Wikipedia-kompetisie: Onderwyser, verdubbel een maand se salaris!

Onderwysers kan nou met hul vaardigheid en kennis deur Maroela Media se Afrikaans op Wikipedia-projek die kans staan om een maand se salaris te verdubbel!

Wanneer mens iets op die internet soek, is die kans baie goed dat jy ʼn artikel daaroor op Wikipedia sal kry. Dié bron word wêreldwyd gebruik en word in verskillende tale aangebied. As dit kom by Afrikaanse artikels op Wikipedia, is dié egter dun gesaai. Daarom het Maroela Media saam met ander liefhebbers van Afrikaans besluit om Wikipedia in Afrikaans uit te brei – nie net om Afrikaans te help bevorder nie, maar ook om leerders te help met navorsing vir skooltake en huiswerk.

Ons het jou hulp nodig om ʼn bydrae tot hierdie Afrikaanse biblioteek op Wikipedia te maak. Daar is reeds byna 68 000 artikels in Afrikaans op Wikipedia beskikbaar, maar dit skiet nog ver te kort aan die behoefte van Afrikaanse skoliere.

Maroela Media wil onderwysers aanspoor om soveel as moontlik artikels op die Afrikaanse Wikipedia te publiseer, sodat ons ʼn nalatenskap van kennis in Afrikaans vir ons kinders kan bou.

Onderwysers kan met hulle kundigheid en ervaring inligting in Afrikaans aan skoliere beskikbaar stel.

Die onderwyser wat tussen 11 Desember 2018 en 31 Maart 2019 die meeste artikels op die Afrikaanse Wikipedia gepubliseer het, kry die kans om sy of haar salaris vir een maand te verdubbel, en boonop as die Wiki-onnie gekroon te word!

Dié video wys jou hoe om te werk te gaan om ʼn artikel op Wikipedia te publiseer. Vir riglyne oor ’n goeie artikel, kyk onderaan die video. Onthou om die vorm te voltooi as jy vir die prysgeld in aanmerking wil kom. Stuur enige navrae per e-pos aan [email protected].


Riglyne vir ʼn goeie Wikipedia-artikel

ʼn Goeie Wikipedia-artikel moet aan sekere riglyne voldoen. Hier is van die punte wat ons in gedagte sal hou wanneer ons besluit of ʼn artikel vir die kompetisie in aanmerking kom.

ʼn Goeie artikel:

  • Begin met ’n kort inleiding oor die onderwerp: Jy moet dit as ’t ware aan die leser voorstel. Die eerste paragraaf moet ’n samevatting bevat van wat volg of ’n omskrywing van die onderwerp. As die artikel oor ’n mens handel, noem hoekom hy of sy belangrik is, waar hy of sy vandaan kom en wanneer hy of sy geleef het. Vir ’n stad is dit byvoorbeeld nuttig om te noem in watter land dit geleë is en hoe dit in die plaaslike taal heet.
  • Gebruik opskrifte, beelde, tabelle of lyste waar nodig.
  • Maak gebruik van interne skakels na ander artikels. Moenie suinig wees met skakels nie, maar dit is ook nie nodig om te skakel na elke woord wat moeilik of onbekend klink nie.
  • Het paragrawe wat nie te lank is nie en bestaan nie uit blokke teks nie. Lang paragrawe lyk onnodig moeilik.
  • Het paragrawe wat nie te kort is nie, want een-sin- of een-reël-paragrawe skep die indruk van ’n klomp onsamehangende feite, pleks van ’n samehangende geheel met ʼn logiese verloop.
  • Bevat geen sleng, kru of platvloerse taal nie.
  • Spreek nie die leser direk aan nie. Gebruik “ʼn mens” pleks van “jy”, byvoorbeeld: “ʼn Mens kan hierdie siekte deur kontak opdoen.” Bly saaklik en laat slegs die feite die leser inlig.
  • Gebruik nie die teenwoordige tyd vir gebeurtenisse wat in die verlede plaasgevind het nie. Dis ʼn ensiklopediese artikel, nie fiksie nie.
  • Het logiese indelings van die onderafdelings van die onderwerp.
  • Bevat presiese, akkurate stellings en vermy dubbelsinnighede.
  • Vermy die skrywer se mening en staaf alle feite met verwysings.
  • Bevat korrekte spelling en keurige taalgebruik.
  • Is ʼn deurlopende projek waaraan gedurig geskaaf en verbeter kan word, en wat gereeld bygewerk word.

