Waarskuwings nou by omstrede twiets

(Foto: AP Photo/J. David Ake)

Pres. Donald Trump se volgende twiet kan dalk met ʼn waarskuwingsteken kom.

Twitter het pas ʼn nuwe maatreël ingestel waarvolgens twiets wat die maatskappy meen in openbare belang is, maar die diens se reëls oortree, bedek sal word met ʼn waarskuwingsteken wat verduidelik dat dié twiet in oortreding van Twitter se reëls is, asook Twitter se redes hoekom hy dit in elk geval plaas. Gebruikers sal dan op die waarskuwing moet klik om die twiet te lees.

Twitter het gesê die nuwe beleid is van toepassing op alle regeringsbeamptes, kandidate of soortgelyke openbare figure met meer as 100 000 volgelinge.

Hierdie nuwe beleid kan Trump se reeds bekende tirades teenoor sosialemediaplatforms nog verder aanvuur. Die Amerikaanse president kla gereeld dat sosialemediaplatforms bevooroordeeld teenoor hom en ander konserwatiewes is.

Twitter se reëls verbied die aanhitsing van geweld teenoor enige persoon of groep, die “geteikende teistering” van ʼn persoon of die aanhitsing van ander om ʼn persoon te teiken. Die platform verbied ook haatspraak teen ʼn groep gebaseer op ras, etnisiteit, geslag en ander kategorieë en laat ook nie die bevordering of dreiging van terreur toe nie.

Die maatskappy het lankal openbare figure van baie van sy gewone reëls vrygestel, en stem in die plasing van omstrede twiets deur politici bevorder openbare debat en hou leiers aanspreeklik.

Maar daar was al talle oproepe van sosialemediagebruikers dat Trump van Twitter verban moet word oor wat aktiviste meen “beledigende en dreigende” gedrag is. Die president het in hierdie week getwiet ʼn aanval deur Iran “sal ontvang word met groot en oorweldigende geweld. In sommige gebiede sal dit oorweldigende uitwissing beteken”.

Trump gebruik ook graag Twitter om sy vyande aan te val in twiets wat baie van die platform se reëls oortree. Hy het al ʼn voormalige werknemer ʼn “lowlife” en “dog” genoem, ʼn video gedeel van hom wat ʼn man aanrand met ʼn CNN-logo vir ʼn kop, en hertwiet ook opspraakwekkende anti-Moslemvideo’s.

Twitter sê sy nuwe beleid is nie van toepassing op twiets in die verlede nie.

Die platform het bygevoeg dit is steeds moontlik vir ʼn regeringsbeampte of ander openbare figuur om iets só skandelik of skokkend te twiet dat dit verwyder sal word. ʼn Direkte dreigement van geweld teen ʼn individu sal byvoorbeeld steeds nie toegelaat word nie.

Die maatskappy sê die besluite oor waarskuwingskennisgewings sal gemaak word deur ʼn groep wat lede van sy vertroue-en-veiligheid-, regsbeleid- en openbarebeleid-spanne insluit, asook werknemers in die spesifieke gebied waaruit die twiet sy oorsprong het.

Wanneer ʼn twiet só ʼn kennisgewing daarop geplaas kry, sal die twiet nie op Twitter se “veiligesoek-modus” verskyn nie, asook nie in die ontdekkingsafdeling of op ander plekke waar Twitter sy twiets bemark of uitlig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chrisjan ·

Sal Twitter nie asb ook die SA politici onder hande neem nie … of geld hierdie net vir sekere velkleur mense?

Valerie ·

Arme Twitter, wil hulle mense nog verder “coddle” todat “hello sê” as ‘n traumatiese ervaring gesien sal word? Twitter plaas sensuur toe, maw. Die “deskundiges” wat besluit…wat is hulle politieke en ander sieninge? Sensuur is ‘n slegte teken in enige vrye gemeenskap en beskawing.

Jan Karsten ·

Ai tog, laat die media, beheer deur soros, so bang is vir mense soos Trump en Steve.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.