[Entrepreneurskap] Jou passie op ’n T-hemp

michiel-els-klipkouers

Michiel Els. Foto: Verskaf.

Michiel Els bedryf ʼn nisbesigheid waardeur hulle interessante T-hemde verskaf. Die besigheid se naam is Patriot Apparel, en hulle probeer om dít waaroor jy regtig passievol is op ʼn T-hemp vas te vang.

Vertel ons so ʼn bietjie meer van jouself.

Ek is ʼn prokureur van beroep en spesialiseer in internasionale belasting. Ek woon tans in Johannesburg. Ek is getroud en het twee wonderlike kinders. Ek het grootgeword in Pretoria en ook daar geswot.

Gee ons ʼn opsomming van die tipe besigheid en bedryf.

Ons is in die T-hempbedryf waarin ons nis-T-hemde maak. Soos ek vroeër gesê het, gaan dit oor die T-hemde waaroor jy passievol is; miskien iets oor jag as jy ʼn jagter is, of fietsry, natuurbewaring, visvang, of boogskiet. Dis tans die tipe T-hemde wat ons het en kan verskaf. Ons ontwerp die T-hemde self en dan plaas ons die ontwerp op ʼn T-hemp van goeie gehalte en bemark dit.

Watse probleem los die besigheid op?

Ons het gevoel daar is ʼn tekort in die mark aan spesifieke goed waaroor jy passievol is. As jy passievol is oor jag, is daar miskien net een of twee tipe T-hemde wat jy daarvoor kan koop, maar die gehalte is nie altyd goed genoeg nie. Ons het dus spesifiek gekyk na waarby mense aanklank gaan vind – iets waarop jy trots sal wees om te dra. Dit is ook uniek. Die gehalte van die hemde is ook belangrik, want jy wil nie iets hê wat ná twee of drie keer uitwas nie. Ons het lank navorsing daaroor gedoen om op die regte gehalte te besluit wat ons gaan gebruik vir ons T-hemde. Dan is daar ook die drukproses wat op die T-hemde gebruik word. Ons het probeer om die heel beste drukproses te vind en dit is digitaal – dit word nie afgestryk en afgewas nie, wat beteken die lewensduurte van die T-hemp is net soveel langer as ʼn normale T-hemp wat óf rek óf die drukpatroon daarop word afgewas.

Wat maak julle anders as julle mededingers?

Dit is nie vir my belangrik om derduisende T-hemde te verkoop nie. Vir my gaan dit eerder daaroor dat iemand graag hierdie hemde wil hê, en ek wil graag hê hy moet dit dra. Wat vir ons verblydend is, is dat almal wat T-hemde het, terugkom om nog te koop. Dus, die T-hemp dra lekker en hulle hou van wat hulle sien. Dis beslis bietjie anders as die T-hemde wat tans op die mark is. Een van ons suksesvolste hemde is die jag-T-hempies waarop staan, “I eat kudu”. En as jy daaroor dink; dit is sommer maar net ʼn sêding, maar die mense voel regtig trots om te kan sê: eerstens, hy is ʼn jagter, en tweedens, hy hou van wildsvleis.

Wie is julle teikenmark of ideale kliënt?

Dit is tans enige man, vrou of selfs kind wat passievol is oor hulle stokperdjie. Daar is dus nie juis iemand wat ons spesifiek as kliënte teiken nie.

Wat is die grootste besigheidsfout wat jy tot dusver gemaak het?

Die grootste een waaraan ek vinnig kan dink, is dat ons lank gesukkel het om die regte verskaffers te vind wat die regte gehalte bied. Ons moes dit ook verskeie kere oordoen en amper van voor af begin. Die grootste fout, dink ek, is om nie jou huiswerk deeglik vooraf te doen nie.

Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?

Ons produk is tans in twee winkels beskikbaar – een in Bloemfontein en een in Wolmaransstad, en dan meestal op die internet waar mense aanlyn kan bestel. Ons bemark ook via Twitter, Facebook en Instagram. Ons is besig met ʼn katalogus wat ons graag na meer winkels toe wil neem sodat hulle kan besluit of hulle die produk in hulle winkel wil hê. Ons het gevind baie winkels vra daarvoor, maar soos ek sê, wil ek die uniekheid daarvan behou; ek wil nie regtig hê dit moet in enige winkel soos elke ander T-hemp beskikbaar wees nie. Daar moet altyd daardie iets nuuts wees waarin mense kan belangstel.

Wat is tans of histories ʼn groot pyn in jou besigheid?

Vir my is dit die feit dat jy ʼn idee in jou kop kry oor ʼn spesifieke T-hempie of ʼn ontwerp wat jy graag op ʼn T-hemp wil doen, maar die probleem duik dan op dat daar ʼn lang oponthoud by die ontwerpers en daarna ook by die drukkers is. Dit kan tussen ʼn maand en ses weke duur voordat ek die eindproduk in my hande kan hou. Ek wil graag hê dit moet vinniger gaan.

 Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

Ek is altyd beskikbaar per e-pos: [email protected].

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.