Bepalings en voorwaardes

  • Slegs een wenner sal aangewys word.
  • Die inskrywingsvorm onderaan die artikel moet volledig ingevul wees.
  • Gehalte en lengte van artikels moet op aanvaarbare Wikipedia-standaard wees. Besoek die portaal vir nuwelinge en bestudeer die wenke vir die skryf van ‘n goeie artikel.
  • Die wenner moet sy of haar maandelikse salarisstrokie aan Maroela Media stuur en ons sal jou salaris verdubbel tot en met ʼn maksimum van R25 000 wat in jou persoonlike bankrekening gedeponeer sal word.
  • Die prysgeld sal binne tien dae nadat die wenner bekend gemaak is, uitbetaal word.
  • Slegs volwaardige artikels met genoegsame woorde, verwysings, opskrifte en prente wat voldoen aan die wenke vir die skryf van ‘n goeie artikel soos op Wikipedia gepubliseer, asook die riglyne wat bo die video hier bo verskaf is, sal as geldige artikels vir ‘n inskrywing gesien word.
  • Maroela Media behou die reg voor om artikels wat nie aan die riglyne voldoen nie, van Wikipedia te verwyder.
  • Deelnemers wat herhaaldelik nie voldoen aan die vereistes vir ‘n goeie artikel soos hierbo gestel nie, se inskrywing sal gediskwalifiseer word.
  • Slegs geregistreerde onderwysers met ʼn SACE-nommer kan in aanmerking kom vir die prysgeld.
  • Die beslissing van die organiseerders oor watter onderwyser die meeste artikels gepubliseer het, is finaal. Geen verdere korrespondensie sal hieroor gevoer word nie.
  • Slegs artikels wat tussen 11 Desember 2018 en 31 Maart 2019 in Afrikaans deur die betrokke persoon op Wikipedia gepubliseer is, sal in aanmerking kom vir die prysgeld.
  • ʼn Minimum van 20 artikels moet deur die deelnemer gepubliseer word in die tydperk tussen 11 Desember en 31 Maart 2019 om in aanmerking te kom vir die prysgeld.
  • Indien geen persoon die minimum getal artikels haal nie, kan die sperdatum van die kompetisie aangeskuif word. Dié besluit berus by die organiseerders en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wikipedia-bydraer ·

Dit is wonderlik om te hoor dat die Afrikaanse Wikipedia bevorder word!

Hierdie kompetisie wil klaarblyklik mense beloon deur slegs na die getalle te kyk. Ons wat werk aan die Afrikaanse Wikipedia werk baie hard om die kwaliteit te verhoog. Natuurlik moet die dekking ook verbreed met meer artikels, maar as slegs getalle beloon gaan word, gaan daar slegs getalle kom. En die arme vrywilligers wat oor die langtermyn bydra, sal maar weer ‘n klomp halfgebakte artikels moet regmaak om aan die standaarde te voldoen (of dit sal soos soveel onlangse bydraes maar net daar lê en wag).

Deelnemers aan die kompetisie sal nie kan bekostig om uitstekende artikels te lewer nie, want dan sal daar dalk slegs enkeles per deelnemer gelewer word in die kompetisietydperk. Ek hoop dat elkeen wat by Wikipedia uitkom (deur hierdie kompetisie of hoe ook al), werklik kan inskakel by die gemeenskap en bydra om dit beter te maak — nie net om ‘n arbitrêre getalletjie êrens (die aantal artikels) hoër te maak nie.

Sterkte aan almal wat deelneem!

Kobus ·

Dagsê Wikipedia-bydraer

Dankie vir jou besorgdheid oor die gehalte van die inskrywings vir Maroela Media se Wikipedia-kompetisies. Ons neem kennis van jou kommer hieroor. Die artikel hier bo bevat wel skakels na ʼn artikel op Wikipedia wat die riglyne vir die skep van goeie artikels duidelik uiteensit. Ons het, in reaksie op jou kommentaar, ook ʼn opsomming hiervan hier bo in hierdie artikel bygewerk, en dieselfde gedoen in die ander kompetisie se inligting. Die bepalings en voorwaardes (ook hier bo) is ook bygewerk om dit duidelik te maak dat artikels wat nie aan die vereiste standaarde voldoen nie, verwyder sal word, en dat sulke deelnemers gediskwalifiseer sal word.

Ons stem saam met jou dat die doel glad nie die aantal artikels is nie, maar ook die gehalte daarvan. Ons hoop dat ons met hierdie maatreëls sal verseker deelnemers neem die gehalte van hul bydraes ernstig op.

Indien julle in enige stadium van mening is dat bydraes op Wikipedia wat deur deelnemers aan hierdie kompetisies gemaak word, nie op standaard is nie, sal ons dit waardeer as julle ons kontak sodat ons met die betrokke deelnemer in kontak kan tree, of kan help om artikels wat nie aan die vereistes voldoen nie, te verwyder. Ons wil seker maak dat hierdie kompetisie vir julle ook ʼn lekker inisiatief is en nie iets wat vir julle meer werk genereer nie. Stuur gerus e-pos na [email protected] indien daar enigiets is waarmee ons kan help. Die e-posbus sal reg deur die vakansie beman word en navrae sal beantwoord word.

Groetnis
Susan Lombaard (nms. Maroela Media)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.