[Entrepreneurskap] Finansiële onafhanklikheid

hannes-dreyer-klipkouers

Foto: Verskaf.

Jacques Basson, eienaar van Klipkouers, gesels met Hannes Dreyer en in hierdie onderhoud vertel hy hoe hy mense help om finansieel onafhanklik te word.

Vertel ons ʼn bietjie meer van jouself:

Ek is 59 jaar oud, in Pretoria gebore en het die eerste paar jaar hier grootgeword. My pa is dood toe ek sewe jaar oud was, so ons het redelik baie rondgereis. Ek het my eerste besigheidjie op die ouderdom van tien begin, maar dit het ongelukkig volgens my ma ingedruis met my huiswerk en ek is toe koshuis toe. So vier maande nadat ek in die koshuis begin bly het, het ek my tweede besigheidjie begin. Ek het matriek ordentlik gepluk omdat ek geen belangstelling hoegenaamd in skool gehad het nie. My ma het toe gesê ek beter teruggaan en ten minste my matriek klaarmaak, wat ek toe gedoen het, en dié keer het ek darem geslaag, al was dit met E’s en F’s. Ek het ongelukkig ook universiteitsvrystelling gekry, so toe sê sy vir my ek moet nou maar universiteit toe gaan, want anders gaan ek nie ʼn werk hê nie; dieselfde stories wat hulle vandag nog vertel. Maar in my derde semester van my eerste jaar op universiteit, kom ek toe agter hierdie storie is ʼn pot dinges, hierdie professore praat oor goed waarvan hulle nie ʼn clue het nie. Hulle weet nie hoe om geld te maak nie en dis waarom hulle professore is. Net daar het ek toe besluit ek gaan my eie paadjie volg en sien wat gebeur. So is ek polisie toe, en van die polisie af het ek my besigheid begin wat nie gewerk het nie. Ek was toe nie so slim as wat ek gedink het nie.

Ek het ʼn klomp soorte werk gehad wat nie een vir my gewerk het nie totdat my lewe in ’82 verander het. Ek het ʼn boek gelees deur Og Mandino, The Greatest Secret in the World. In daardie stadium wou ek baie graag weet hoekom sekere mense ryk en suksesvol word en ander nie, en een gedeelte in daardie boek het my lewe verander en dit was: “I’m not on this earth by chance, I’m here for a purpose, and that purpose is not to shrink into a grain of sand but to grow into a mountain, and henceforth I apply all my efforts to become the highest mountain of them all, by straining my potential until it cries for mercy.” So, alles het toe begin gebeur omdat ek ʼn denkverandering gehad het. Jy weet, ʼn ou dink dit is skills wat jy nodig het, maar dit het niks daarmee te doen nie. Jou innerlike spel is 90% van jou sukses en dit het ek gelukkig op ʼn baie jong ouderdom uitgevind. Ek was so ʼn bietjie ouer as 24 toe dit gebeur het – drie weke later het ek my vrou ontmoet, drie weke later het ek haar gevra om te trou en hoewel sy nie dadelik ja gesê het nie, is ons in Julie daardie selfde jaar getroud. Dit beteken ek is nou so 34 jaar getroud, en dit was die beste besluit wat ek ooit geneem het!

Ek het toe begin werk as versekeringsagent, ʼn gewone agent, en toe het ek die UMPA-kwalifikasie bekom, wat beteken dat ek ʼn gesertifiseerde finansiële beplanner was. In daardie tyd het ek ook agtergekom: My magtig, maar dit wat hulle vir my leer en dit wat ek glo, is allesbehalwe die waarheid as dit kom by rykdom en by vryheid. In ’87 het my lewe toe weer verander toe ek daardie “deurbraak” gemaak het en as gevolg daarvan kon ek op 37 aftree.

Op 42 sê my vrou toe vir my ek kan nie net by die huis sit en niks doen nie, want ek het begin depressief raak. Ek wil amper sê die heelal het my laat weet ons is nie gemaak om niks te doen nie, ons is daar om mekaar te help en om by te dra. My vrou het vir my gesê om vir die ouens dít wat ons gedoen het te leer sodat hulle nie soveel hoef te sukkel nie, en dit is presies wat ek gedoen het. Jy sal nie glo nie hoe ek dit geniet nie, dit is vir my ʼn ongelooflike voorreg om dit te kan doen.

