[Entrepreneurskap] Die sakemodel, ’n bloudruk vir jou onderneming

dewald-pelser-klipkouers-03

Dewald Pelser. Foto: Verskaf.

Jacques Basson van Klipkouers het met Dewald Pelser, ‘n sakeman en stigter van die misterBA-podsending gesels. Pelser analiseer graag ondernemings om uit te vind wat maak dit suksesvol.

Vertel ons bietjie meer van jouself.

Ek bly tans in Harties, maar ek kom oorspronklik van Standerton, ʼn klein plattelandse dorpie in Mpumalanga. Ek het daar grootgeword, skoolgegaan en het nog altyd entrepreneurskap in my bloed gehad. My ouers was albei blouboordjiewerkers. My pa het vir Eskom gewerk en my ma was ʼn debiteureklerk.

Ek wou van kleinsaf al goed smous of worsbroodjies verkoop en het uiteindelik in ʼn kafee as kassiere gewerk. Dit was waar ek van my eerste sakelesse geleer het, al was dit in kleinhandel. Dit was ook waar ek bietjie meer gedink het oor klante en hoe mens sake doen en dit ontleed het, wat dit was vir my verskriklik interessant.

Na matriek het ek besluit om te gaan studeer, want dit was die tradisionele manier van doen. Ek het inligtingstegnologie met saketoepassings gaan studeer en sedertdien het ek nog altyd in Pretoria gebly. Ek het in die inligtingstegnologiebedryf beland en daarna  in projekbestuur, maar ek het toe meer aanklank gevind by sake-ontleding, wat ek nou al vir die afgelope agt jaar doen.

Ek het in my loopbaan nooit opgehou om entrepreneurskapboeke te lees en in alles wat met entrepreneurskap te doen het te volg nie. Ek het my eerste onderneming in die gesondheids- en fiksheidsbedryf begin net toe ek begin werk het. Ek wou graag mense help om “into shape” te raak en ek het ʼn “into shape”-domein geregistreer. Ek het groot idees daaroor gehad, maar dis ʼn onderneming wat net nooit van die grond af gekom het nie.

Gee vir ons ʼn opsomming van die tipe onderneming en bedrywe waarby jy betrokke is met jou eiendomsonderneming en natuurlik jou nuwe potgooi, Mister BA.

Ek het baie belanggestel in passiewe inkomste en so het ek begin met eiendomme waarin ek wou belê. Dit is ook hoekom my onderneming in eiendom gefloreer het, want ek wil graag weet hoe werk die proses, hoe werk die dinge, waarom belê mense. Ek wil nie luister na ʼn ghoeroe wat sê, “belê net hierso en dit gaan werk” nie, ek wil meer verstaan, ek wil dinge ontleed. Ek dink ook dit is hoe my potgooi en my ander onderneming uiteindelik ontstaan het, want ek wil meer weet van ondernemings. Ek wil weet hoe werk ʼn onderneming, waaruit bestaan dit en wat baie belangrik is met al die verskillende ondernemings, hoe maak dit geld, want jy kan niks doen as jy nie weet hoe ʼn onderneming geld maak nie.

Watter probleem los jou onderneming op?

Ek dink daar is soveel sake-afrigters in die afrigtersbedryf deesdae dat ek mense van sake probeer leer deur middel van praktiese voorbeelde. Daarom kry ek terugvoer van suksesvolle entrepreneurs in terme van hoe hulle hul ondernemings bedryf en dan ontleed ek dit. Ek dink die groot ding waarop ek fokus, is die sakemodel. Dit is die bloudruk van elke onderneming, nie jou sakeplan nie. Ons word geleer van die sakeplan en as jy ʼn onderneming wil begin, jy ʼn sakeplan móét opstel, maar vir my is dit belangriker om na die sakemodel en fasette waaruit dit bestaan, te kyk. Jy moet eintlik jaarliks daardie sakemodel hersien en seker maak jy is nog relevant in jou bedryf.

Wat maak jou onderneming anders as jou mededingers?

Ek het al my eie ondernemings begin en die gepaardgaande pyne daarvan beleef. Ek het ook al ʼn onderneming gehad wat gefaal het. Ek dink die feit dat ek nie net uit ʼn werk kom of uit ʼn franchise wat ek gekoop het nie, maar self al hierdie pyne beleef het, maak my onderneming anders. Mens kan hierdie goed nie akademies aanleer nie. Ek dink ʼn mens leer die beste wanneer jy iets self beleef. Iemand het eenkeer gesê die beste is om uit ander mense se foute te leer, want dan gaan jy eksponensieel verder.

