[Entrepreneurskap] “Ek is opgewonde oor die toekoms”

klipkouers_magdaleenJacques Basson gesels met die entrepreneur Magdaleen Kleynhans, eienaar van Senbel, wat sy vier jaar gelede begin het nadat sy, haar man en kinders hulle in Orania kom vestig het. Senbel fokus daarop om telefoniese dienste in Afrikaans te lewer.

  • Vertel ons ʼn bietjie meer oor jouself

Ek is 35 jaar gelede in Pretoria gebore en is die oudste van ses kinders. My ouers het nie genade gehad nie en het altyd gesê as jy klaar is met skool, moet jy verder studeer. Ek het, nadat ek eers ʼn jaar in Duitsland was, onderwys studeer. Dit was toe nie so lekker nie en ek het besluit om sielkunde te studeer. Daarna het ek myself by Solidariteit bevind, waar ek as ʼn kommunikasiebeampte begin werk het. Ek was ook nou betrokke by bemarking en het in daardie tyd besigheidsadministrasie deur Unisa studeer en na sewe jaar het ek en my man besluit om ons op Orania te kom vestig. Ek het Senbel vier jaar gelede begin en ons doen baie goed. Ek geniet elke oomblik daarvan.

  • Watter probleme los jou onderneming op?

Daar is ʼn paar probleme, maar die onmiddellike probleem is natuurlik telefoniese diens in Afrikaans. Suid-Afrikaners weet dit is baie skaars, want as ʼn telebemarker jou bel, is dit gewoonlik in Engels. Ons Afrikaanssprekende mense verkies om met ʼn Afrikaanse mens te praat en daar is hier en daar ondernemings wat dit oorweeg. Dit gebeur egter baie selde en daarom los ons hierdie probleem op. In die gemeenskap los ons ʼn werkskeppingsprobleem op, hoewel daar nie in Orania ʼn werkloosheidsprobleem is nie, maar vir ons vrouens is dit lekker om te werk waar ons tuis voel.

  • Wat maak jou anders as jou mededingers?

Ek dink aangesien my onderneming klein is, het ons sekere goeie kenmerke, soos ʼn ander soort verhouding met ons kliënte. As jy kyk na ʼn onderneming met tweeduisend agente is, is die agente net nommers en jou kliënte ook maar net nog ʼn kliënt wat ʼn verslag moet kry en aan wie data deurgegee word. Wat ookal aan die anderkant uitkom, is maar net nog ʼn kliënt, maar by Senbel is dit belangrik om ʼn goeie verhouding met elke kliënt te hê, omdat ons voortbestaan daarvan afhang. Ek het ook ʼn baie lekker kultuur onder my werknemers gevestig en ons gee baie om vir mekaar; dis nie iets wat jy by groot ondernemings kry nie.

  • Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?

Tans groei Senbel baie vinnig en ek doen nie juis veel om nuwe kliënte te werf nie. Ek probeer eerder om my bestaande kliënte te behou en meer werk vir hulle te doen sodat dit vir hulle sinvoller kan wees. Dit het al gebeur dat geleenthede op my pad gekom het waar ek iemand genader en ʼn probleem of leemte in hul besigheid uitgewys en dan met ʼn oplossing vorendag gekom het. Ek dink as jy ʼn kliënt nader en die probleem identifiseer en ook met ʼn oplossing kom, gaan hy net baie meer geneë wees om besigheid na jou kant toe te skuif.

  • Is daar spesifieke sektore wat meer oproepe benodig; wat dryf jou bestaande kliënte?

Ek dink dit is hul behoefte wat groei. My hoofkliënt is die Solidariteit-beweging, wat natuurlik ʼn lede-organisasie is en wat daarna streef om meer lede te kry. My sakemodel is dan ook om uit hul databasis vir myself nuwe data bymekaar te maak en as húlle groei, groei my onderneming én hulle ook verder en dit is dus ʼn wen-wen situasie.

  • Dit is dus uit en uit ʼn sirkel wat voltooi word, nè? Die ontginning van daardie data is baie krities?

Ja, dit is baie belangrik. Data is baie duur en ons weet almal hoe skaars data is met nuwe wetgewing. Dit is nie meer so eenvoudig om data te kry nie en daarom is dit ʼn baie bekostigbare manier van data insamel as jy dit reg aanwend.

  • Julle het ook via die telefoonantwoorddiens vir klein sakeondernemings iets in die pyplyn in terme van die moontlike bykomende agterkantoorondersteuning. Hoe lyk die dinge daar?

Dit is iets wat nou baie mooi vorm aanneem en die rede waarom ek besluit het om nie noodwendig my fokus daarheen te verskuif nie, maar dit eerder deel van die onderneming te maak, is omdat ʼn mens met mense sit wat nie altyd bemarkers is nie. Hulle is egter gretig om te werk, het ʼn goeie telefoonstem en goeie menseverhoudinge. Hulle is nie werwers nie, maar mens wil graag vir so iemand ook iets bied en die perfekte diens wat so iemand kan aanbied, is om telefoonantwoorddiens te doen. So iemand kan vriendelik die foon antwoord en ʼn probleem oplos, ʼn boodskap neem en dit vir die regte persoon aanstuur en dan ook ʼn verhouding met daardie kliënt opbou. Ek het al drie kliënte wat nou hierdie diens probeer en sover gaan dit baie goed. Ek is dus opgewonde oor wat die toekoms in daardie verband inhou.