Gee ons ʼn opsomming van die tipe besigheid en bedryf waarin jy betrokke is:

Op die oomblik gee ek opleiding. Ek bedryf die Wealth Creator’s University, waarvan ek ook die stigter is, maar ek het seker so 52 verskillende besighede en die meeste van hulle is op die internet gesetel. Ek wil amper sê 80% van hulle gaan in hierdie stadium oor opleiding. Die rede hiervoor is omdat ons met ʼn massiewe probleem sit. Mense kry opleiding, maar dit is die verkeerde opleiding; hulle kry opleiding aan die universiteite van hierdie slim ouens en selfs die dekselse slim ouens weet nie hoe om geld te maak nie. Hulle word prehistoriese inligting geleer wat nie regtig nou meer van toepassing is nie. En hulle leer nie vir ons hoe besigheid en beleggings werk nie.

Al is ek ʼn gesertifiseerde finansiële beplanner het selfs ék nooit geleer hoe om my geld vir my te laat groei nie, maar die kenners het my wel geleer wat hulle produkte is, hoe om in hulle produkte te belê en hoe om kommissie te maak uit hulle produkte. Tog het niemand vir my gewys dat dit moontlik is om ʼn miljoen persent groei op jou geld binne die eerste jaar te kan kry nie, of om eiendomme verniet te kan aankoop en oneindige groei daarop te kry of ʼn gewaarborgde 60% nie – daardie tipe van goed. Niemand leer jou so iets nie en jy’s maar oorgelewer aan jouself om hierdie goed te ontdek. Ek was gelukkig genoeg om dit redelik vroeg te kon uitvind.

Watse probleem los die besigheid op? Ek dink jy’t nou reeds daaraan geraak wat betref hoe mens geld maak, maar wat is daar nog? Gee ons ʼn bietjie meer vleis.

As jy gaan kyk na ʼn besigheid, enige besigheid, is dit ʼn belegging. Ek sien dit nie as ʼn besigheid nie. Die meeste ouens kyk na ʼn besigheid, en die enigste rede hoekom hulle daardie besigheid het, is om te oorleef, maar as jy net oorleef gaan jy nooit floreer nie. Jy moet daardie besigheid heeltemal uit ʼn ander hoek benader.

Daar is net twee maniere hoe jy finansieel onafhanklik kan raak. Die een is deur middel van ʼn besigheid, ʼn belegging in jou besigheid, en die ander een is ʼn belegging in beleggings. En van die beleggings in beleggings is daar net een soort wat ek aanbeveel en dit is eiendomme.

So, as jy gaan kyk na die probleem wat ek oplos, dan is daar, ek wil amper sê, ʼn massiewe sielkundige probleem. En daardie sielkundige probleem is die innerlike spel wat ons speel en wat uiteindelik jou uitkoms in jou lewe bepaal. Ons probeer almal spesifieke vaardighede aanleer, jy weet, hoe om ʼn besigheid te bedryf, hoe werk ʼn besigheid, wat is die vaardighede wat jy moet leer op die verskillende vlakke, maar daardie goed gaan niks beteken as jy nie daardie innerlike spel bemeester het nie. Die probleem wat ons dus oplos, is armoede, onkunde, desperaatheid en wanhoop. Ek leer mense die geheime van die sisteem. Dis ʼn resep, jy moet dit volg, jy kan nie kortpaaie vat nie. Daar bestaan nie so iets soos ʼn kortpad nie. Jy moet daardie kundigheid, daardie vaardigheid, daardie bevoegdhede kan opbou. So, die kern van ons besigheid is dat ons mense help om vry te word.

Wat maak jou besigheid anders as jou kompetisie? Maar nou wil ek ook vir jou vra, hét jy enigsins kompetisie in die tradisionele sin van die woord met dit wat jy doen?

