[Entrepreneurskap] Bekommernis los nie probleme op nie

mias_klipkouersMias van Vuuren is die eienaar van Soapbox Promotions & Gifts. Hulle verskaf korporatiewe klere en geskenke en is een van die grootste sodanige verskaffers in Suid-Afrika. Hulle bedryf ook ʼn borduurfabriek waar hulle binnehuis borduurwerk doen.

  • Vertel ons ʼn bietjie meer oor jouself.

Ek woon in Lynnwood, Pretoria, maar is eintlik afkomstig van Witbank waar ek grootgeword en Witbank Tegnies Hoërskool bygewoon het. Ek is al 16 jaar lank getroud en het twee seuns. Ná skool is ek lugmag toe waar ek drie jaar as elektroniese ingenieur gewerk het. Daarna is ek na Siemens vir ʼn paar jaar en van daar af na Vodacom waar ek tot 2014 gewerk het. Ek het egter reeds in 2007 my deeltydse besigheid begin. Toe dié in 2014 reusegroei getoon het, het ek ingespring en ʼn voltydse besigheidseienaar geword.

  • Watse probleem los jou besigheid op?

Ons verskaf korporatiewe klere en geskenke, maar die ding waarop ons die meeste aanspraak maak, is die borduurwerk. Uit navorsing wat ons gedoen het, het ons besef ons tipiese kliënt is die korporatiewe grootkop se persoonlike assistent wat ʼn gholfdag moet reël en twee dae voor die gholfdag besef sy sy het nog niks gereël nie! Dit is maar ʼn pyn in die bedryf en baie mense dink ʼn mens druk net ʼn knoppie, dan spoeg die masjien ʼn hemp met borduurwerk aan die ander kant uit. Ons het ons huiswerk deeglik gedoen en saam met ons besigheidsafrigter het ons aan ons unieke verkoopvoorstel gewerk wat ʼn 72-uur-diens is. Aanvanklik was dit nogal moeilik, maar ons het dit reggekry. Dis maar ʼn risiko, want die 72-uur-diens belowe dat ons jou borduurwerk vir jou binne 72 uur sal lewer, anders hoef jy nie daarvoor te betaal nie. Ek dink ons is die enigste maatskappy in Suid-Afrika wat ʼn volle terugbetalingswaarborg gee as ons dit nie binne 72 uur lewer nie. Ons is al ʼn bietjie uitgedaag om dit te verbeter tot ʼn 24-uur-diens toe. Natuurlik is daar ʼn paar ekstra voorwaardes aan verbonde, maar ons kan nou reeds tot 1 000 items binne 24 uur borduur én lewer.

  • Het julle onmiddellik aftrek gekry? Kon julle met bemarking sien daar was ʼn proaktiewe reaksie om hierdie USP daar uit te kry? Het die mense goed daarop gereageer?

Ja, nogal. Aanvanklik het almal gedink ons is van ons koppe af, maar skielik het almal regop gesit en twee jaar nadat ons dit begin doen het, het ons gesien dat ander maatskappye dit nou ook doen. Hulle verskaf egter nie ʼn waarborg nie. Ek wil sê ons het baanbrekerswerk gedoen op dié gebied. Daar is beslis maatskappye en kliënte vir wie dit uiters belangrik is om hulle goed betyds te kry. Hulle is nie regtig bekommerd oor die pryse nie, want uit die aard van die saak is die goed bietjie duurder omdat ons al ons aandag aan hierdie kliënt gee. Dit het nie so ʼn groot invloed gehad soos wat ons gedink het nie. Omdat dit ʼn duurder pakket is, is daar kliënte wat sê hulle sal vir twee weke vir my borduurwerk wag omdat dit nie so belangrik is soos hulle gedink het nie. Dit het nogal daartoe gelei dat ons mense sover gekry het om te besef die opsie is daar, maar as hulle net hulle beplanning beter doen, kan hulle wegkom met ʼn beter diens oor ʼn langer tydperk.

  • Wat maak jou anders as jou mededingers?

Ek sou reken dit is maar net dat ons ʼn waarborg het en ook die 24-uur-pakket. Ons besigheidsafrigter het van die begin af vir ons gesê: Een groot ding wat sorg dat suksesvolle besighede van ander verwysings kry, is dat jy nie slegs prysgewys moet meeding nie. Jy moet daardie een ding kry wat jou só anders maak dat ouens bereid sal wees om jou te gebruik al is jou tarief duurder as jou kompetisie s’n. Nou moet ek darem ook bysê dat ons gewone standaarddiens heelwat goedkoper as die meeste van ons mededingers s’n is.