  • Wat is tans of histories ʼn groot pyn in jou onderneming?

Dit is nou om te kla met die wit brood onder die arm! Groei is tans nogal ʼn probleem omdat ʼn mens graag wil groei, maar daar is soveel ander goed wat ook moet groei en wat nie noodwendig saam met jou onderneming groei nie, soos byvoorbeeld die gebou waarin ek is, is nou te klein. Om ʼn nuwe perseel te kry is nogal ʼn kopseer en ʼn nuwe gebou moet dus opgerig word en dis ʼn paar rand waarvan mens praat! Verder is daar ook telefoonstelsels wat aangepas moet word en geld kos. Dit is dus die hele tyd ʼn opweeg teen mekaar om vas te stel wat die belangrikste is en wat eerste aandag moet geniet. Maar dit is ook ʼn lekker kopseer en ewe lekker uitdaging en is maar deel van entrepreneur-wees om elke dag met daardie uitdagings te sit.

  • Wat is die grootste sakefout wat jy tot dusver gemaak het?

Om nie aandag te gee aan dít wat regtig aandag nodig het nie. Ek is nie baie sterk op vooraf-organiseer nie en ek is ook nie administratief baie effektief nie. Wat ek dus uit die verlede se foute geleer het, is om iemand te kry wat goed is daarmee en dit nie as ʼn bedreiging te sien nie, maar eerder met altwee hande aan te gryp en daardie mens toe te laat om daardie deel van die besigheid goed en reg te doen. Dis ook nodig om op so iemand staat te maak. Ek het in ʼn stadium, veral wat finansies aanbetref, klei getrap. Mens het jou boekhoustelsel wat altyd moet klop en op datum moet wees en mens skeep daardie soort goed af. Dan kom jy dit agter as dit reeds te laat is en dan moet iemand anders ingryp en orde bewerkstellig. Ek is baie geseënd met goeie personeel wat my daarmee help en as ek terugkyk kan ek myself skop omdat ek dit nie vroeër gedoen nie!

  • Hoe hanteer jy daardie oomblikke van onsekerheid en vrees?

Bid en bid en nogmaals bid! Ek is gelukkig ʼn baie rustige mens en dit verg nogal baie om my onseker te maak, soos daardie gevoel wat jou heeltemal lam maak. Maar die dag as dit gebeur, weet ek nou is dit tyd om terug te gaan op my knieë en dit maak mens sommer baie rustiger. Ek het ook geleer om in sulke tye neer te skryf wat my pla en die oomblik as ek dit doen, dan sien ek as ek hierdie lysie goed teen daardie tyd kan doen, is dit glad nie so erg nie en dan raak ek ook onmiddellik rustig en kan ek doelgerig my probleem aanpak.

  • Ek het ook ʼn gewoonte om te skryf en ek dink dit help eerstens om hierdie gedagtes uit jou kop te kry. Ek het ook ʼn belangrike ding aan die begin geleer dat mens daardie “worst case scenario” moet definieer. Soms is jy bang vir iets, maar jy weet nie eintlik wat dit is nie en die oomblik as jy dit kan definieer, kom jy agter sekere goed is nie die einde van die wêreld nie.

Ek het ʼn boek Hou op bekommer en begin leef en die skrywer het gesê wanneer jy in ʼn benoude situasie is, moet jy net vir jouself vra wat is die ergste wat kan gebeur en raak dan rustig, want is dit nou regtig so erg? Niks kan regtig so erg wees nie. Dan wil ek ook sê moenie wakker lê nie. As jy halfvier in die oggend wakker word en nie meer kan slaap nie, staan op en doen iets konstruktiefs. As jy eerder opstaan en daardie probleem aanpak, raak jy ook rustiger.

  • Watter sagteware of toepassing is vir jou baie waardevol?

My iPhone wat alles kan doen. Dit is ook lekker as al jou werknemers dieselfde programme as jy op hulle fone gebruik. Dit maak dit net baie makliker om met mekaar te kommunikeer en jou lysies te maak en mekaar te herinner aan dinge.

  • Wat is jou gunsteling aanhaling?

George Bernard Shaw – “Life isn’t about finding yourself, life is about creating yourself” en dan wil ek ook sê “alles is net genade, alles is net geleen”. Mens moet daardie uitgangspunt in die lewe hê dat die lewe jou niks skuld nie, maar wees dankbaar vir dít wat jy het.

  • Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

E-pos: [email protected]

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers, gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ben Niemand ·

Gelukkig maak dit nie aan my ‘n verskil of hulle my in Engels of Afrikaans bel nie. My foon blok outematies telefoon bemarkings nommers. Het dit glad nie in my lewe nodig nie, dankie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.