Wikipedia-kompetisie: Nagraadse student, wen ʼn jaar se klasgeld!

Nagraadse studente kan nou met hul vaardigheid en kennis deur Maroela Media se Afrikaans op Wikipedia-projek die kans staan om ʼn jaar se klasgeld los te slaan!

Wanneer mens iets op die internet soek, is die kans baie goed dat jy ʼn artikel daaroor op Wikipedia sal kry. Dié bron word wêreldwyd gebruik en word in verskillende tale aangebied. As dit kom by Afrikaanse artikels op Wikipedia, is dié egter dun gesaai. Daarom het Maroela Media saam met ander liefhebbers van Afrikaans besluit om Wikipedia in Afrikaans uit te brei – nie net om Afrikaans te help bevorder nie, maar ook om studente te help met navorsing vir hul studies.

Ons het jou hulp nodig om ʼn bydrae tot hierdie Afrikaanse biblioteek op Wikipedia te maak. Daar is reeds byna 68 000 artikels in Afrikaans op Wikipedia beskikbaar, maar dit skiet nog ver te kort aan die behoefte van Afrikaanse studente.

Maroela Media wil nagraadse studente aanspoor om soveel as moontlik artikels op die Afrikaanse Wikipedia te publiseer, sodat ons ʼn nalatenskap van kennis in Afrikaans vir ons studente kan bou.

Nagraadse studente kan met hulle kundigheid en ervaring inligting in Afrikaans aan studente beskikbaar stel.

Die nagraadse student wat tussen 11 Desember 2018 en 31 Maart 2019 die meeste artikels op die Afrikaanse Wikipedia gepubliseer het, kry die kans om een jaar van sy of haar klasgeld te wen, en boonop as die Wiki-Meester gekroon te word!

Dié video wys jou hoe om te werk te gaan om ʼn artikel op Wikipedia te publiseer. Vir riglyne oor die skryf van ’n goeie artikel, kyk onderaan die video. Onthou om die vorm te voltooi as jy vir die prysgeld in aanmerking wil kom. Stuur enige navrae per e-pos aan [email protected].

 

Riglyne vir ʼn goeie Wikipedia-artikel

ʼn Goeie Wikipedia-artikel moet aan sekere riglyne voldoen. Hier is van die punte wat ons in gedagte sal hou wanneer ons besluit of ʼn artikel vir die kompetisie in aanmerking kom.

ʼn Goeie artikel:

  • Begin met ’n kort inleiding oor die onderwerp: Jy moet dit as ’t ware aan die leser voorstel. Die eerste paragraaf moet ’n samevatting bevat van wat volg of ’n omskrywing van die onderwerp. As die artikel oor ’n mens handel, noem hoekom hy of sy belangrik is, waar hy of sy vandaan kom en wanneer hy of sy geleef het. Vir ’n stad is dit byvoorbeeld nuttig om te noem in watter land dit geleë is en hoe dit in die plaaslike taal heet.
  • Gebruik opskrifte, beelde, tabelle of lyste waar nodig.
  • Maak gebruik van interne skakels na ander artikels. Moenie suinig wees met skakels nie, maar dit is ook nie nodig om te skakel na elke woord wat moeilik of onbekend klink nie.
  • Het paragrawe wat nie te lank is nie en bestaan nie uit blokke teks nie. Lang paragrawe lyk onnodig moeilik.
  • Het paragrawe wat nie te kort is nie, want een-sin- of een-reël-paragrawe skep die indruk van ’n klomp onsamehangende feite, pleks van ’n samehangende geheel met ʼn logiese verloop.
  • Bevat geen sleng, kru of platvloerse taal nie.
  • Spreek nie die leser direk aan nie. Gebruik “ʼn mens” pleks van “jy”, byvoorbeeld: “ʼn Mens kan hierdie siekte deur kontak opdoen.” Bly saaklik en laat slegs die feite die leser inlig.
  • Gebruik nie die teenwoordige tyd vir gebeurtenisse wat in die verlede plaasgevind het nie. Dis ʼn ensiklopediese artikel, nie fiksie nie.
  • Het logiese indelings van die onderafdelings van die onderwerp.
  • Bevat presiese, akkurate stellings en vermy dubbelsinnighede.
  • Vermy die skrywer se mening en staaf alle feite met verwysings.
  • Bevat korrekte spelling en keurige taalgebruik.
  • Is ʼn deurlopende projek waaraan gedurig geskaaf en verbeter kan word, en wat gereeld bygewerk word.

Bepalings en voorwaardes

  • Slegs een wenner sal aangewys word.
  • Die inskrywingsvorm onderaan die artikel moet volledig ingevul wees.
  • Gehalte en lengte van artikels moet op aanvaarbare Wikipedia-standaard wees. Besoek die portaal vir nuwelinge en bestudeer die wenke vir die skryf van ‘n goeie artikel.
  • Die wenner moet sy of haar maandelikse salarisstrokie aan Maroela Media stuur en ons sal jou salaris verdubbel tot en met ʼn maksimum van R25 000 wat in jou persoonlike bankrekening gedeponeer sal word.
  • Die prysgeld sal binne tien dae nadat die wenner bekend gemaak is, uitbetaal word.
  • Slegs volwaardige artikels met genoegsame woorde, verwysings, opskrifte en prente wat voldoen aan die wenke vir die skryf van ‘n goeie artikel soos op Wikipedia gepubliseer, asook die riglyne wat bo die video hier bo verskaf is, sal as geldige artikels vir ‘n inskrywing gesien word.
  • Maroela Media behou die reg voor om artikels wat nie aan die riglyne voldoen nie, van Wikipedia te verwyder.
  • Deelnemers wat herhaaldelik nie voldoen aan die vereistes vir ‘n goeie artikel soos hierbo gestel nie, se inskrywing sal gediskwalifiseer word.
  • Slegs geregistreerde onderwysers met ʼn SACE-nommer kan in aanmerking kom vir die prysgeld.
  • Die beslissing van die organiseerders oor watter onderwyser die meeste artikels gepubliseer het, is finaal. Geen verdere korrespondensie sal hieroor gevoer word nie.
  • Slegs artikels wat tussen 11 Desember 2018 en 31 Maart 2019 in Afrikaans deur die betrokke persoon op Wikipedia gepubliseer is, sal in aanmerking kom vir die prysgeld.
  • ʼn Minimum van 20 artikels moet deur die deelnemer gepubliseer word in die tydperk tussen 11 Desember en 31 Maart 2019 om in aanmerking te kom vir die prysgeld.
  • Indien geen persoon die minimum getal artikels haal nie, kan die sperdatum van die kompetisie aangeskuif word. Dié besluit berus by die organiseerders en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.