Wikipedia-werksessie fokus op SA vroueleiers

Kinders-en-die-internet

Die werksessie fokus spesifiek op inligting vir laerskole. Foto: Mumzworld.com

Wikipedia bied Vrydag (19 Februarie) ʼn werksessie in Kaapstad aan waar die onderwerp “Suid-Afrikaanse vroueleiers” onder meer bespreek word.

Wikipedia, ʼn gratis aanlyn-bron van inligting, het onlangs sy vlerke gesprei en dié diens ook in Afrikaans beskikbaar gemaak, veral met skole en universiteite in die oog.

Volgens Douglas Scott, die president van Wikimedia Suid-Afrika, is die tema van vroueleiers gekies omdat daar ʼn groot gebrek aan inligting oor dié onderwerp op Wikipedia bestaan.

“Met dié projek wil Wikipedia spesifiek daarop fokus om inligting te skep vir laerskole. Ons het verskeie vennote wat saam onderwerpe identifiseer wat dekking nodig het op Wikipedia. Inligting oor vroueleiers, veral in Afrika, is skraps en ons het besluit om ʼn werksessie daaroor aan te bied,” sê Scott.

Die doel van die werksessie is om vrywilligers te leer hoe om Wikipedia te redigeer en inligting op die stelsel te voeg. “Wikipedia is ʼn webwerf wat deur enigiemand wat die internet onder die knie het, geredigeer kan word. Enigiemand kan inligting byvoeg. Dié werksessie gee mense toegang tot die prosesse en hoe om temas te identifiseer.”

Omdat die stelsel ten alle tye geredigeer kan word, is dit belangrik dat die feitelike korrektheid van inligting deurentyd nagegaan moet word. “Daar is gewoonlik sowat 1 000 mense wat ʼn enkele artikel nagaan. Dit beteken die moontlikheid dat foutiewe inligting kan deurglip is baie kleiner.”

Ander onderwerpe wat Wikipedia binnekort wil aanraak sluit in feminisme, humanisme en Afrika-leiers. “Onderwerpe soos tegnologie is baie goed gedek op Wikipedia omdat daar ʼn wye belangstelling in die onderwerp is. Die werksessie wil egter vir mense aandui watter inligting kortkom en hoe hulle kan bydra tot die stelsel.”

Die werksessie oor vroueleiers word op 19 Februarie om 15:00 in die Amerikaanse hoekie van die Sentrale Biblioteek op die hoek van Parade- en Darlingstraat in Kaapstad gehou. Belangstellendes word versoek om hul eie skootrekenaars te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.