Dis ʼn belangrike punt wat jy maak; daar is een gesegde wat ek lief is om te gebruik en dit is die oomblik dat jy met prys meeding, is dit ʼn “race to the bottom” – almal sny en sny totdat daar niks oor is nie.

Die een ding wat ons so ʼn jaar gelede gedoen het, is om te probeer konsolideer in die mark. Daar is baie een-man-outjies  by die verskaffers van al hierdie klere en goed wat ook maar afslag gee op grond van hoe baie jy by hulle bestee. ʼn Paar van ons mededingers en kliënte wat saam graveerwerk doen, het toe besluit om te konsolideer en as ʼn groep ʼn korporasie te vorm waardeur ons baie afslag kon beding. Dis tipies van jou landboukorporasies waar die korporasie vir pryse gaan beding. Op dié manier het ons baie middelmanne gekry vir wie dit sinvol is om eerder hulle goed deur ons te koop en by ons te laat brand. Sodoende kry hulle die items goedkoper as wat hulle dit self sou kon kry. Dit het ook natuurlik die bykomende voordeel van die waarborg, of dat hulle self kan bystaan met die ontwerpe wat moeilik is by die groot maatskappye wat die klere verskaf en self ook borduur. Daar is dit nie altyd so toeganklik om jou logo’s te ontwerp totdat dit jóú pas nie. Ons het ook al gesien hoe lank dit ons gevat het om tot op ʼn redelike afslagskaal te vorder. So, nou – veral in plekke soos BNI waar daar baie ouens is met wie ʼn mens ʼn goeie vertrouensverhouding het – kan ʼn mens met die mense gesels en sê kom koop by ons, want hulle kry die voordeel van die afslag en ons kry die voordeel van daardie inkomste wat ons nie gehad het nie. Almal is op die ou einde gelukkig.

  • Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?

Ons het die radioadvertensie-ding probeer, baie van daardie 80% kliënte gekry wat vir jou 20% inkomste gee en vinnig besef dis nie die mark waarin ons wil werk nie, en ʼn paar ander goed ook. Ek dink die twee goed wat regtig die beste vir ons werk, is netwerkbemarking en veral BNI – ek is een van die langsdienende BNI-lede in Pretoria, en dit is iets waarop ek trots is. BNI gaan regtig oor vertroue. Besigheid het soveel te doen met vertroue tussen ʼn kliënt en ʼn verskaffer. Boonop het iemand by BNI my voorgestel aan iemand by Tukkies nadat ek al ses jaar gesukkel het om daar in te kom. Blykbaar moet jy deur iemand werk wat jou by Tukkies wil gebruik. Danksy die vertrouensverhouding tussen my en die ander lid van BNI, het die vrou by Tukkies amper dadelik die vertrouensverhouding oorgeneem. Dit is net makliker as die ander mense jou vertrou, want dan kan hulle jou maklik na ander ouens toe verwys. ʼn Ander ding wat ook goed vir ons werk, is dat ek so twee jaar gelede begin belangstel het in domeinterreine. Ek het vinnig besef dit is ʼn besigheidsmodel op sy eie wat baie sinvol is en waarvan min mense weet. As jy net die regte domein koop, hoef jy nie baie te doen nie; jy kry baie navrae.

Ek wil aansluit by die domeinaankope – ek wil net ʼn paar Klipkouers waarsku dat Google jou hewig penaliseer as jy twee verskillende webwerwe het wat twee verskillende domeine het en die inhoud is dieselfde. So, vir elke nuwe domein wat jy aankoop, moet jy net seker maak dat al jou inligting herskryf word.

  • Wat is tans of histories ʼn groot pyn in jou besigheid?

Kliënte wat dink jy druk ʼn knoppie en dan spoeg die masjien binne in ʼn sekonde ʼn hempie aan die ander kant uit. ʼn Mens probeer almal help, maar dan is daar die mense wat net een of twee hemde wil hê en jy het dieselfde inset vir ʼn duisend hemde as vir drie hemde. Dis gewoonlik ook daardie ouens wat die moeilikste is met hulle drie hempies! Dan is daar ook die gewone ding van kontantvloei en hoe daar ʼn verskil is tussen besig wees en kontantvloei, of kontantvloei en jou banksaldo, maar solank ʼn mens saam met die regte mense werk, is daar altyd ʼn oplossing vir enige probleem.

