Voorkom só dat iemand jou identiteit steel

Argieffoto

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Bankrisikoinligtingsentrum (Sabric) het gesê Suid-Afrikaners deel inligting op sosiale media wat hulle blootstel aan identiteitsdiefstal.

Kalyani Pillay, uitvoerende hoof van Sabric, het kliënte gewaarsku om baie versigtig te wees oor die persoonlike inligting wat hulle op sosiale media deel, aangesien misdadigers telkens nuwe maniere uitdink om identiteitsdiefstal te pleeg. “Mense moet versigtig wees om inligting op byvoorbeeld hul Facebook-profiel te deel soos kinders se name, hul verjaarsdae en waar hulle hulself bevind,” het Pillay verduidelik. “Misdadigers kan dié inligting misbruik.”

Talle Suid-Afrikaners ontdek eers dat hulle ʼn slagoffer was van identiteitsdiefstal wanneer hulle aansoek doen vir nuwe lenings of ekstra krediet.

Pillay het gesê die Suid-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens (SAFPS) het kliënte en banke reeds gehelp om meer as R8 miljard te spaar om bedrog te voorkom deur identiteitsdiefstal betyds op te merk. Volgens SAFPS sal meer mense meer geld spaar indien bankkliënte meer waaksaam was om hul persoonlike inligting te beskerm.

Hy het bygevoeg die biometriese verifikasiestelsel van die departement van binnelandse sake se nasionale identifikasiestelsel (HANIS) wat banke gebruik om kliënte deur hul vingerafdrukke uit te ken, bemoeilik sake vir misdadigers om identiteitsdiefstal te pleeg deur vervalste identiteitsdokumente.

Pillay het gesê omdat dit al hoe moeiliker vir misdadigers is om identiteitsdokumente te vervals, moet hulle nou ʼn verskeidenheid van persoonlike inligting insamel, soos e-posadresse of telefoonnommers, en hulle kan dan dié inligting gebruik om ʼn kliënt se identiteit oor te neem. Hy het gesê hierdie tipe inligting word vrylik deur bankkliënte gedeel, onwetend dat misdadigers dit kan misbruik.

Misdadigers skakel ook hul slagoffers en doen hulself voor as werknemers van die bank, en versoek persone om vertroulike inligting soos wagwoorde of PIN-kodes telefonies te deel. Dit kan ook per e-pos plaasvind, wanneer misdadigers boodskappe stuur wat soos amptelike bankdokumentasie lyk.

Pillay het gesê bedrieërs maak ook gebruik van vervalste kompetisies en klante word na bedrieglike webwerwe gestuur en e-posse word onderskep om toegang te bekom tot privaat inligting.

Hy maan gebruikers om hulself te beskerm deur sterk wagwoorde te gebruik wat nie maklik ontsyfer kan word nie; om alle persoonlike inligting, wagwoord en PIN-kodes te beskerm en nooit telefonies of per e-pos bekend te maak nie; om alle dokumente met persoonlike inligting te versnipper; nie onnodige persoonlike inligting in ʼn beursie of handsak rond te dra nie; nie banksake by ʼn internetkafee of op rekenaars in ʼn hotel of konferensiesentrum te doen nie; en dadelik gesteelde ID-dokumente, rybewyse en paspoorte by die polisie en SAFPS aan te meld.

“Identiteitsdiefstal kan met enigiemand gebeur en dit kan jou baie geld uit die sak jaag as jou kredietprofiel blootgestel is,” het Pillay gesê. “Gebruikers moet op hoogte bly van die maniere waarop identiteitsdiefstal kan plaasvind en hoe tendense verander om hulself te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Henk ·

Nee, ek stem nie volkome saam nie. Ek dink eerder maatskappye soos Vodacom, Mweb. Multichoice en die banke en stadsrade, moet ophou om kliente se inligting te verkoop.
DAN sal die identiteit diefstalle einde kry.

Trolle ·

Stem saam Henk ek is al so moeg vir lastige sms op my phone,en hulle weet wat my naam is hoekom word dit uitgegee aan sulke mense.Dan bel hulle jou ook nog op die ontydigste tye om polisse en goed aan jou te verkoop.

Jordaan ·

Maar as ek ‘n pakkie by die poskantoor wil kry, karlisensie hernieu of geld by die bank oor toonbank oordra word ID kopie gemaak. Hoe moet mens onder sulke omstandighede jou identiteit probeer veilig hou?

Loeis ·

Wat Facebook aanbetref – gaan na Instellings en maak seker dat enigiets wat jy plaas of deel net vir jou en jou vriende sigbaar is. Aanvaar slegs mense wie jy ken as vriende.

Deur hierdie eenvoudige stappe kon mense al hulself al van heelwat moeilikheid gespaar het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.