Word skatryk en reis na Hollywood met nuwe aanlyn-werklikheidsreeks

Die #BeatTheNet-werklikheidsreeks is Dinsdag bekendgestel met bekendes soos Suzelle DIY, Darren Simpson en Cell C se uitvoerende hoof, Jose Dos Santos (Foto: Facebook)

Die #BeatTheNet-werklikheidsreeks is Dinsdag bekendgestel met bekendes soos Suzelle DIY, Darren Simpson en Cell C se bemarkingshoof, Doug Mattheus. Foto: Via Facebook

Die nasionale selfoondiensverskaffer, Cell C, het Dinsdag ʼn aanlynwerklikheidsreeks, #BreakTheNet, bekendgestel wat van Jan Alleman ʼn internetsensasie, én skatryk, kan maak.

Dié veldtog, ʼn eerste van sy soort, word in samewerking met Bl!nk Pictures van stapel gestuur.

Jose Dos Santos, Cell C se uitvoerende hoof, het gesê dié werklikheidsreeks is deel van die verskaffer se benadering om volhoubaar te bly in ʼn digitale omgewing.

Die #BreakTheNet-werklikheidsreeks gaan 30 deelnemers die geleentheid gee om hul staal te wys in ʼn reeks uitdagings waarin die wenner ʼn R250 000 kontantprys en ʼn reis na Hollywood in Los Angeles kan losslaan.

Deelnemers gaan elke week ʼn opdrag kry om in videoformaat uit te voer en weekliks uitgestem word.

Hulle het 48 uur om elke uitdaging te voltooi. Die deelnemers wie se video’s die meeste gekyk word, sal in die reeks bly.

Inskrywings vir die reeks is oop van 15 September tot 15 Oktober. Die eerste episode word op 23 Oktober op Cell C se YouTube-kanaal vertoon.

Deelnemers word darem ook nie aan die diepkant gegooi nie. Verskeie bekendes, meestal bekend vir hulle aanlyn-persoonlikhede, gaan ook as mentors in die werklikheidsreeks optree. Dié mentors sluit in Suzelle DIY, Ofentse Mwase en Theodora Lee.

Die akteur Blessing Xaba gaan ook as ʼn bekende in die reeks deelneem, terwyl Derick Watts & The Sunday Blues die werklikheidsreeks gaan aanbied en die radiopersoonlikheid Darren “Whackhead” Simpson as taakmeester gaan optree.

Belangstellendes kan inskryf met behulp van die Cell C Reality-app. Dié app kan afgelaai word vir Android of iOS. Die voorwaardes kan ook op die app gelees word en episodes van die werklikheidsreeks gaan weekliks op dié app beskikbaar gestel word.

Dos Santos het gesê dié veldtog is gemik daarop om die gewone manier waarop televisie-inhoud vervaardig word, uit te daag. Dit is ook die verskaffer se eerste stap in die rigting van ʼn digitale omgewing, waarin inhoud op ʼn ander manier en deur middel van alternatiewe aanlynplatforms oorgedra word.

“Soos meer Suid-Afrikaners toegang tot die internet kry, verander die manier waarop inhoud aan verbruikers oorgedra word. As ʼn innoveerder, neem Cell C nou die eerste stap in die verandering van hoe die inligting oorgedra gaan word,” het hy gesê.

Odette Schwegler, Bl!nk Pictures se direkteur, sê die #BreakTheNet-werklikheidsreeks is ʼn bewys dat Cell C by ʼn veranderende omgewing, een wat meer digitaal word, aanpas. “Dié werklikheidsreeks verteenwoordig die nuwe manier waarop ons in die toekoms inhoud gaan skep en oordra. Op pad na ʼn digitale omgewing raak dit al hoe duideliker dat iets nie werklik bestaan as dit nie op jou slimfoon bestaan nie,” het sy gesê.

Dos Santos meen verskaffers moet inhoud deur middel van ander kanale begin oordra, grootliks omdat jongmense deesdae net soveel tyd aanlyn deurbring as wat hulle televisie kyk.

Vir meer inligting, besoek Cell C se webwerf of Facebook-blad.

Laai die Cell C Reality-app of vir Android of iOS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.