Dís wat jy eintlik met jou pap batterye moet doen

Daagliks beland daar honderde gebruikte batterye op Suid-Afrikaanse vullishope wat giftige stowwe soos lood, suur en plastiek bevat en wat ʼn negatiewe impak op ons omgewing het.

Tog weet baie mense nie dat hulle nie pap batterye in ʼn gewone vullisdrom moet weggooi nie.

Batterye is byna 100% herwinbaar, maar as dit soos gewone vullis weggegooi word, kan dit deur die grond absorbeer word of die see besoedel. Daarom is dit uiters belangrik om alle batterye, van jou flits se batterye tot jou skootrekenaar se battery, behoorlik te herwin wanneer hulle die einde van hul leeftyd bereik.

Hoe word batterye herwin?

Die algemeenste batterye wat dikwels in ons alledaagse lewe gebruik word is alkaliese batterye (AA, AAA ensovoorts).

Dié batterye word herwin deur die battery-komponente eers af te breek in drie kategorieë: Sink en mangaan, staal, en papier, plastiek en koper. Al hierdie produkte kan herwin word om weer in nuwe produkte gebruik te word.

Om batterye te herwin is dus nie net die ekologies verantwoordelike ding om te doen nie, maar ook ekonomies.

Die meerderheid van ander soort batterye, soos groot loodsuurbatterye vir pompe, ligte en gholfkarretjies, is ook byna totaal herwinbaar en kan weer in hul afgebreekte toestand gebruik word om nuwe produkte te maak.

Gelukkig word sowat 90% van alle loodsuur batterye reeds suksesvol en verantwoordelik in Suid-Afrika herwin. Dit is waarskynlik omdat dit in groot maatskappye gebruik en herwin word, maar die gewone huishoudelike batterye te syfer is veel laer.

Hoe om jou batterye te herwin

Omdat batterye nie in jou gewone vullisdrom gegooi moet word nie, en jy waarskynlik nie elke keer na ʼn herwinningsmaatskappy wil ry wanneer jou kombuishorlosie se battery pap raak nie, is dit ʼn goeie plan om ʼn boks of sak vir jou ou batterye in jou huis te identifiseer.

Onthou net om die oop pole van 9V en sterker batterye te isoleer omdat dié soort batterye ‘n vonk kan veroorsaak as hulle aan mekaar raak en ‘n brand kan veroorsaak.

ʼn Gewone huishouding gebruik nie ʼn groot hoeveelheid batterye per jaar nie. So jy kan selfs jou batterye in die boks gooi en dit slegs een maal per jaar neem om herwin te word.

Sommige gebiede het selfs dienste wat batterye by jou huis kom haal om te herwin en in ander gevalle kan jy dit na battery-herwinningspunte neem om behoorlik daarvan ontslae te raak.

Uitgesoekte Woolworths-winkels, Woolworths Foodstops en Engen-geriefwinkels verskaf ‘n diens waar jy jou glas, blikkies, plastiek, papier en karton, asook kompakte fluoresserende gloeilampe en batterye kan aflaai vir herwinning.

  • Laat weet ons gerus in die kommentaar waar jy van jou batterye ontslae raak?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

isabelle ·

reguit vullisdrom toe maar self al gedink dit kan mos nie reg wees nie Persoonlik dink ek ons moet n drom kry en voor elke supermark sit want dit sal help dat mense dit nie net weg smyt op die maklikste plek nie…kort meer bewusmaking

HBK ·

Ek gebruik my plaaslike Chamberlain tak wat ‘n herwinnings opsie bied vir gloeilampe en batterye. Alhoewel ‘n paar besighede hierdie diens beskikbaar het, sien mens nie gereeld dat hulle dit adverteer nie. Dit is ‘n jammerte.

Phillip ·

My plaaslike Pick n Pay Hyper in Faerie Glen het ‘n houer waarin ‘n mens dit kan gooi. Ek gebruik egter selde batterye en dié vir my afstandbeheerders is herlaaibaar…

VannieBaai ·

Ek sou baie graag wou weet waar in PE mens gebruikte batterye heen kan neem. Dit word nie geadverteer nie.

FM ·

In die naaste dorp was die gerief beskikbaar om in duidelik gemerkte houers by ‘n supermark se ingang batterye, gloeilampe, glasbottels te plaas. Ongelukkig is dit gestaak omdat die betrokke houers misbruik is vir die onnoembare. Ek weet nie wie die breë publiek gaan oplei nie.

Anoniem ·

Dankie Maroela vir hierdie artikel. Ons gebruikte batterye is ook nog altyd in die vullisdrom gegooi. Maar danksy hierdie artikel weet ek nou van beter en sal dit in die vervolg in gedagte hou.

AmandaDup ·

Hier by ons is daar ‘n elektroniese herwinnings hospitaal (scrapyard) waar jy al jou batterye, ou printers, tv’s ens. kan vat en hulle haal als uit mekaar vir herwinning.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.