[Video] Museums in die palm van jou hand

Foto: googleblog.blogspot.co.za

Foto: googleblog.blogspot.co.za

Google het vandeesweek ʼn nuwe app bekendgestel wat gebruikers in staat stel om kunswerke van meer as 1 000 museums in 70 lande wêreldwyd te verken, en selfs visuele toere in dié museums met behulp van slim tegnologie te onderneem.

Kunsliefhebbers kan bykans alle soorte kuns onder die son met dié app verken: alle werke sedert 200 v.C. tot en met moderne kuns en abstrakte ekspressionisme.

Dié gratis app, Google Arts & Culture, stel jou ook in staat om uit te vind wanneer watter galery oop is en watter kunstenaars spesifieke kunswerke gemaak het.

“Dit is egter meer as net ʼn aanlynvertoning van kuns,” het Google in ʼn persverklaring

gesê. “Dié app moedig kykers aan om die kunswerke te ontleed en om meer kennis oor die werke op te doen as wat ʼn mens in ʼn museum sal kry.”

Die app stel gebruikers byvoorbeeld ook in staat om chronologies deur kunswerke, soos dié van Van Gogh, te gaan om die ontwikkeling by die kunstenaar raak te sien.

Daar is ook daaglikse nuusstories op die app oor onderwerpe soos die gesteelde Nazi-kunswerke of byvoorbeeld Brueghel die Ouere se Toring van Babel.

Virtuele “werklikheidskykers” soos Google Cardboard kan gebruikers ook in staat stel om met behulp van slimfone virtuele toere te onderneem in verskeie museums.

Inligting op die app is versamel uit die argiewe van meer as 1 000 kunsmuseums wêreldwyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.