Ek sê ook altyd jou sukses hang nie af van alles waarvoor jy “ja” sê nie; dis waarvoor jy “nee” ook sê en dit sluit in jou tipe kliënt of om te weet hoe daardie perfekte kliënt lyk en om die guts te hê om vir sekere kliënte “nee” te sê.

  •  Wat is die grootste besigheidsfout wat jy tot dusver gemaak het?

Verkeerde personeel. Ons ou skoolhoof van Witbank Tegnies het altyd van die “blou lemoene en die sakkie” gepraat. Hy het heeltyd vertel hoe een blou lemoen vinnig die hele sakkie gaan blou maak, “culture eats strategy for breakfast”, en dis vir my belangrik om die regte mense op die regte plekke te hê.

  • Hoe hanteer jy daardie oomblikke van onsekerheid en vrees?

Dit help om ʼn Christen te wees en dit help ook om maar ʼn bietjie kru werk te doen. Ek het nou al geleer die hoeveelheid bekommernis wat ek in ʼn probleem insit, het nog nooit regtig bygedra om die probleem op te los nie. Daar was nog altyd ʼn uitkoms en ek glo ook selfs al sou ʼn ou heeltemal vou, het ʼn mens daardie grondslag dat die Here vir jou sorg. Hy sal jou help deur enige probleem. Daarmee saam moet ek sê ek het regtig ʼn klomp goeie vriende wat al baie meer bereik het as wat ek in besigheid en in die lewe bereik het. Dis so goed om saam met sulke ouens te gaan koffie drink. ʼn Mens kan sommer net gesels, en as jy ʼn positiewe persoon om jou het, help dit baie en is regtig waardevol. Die ander ding is die besigheidsafrigter – mense besef nie hoe waardevol dit is om ʼn afrigter te hê nie. Hulle help jou al die pad.

  •  Watter sagteware of toepassings (apps) is vir jou baie waardevol? 

Ons het onlangs nogal redelik navorsing gedoen om boekhou- en kwotasiesagteware te kry wat ons spoed net soveel verbeter en ons het ʼn baie oulike pakket gekry met die naam Smartedge. Dit word in Suid-Afrika ontwikkel, so die lekkerte daarvan is dat dit plaaslike mense is met wie ʼn mens gesels en hulle het bitterlik vinnige en goeie reaksie op navrae. Hulle antwoord binne 12 uur, wat baie anders is as al die ander groot pakkette. Jy kan hulle ook bel en het boonop direkte toegang. Hulle doen ook ontwikkeling om jou eie behoeftes aan te spreek. Aangesien die hele boekhoustelsel vir ons belangrik is, het Smartedge ook ʼn opsie om jou items direk van die stelsel af op die internet te verkoop.  Dan is daar natuurlik sagteware wat ons borduurwerk doen en omdat 80% van jou borduurwerk afhang van jou ontwerp wat jy vooraf doen, het ons ook maar die lesse geleer toe ons begin het. Dit het ons byvoorbeeld aan die begin ʼn hele dag gevat om 27 hemde te borduur en dit was aanvanklik alles weens verkeerde ontwerpe. So, daardie borduursagteware is nogal vir ons baie belangrik.

  • Waar kry julle die sagteware?

Daar is ʼn paar pakkette. Ek vermoed dit is Amerikaans, maar ek sien daar is ʼn Australiese webwerf ook – Whirlcom. Dit is maar die beste van almal, en ons is ook nog op die ou Windows wat ons nog heeltyd gebruik – en dit werk.

  • Wat is jou gunsteling-aanhaling?

Allan Edgar – “Most people don’t get what they want because they don’t know what they want.” Doelwitte is ʼn droom met ʼn einddatum, so ons weet waar ons wil wees en dit verander deurentyd. Dan is daar nog een, “Reach for the stars, you might not get one, but you won’t end up with a handful of mud either”, en ʼn laaste een, “The fun happens outside your comfort zone”. Dis maar wat ʼn ou laat groei, want jou comfort zone is mos maar waar jy gemaklik is.

  • Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

My e-posadres is [email protected]. Wanneer hulle in Pretoria is, kan hulle my laat weet as hulle saam met my wil gaan kuier by BNI op ʼn Donderdagoggend.

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers, gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan Jooste ·

Voorspoed Mias. Baie inspirerende onderhoud. Illustreer waarde van network en besigheidsafrigting. Voorspoed.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.