Daar is baie kompetisie. Jy weet, elke ou wat ʼn coach is en elke ou wat ʼn mentor is en elke ou wat opleiding gee, is in sekere mate my kompetisie, maar indirek sien ek dit nie regtig as kompetisie nie, ek sien dit as enorme geleenthede. Hierdie ouens doen tipies wat jy met ʼn MBA-tipe ding gaan doen, of hulle word geleer hoe om ʼn besigheidsafrigter te word deur ʼn ander ou wat ʼn besigheidsafrigter met ʼn MBA-kwalifikasie is. Met ander woorde, die probleem raak eintlik net erger in die proses, want die ouens weet nie hoe om die regte resultate te verkry nie. So, ons kyk doodeenvoudig net na resultate, en ek dink dis wat ons goed anders maak. As jy na my webwerf gaan en kyk na hoekom sê ek ons doen goed en ek is onder die beste in die wêreld, dan kan jy gaan kyk na die resultate wat my studente bereik.

Dit is die eerste ding. Die tweede ding is dat ek eers gaan aftree het; met ander woorde, ek het nie ryk geword omdat ek hierdie goed verkoop nie. As jy ʼn goeie verkoopsman is, dan kan jy skatryk word deur hierdie persoonlike ontwikkeling, maar ek het kláár afgetree. Ek het sewe jaar afgetree voor Tanja vir my gesê het ek moet vir ander mense gaan vertel van hierdie sisteme wat ek gevolg het. Ek was toe reeds finansieel onafhanklik. Maar toe ek finansieel onafhanklik geraak het, was die digitale lewe soos ons dit nou ken nie daar nie. Aan die een kant is dit deesdae baie makliker, maar aan die ander kant is dit tien keer moeiliker, want die ouens verleer, of hulle vergeet, van die fundamentele goed. En as jy die grondbeginsels nie onder die knie het nie, kan jy al hierdie tegnieke wat jy op die internet gebruik, gaan toepas en niks sal werk nie.

Wie is julle teikenmark of ideale kliënt?

Ek het baie spesifiek besluit op die middelklas. As ek sê die middelklas dan bedoel ek die ou wat ʼn werk of beroep het en hy verdien enigiets tot so R600 000 per jaar, maar hy’s nie werkloos nie. Dit is my teikenmark, want dit is die ou wat die grootste probleem het. Dit is die ou wat gemelk word deur die sisteem. Dis hierdie ou wat ongelukkig 99%, wel, amper 99%, van die kere in ʼn werk vasgevang is. Jy weet, as jy jou eie besigheid het en jy maak nie R600 000 uit daardie besigheid nie, is jy in daardie besigheid vasgevang, want dit is vandag net te duur om te oorleef. En dit beteken as jy sukkel om by R600 000 uit te kom, dan sukkel jy binne jou besigheid, want jy’s nog nie op vlak vyf, ses, of sewe nie.

So, eintlik werk jy maar net vir die besigheid. Hoewel jy sê jy’t jou eie besigheid, het jy nie die dekselse besigheid nie; jy’s die slaaf van daardie besigheid, want as jy nie daar is nie, dan stop alles. Dit is dus die ouens wat my teikenmark is.

Die ander deel van my teikenmark is die ou wat verstaan, wat bereid is om verantwoordelikheid te neem, want daar’s baie ouens in hierdie kategorie wat nooit in sy lewe verantwoordelikheid sal neem nie. Hy wil graag meer geld hê, maar hy’s nie bereid om enigiets meer te doen vir meer geld nie. Hy is nie my teikenmark nie, my teikenmark is die ou wat bereid is om volle verantwoordelikheid te neem om uit hierdie gemors, ek wil amper sê hierdie rotresies van ʼn lewe, te kom sodat hy finansieel vry kan word in ʼn baie kort rukkie. Dit beteken nie hy staak sy werk nie, want dan neem jy risiko’s. Dit beteken doodeenvoudig jy neem verantwoordelikheid om bykomend jou kundigheid op te bou ten opsigte van jou belegging sodat daardie belegging vir jou só kan groei dat jy binne ʼn jaar of twee genoeg kennis het om te sê oukei, nou stap ek weg van hierdie werk wat ek het of nou is ek ten minste op ʼn vlak vyf in my besigheid.

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kaufman ·

Ek sien altyd baie uit om klipkouers te lees maar vandag se besigheid vertrou ek niks. Geen waarde aan formele opleiding, gou ryk word, produk wat soos n skema klink en nie duidelik kan beskryf word nie…

Koffiekapitaal ·

Sodra iemand spog met hoe vroeg hulle kon aftree en hoe baie geld hulle maak hol ek weg voor my geld weg hol.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.