornië, VSA, bevestig Facebook is besig om ʼn “dislike”-knoppie te ontwikkel.
Zuckerberg het dit benadruk dat hulle nie ʼn funksie wou skep waar ander mense iemand anders se plasings kan beoordeel nie, maar eerder om jou misnoeë uit te spreek of simpatie te betoon met iemand.
Hy het gesê dit sal uiteraard nie lekker wees as iemand jou mooi sonsondergangfoto of ʼn hoogtepunt uit jou dag “afkeur” nie, maar eerder wanneer jy iets plaas oor byvoorbeeld huidige nuusgebeure soos die vlugtelingkrisis of selfs ʼn familielid wat gesterf het.
Facebook het nog nie aangedui hoe die knoppie sal lyk of wat dit genoem sal word nie. Die maatskappy kan ook nog nie sê wanneer die funksie beskikbaar sal wees nie. “Dit is verrassend ingewikkeld om só ‘maklike’ kenmerk te probeer bou,” het Zuckerberg verduidelik. Facebook sal na verwagting ook aan sy algoritmes moet werk om só funksie in te bou om te bepaal hoe plasings gesorteer word.
Kyk na die aankondiging oor die “dislike”-knoppie en die volledige vraag-en-antwoordsessie volg onderaan.