Video: Gʼn inkopietoue by dié winkel nie

'n Skermskoot uit die video

‘n Skermskoot uit die video

Die aanlyn handelsgroep Amazon het vandeesweek die tradisionele manier waarop mense oor inkopies dink op sy kop gedraai.

Die webwerf het vroeër vandeesweek as deel van ʼn bekendstellingsprogram ʼn video op sosiale media gedeel waar hy vir die eerste keer oor sy jongste projek, ʼn inkopiewinkel genaamd Amazon Go, praat.

Amazon Go, ʼn winkel in Seattle, se doel is eenvoudig: om alledaagse dinge, soos byvoorbeeld inkopies, deel te maak van die digitale beweging en om mense se lewe te vergemaklik.

In dié winkel sal klante gans nooit weer in ʼn tou moet staan om vir hulle inkopies te betaal of op die tande moet kners wanneer hulle met ʼn kaart betaal en vir ʼn trae masjien moet wag nie. Klante kan as’t ware in die winkel inloop, die items wat hulle benodig in hulle eie mandjie pak en dan weer uitstap.

Hoe werk dit? Dieselfde tegnologie wat in selfaangedrewe motors gebruik word, is ook in die winkel. Daar is onder meer rekenaarvisie wat die rekenaar in staat stel om te weet watter items jy optel, terugsit en selfs op ʼn ander plek neersit. Al wat jy benodig, is ʼn slimfoon, ʼn Amazon Go-rekening en ʼn Amazon Go-app. Wanneer klante die winkel verlaat, sal die rekening na die app gestuur word en deur middel van die internet betaal kan word.

Die enigste Amazon Go-winkel is tans in Seattle en open in 2017 sy deure. Die handelsgroep beplan om later verder uit te brei.

Vir meer inligting, besoek Amazon Go.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Quixilver ·

Ongelukkig sal ons dit nooit hier sien nie, want die sal ‘n grooter werksverlies teweeg bring.

Quixilver ·

Die WNNR het al meer as 15 jaar gelede ‘n soortgelyke selfhelp sesteem bekend gestel en vulstasie met die nuwe pompe wat al die brandstof op een pomp het is klaar gereed vir selfhelp, maar in ‘n land waar die meerderheid ongeskoold is en nou nog die wiskunde slaagsyfer verlaag word kan tegnologie nie aangewend word om produsie te verhoog nie agv ons swak werksloosheid syfer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.