Wie is julle teikenmark of ideale kliënt?

Ek verwys in Engels na die drie S’e. Ek het drie spesifieke segmente waarop ek fokus: the starting, the struggling of the stuck. Wat ek hiermee bedoel is: starting is die ou wat begin, hy wil graag van korporatief oorgaan na sy eie onderneming, of hy is selfs ʼn student wat nie werk kan kry nie en hy wil sy eie ding doen. Daar is ʼn spesifieke kopskuif en ʼn paar goed wat jy moet deurgaan in terme van sake. Dan is daar ook die struggling ouens, wat klaar hulle ondernemings het, maar net nie vooruit gaan nie. Hy maak wins, hy het alles, maar hy werk heeltyd IN sy onderneming en nie AAN sy onderneming nie en dís die ouens waarop ek fokus. Die laaste een, die ouens wat stuck is, is diegene wat al ʼn redelike groot onderneming het en nie weet hoe om na die volgende vlak te beweeg nie, of hy het dalk net bietjie aanwysings nodig in terme van wat moet hy doen om eksponensieel die volgende vlak te bereik en óf hy daardie volgende vlak wil bereik.

Wat is die grootste sakefout wat jy tot dusver gemaak het en wat het jy daaruit geleer?

Toe ek vier jaar gelede my eiendomsagentskap begin het , het ek hierdie onderneming saam met vriende begin en ek dink dit was my grootste fout. Wat baie belangrik is as jy ʼn onderneming saam met vriende begin, is om kontrakte in plek te kry. Dis nie dat ʼn mens nie die vriend vertrou nie, maar as jy die regskontrak in plek het en dit is altyd daar, is dit net soveel beter vir beide partye as iets dalk verkeerdloop en dan is daar iets om op terug te val en kan mens net na die kontrak verwys.

Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?

In terme van bemarking het die speelveld baie verander en ek wil sê al my tyd en geld word aan digitale bemarking bestee. Dit sluit in sosiale mediabemarking, e-posbemarking en ook Google Adwords. Alles wat ek dus tans doen, is net gefokus op digitale bemarking.

Met e-posbemarking is dit belangrik dat jy met iemand kontak hou en hom as mens aanspreek. Dis ook baie belangrik in terme van jou handelsmerk en veral as jy by die persoon is, om te praat soos jy is, soveel so dat as jy daardie persoon in lewende lywe ontmoet, jy amper kan sê dis asof ek jou reeds ken en dat jy weet wat jy is. Dis daardie vertrouensband wat jy met die persoon vorm. As jy dus enigiets aanbeveel, sal hulle dit graag by jou koop, want jy het reeds daardie vertroue by die persoon geskep.

Wat is tans of histories ʼn groot pyn in jou onderneming?

Veral omdat ek my onderneming wil outomatiseer en sekere fasiliteite wil uitkontrakteer, vind ek dit baie moeilik om vryskutwerkers te kry vir projekte en spesifiek wat in my eie tydsone is. Ek weet van Upwork en Fibre en ʼn paar van die ander wat oorsee is, maar daar is nie baie Suid-Afrikaners wat ek kan gebruik nie. Dit is net ʼn ander manier hoe ons met Suid-Afrikaners werk en dit is lekker om vinnig op ʼn foon te spring of met  Skype te kommunikeer. Ek dink daardie taalversperring is partykeer die probleem en mens wil nie altyd net deur e-pos met iemand kommunikeer nie, mens wil dalk net vinnig vir iemand ietsie sê en ek dink dit is waar die tydsone ʼn probleem vir my is.

Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

Die maklikste is om na my webblad te gaan: www.misterba.com en daar sal hulle alles vind in terme van my sosiale mediablaaie en ook hoe om met my kontak te maak.

Die meeste van die Klipkouer-gehoor is entrepreneurs. As julle dus na my webblad toe gaan en  /klipkouers intik, sal ek vir julle ʼn paar hulpbronne en gratis aflaaibare e-boeke bied wat julle spesifiek vir sake kan aflaai.

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jou marksegmente ·

Dewald, ek hoop jou goeie boodskappe gaan soos n veldbrand deur die land sprei want ons kort baie meer entrepreneurs. Ek het nog n mark vir jou: mense wat nog nie begin het met n onderneming nie maar wat n idee in hulle agterkop het, of wat wel soveel moontlik van entrepreneurskap wil leer vir as hulle wel eendag sou besluit om die groot stap te neem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.