[Entrepreneurskap] Kreatiwiteit, innovering bied yslike voorsprong

deon-roux-dry-ice

Deon Roux is die eienaar van Dry Ice International. Foto: Facebook.

Onthou jy hoe jy as kind ure met droë ys kon speel? Wel, Deon Roux het nooit sy kleintyd-bekoring met droë ys afgeskud nie en bedryf tans Suider-Afrika se grootste droë ys-fabriek in Pretoria. Hy vertel meer van die sakeaspek van dié fenomeen.

In hierdie episode fokus ons meer op die Klipkouer se onderneming.

Hallo Klipkouers, ek is Deon Roux, eienaar van Dry Ice International. Ons het ʼn fabriek in Silverton, Pretoria, en ons versprei droë ys dwarsoor Suider Afrika.

Vertel ons ʼn bietjie meer oor jouself

Ek is in Pretoria gebore, het grootgeword in Kempton Park, is daarna weermag toe en toe na Tukkies, waar ek meganiese ingenieurswese studeer het. Na my studie het ek by ʼn chemiese maatskappy in Germiston begin werk – SentraChem. Ek was vir vier jaar daar en het onder meer optimisering gedoen. Daar het ek ʼn bietjie geleer van droë ys en gesien daar is ʼn gaping in die mark. Ek en ʼn vriend wat ek daar ontmoet het, ʼn chemiese ingenieur, het besluit ons gaan droë ys in Pretoria vervaardig en dan meer na die noorde toe versprei. In 1994 het ons albei pakkette aanvaar en die onderneming hier begin. Dis nou 22 jaar later, en ek het hom sowat 12 jaar gelede uitgekoop en is nou alleenbesitter van die onderneming.

Gee ons ʼn opsomming van die soort onderneming en bedryf

Net so vir interessantheid, droë ys is maar koolsuurgas, CO2, en dis wat jy in jou normale koeldranke kry, en ook in bier en sjampanje. Dis ʼn natuurlike gas in die atmosfeer. Ons kry ons CO2 van Afrox wat dit weer by Sasol kry. Sasol maak ammoniak en dan gooi hulle die CO2 weg, Afrox vang dit op en omskep dit in ʼn vloeibare vorm sodat dit na ons toe vervoer kan word. Wat ons doen is om dit in droë ys om te sit en dan versprei ons die  soliede vorm dwarsoor Suider Afrika. Droë ys is baie koud – minus 80 °C!

Watter soort probleme takel jou onderneming?

Temperatuurprobleme is loshande ons grootste ding. Elke internasionale vlug uit die land het kos op, en daardie kos moet koud gehou word. Die trollie wat op en af in die gang gestoot word as die lugwaardinne jou bedien, het ʼn klomp koeldranke en drank in. Daar is ʼn dun laaitjie bo-op en in daardie laaitjie word daar droë ys ingepak en dit hou alles koud. Verder is ons ook betrokke by uitvoere. Suid-Afrika voer baie vleis en kos uit en dit moet koud gehou word. As die kratte op Heathrow-lughawe getoets word en dis nie onder 7 °C nie, gooi hulle eenvoudig alles weg. Vrieskaste is te swaar, so droë ys is ʼn metode om koud te maak sonder om ʼn eksterne kragbron te gebruik.

Voorsien jy nog meer aanwendings vir dié produk?

Droë ys het die afgelope 20 jaar ʼn hele ent gekom vanwaar dit destyds tipies geassosieer is met die roomyskarretjie en ander straatverkopers. Maar droë ys is ʼn fenomenale produk – dit word byvoorbeeld in die ingenieursbedryf gebruik en ons het selfs drie nuwe brands geskep: Dry Ice for Engineering, waarin droë ys in plaas van die baie gevaarlike stikstof gebruik kan word as jy byvoorbeeld koeëllaers op ʼn as wil inpas; Dry Ice for Emergencies, vir wanneer die krag in ʼn omgewing afgaan en die inhoud van vrieskaste binne vier of vyf uur begin ontvries (ons kan binne ʼn uur of twee droë ys in Gauteng aflewer, wat sowat 24 tot 48 uur se gemoedsrus waarborg); en Dry Ice for Leisure, ideaal vir kampeerders. Kom ons sê jy gaan vir ʼn naweek weg en jy pak jou koelhouer vol gevriesde vleis. Dan sit droë ys bo-op en die vleis gaan gevries bly vir vyf tot tien dae. Of anders kan jy ʼn tydelike yskas bewerkstellig deur droë ys onder in te pak, dan ʼn lagie yswater en dan pak jy jou kos en drank in. So jy het ʼn koelhouer met ʼn vrieskas aan die onderkant en ʼn koelhouer aan die bokant. Daar is dus wye toepassings. Teen -80 °C is droë ys ongeveer sewe keer sterker as gewone ys van -10 °C, maar die grootste voordeel is dat daar geen water is wat kan verdamp nie – of sublimeer, die wetenskaplike term – dit verdamp sommer in die vorm van ʼn gas.

Wat maak jou onderneming anders as dié van jou kompetisie? Dit klink vir my julle is baie gediversifiseer in die aanwendingsgedeelte van die produk?

Wat ons anders maak is ons kreatiwiteit en innovering. Ons is voortdurend besig om met nuwe aanwendings vorendag te kom.

Wie is julle teikenmark of ideale kliënt?

Ek het vroeër versuim om een ding te noem, en dis ʼn tweede deel van ons onderneming wat ook eintlik deel is van ons teikenmark – Dry Ice Blasting of ʼn skoonmaakproses met behulp van droë ys. Ons pars die droë ys in ʼn korreltjie wat soos rys lyk. Dis baie grof en hard en jy gebruik dit presies soos wat jy sandblasting sal gebruik. Dis ʼn industriële droogskoonmaakproses sonder die aggressiwiteit van sand. Hiervoor is my ideale kliënt die elektriese bedryf.

Wat is die grootste sakefout wat jy tot dusver gemaak het en wat het jy daaruit geleer?

My grootste fout wat ek gemaak het is dat ek ʼn fabriek gehad het wat vervaardig het, so ʼn mens het vervaardigingstoerusting nodig. Ongelukkig het ek tipies op ons boere-manier gaan goed bou en bymekaargesit, en ouer toerusting gebruik want ek het nie geld gehad nie. Dit was beslis ʼn fout. Nou weet ek, uit ondervinding, dat ʼn mens die beste toerusting wat beskikbaar is moet kry, asook ʼn goeie finansierder, en jy moet seker maak jy het ʼn goeie sakeplan. En baie belangrik: Koop die beste wat daar is as jy in vervaardiging wil ingaan, want as intrepreneur is die laaste ding waaroor bekommerd wil wees of jou masjiene werk of nie. Ek het presies dieselfde fout met voertuie gemaak. Ons het goedkoper voertuie gekoop en dit was ʼn groot fout, want jy is gedurig besig om voertuie in te sleep en reg te maak. Koop nuwe goed, koop goed met motorplanne en jy bekommer jou nie verder nie.

Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf? Het julle ʼn spesifieke verkoop- en bemarkingstrategie?

Ek kom uit ʼn era waar sosiale media nie ʼn groot rol gespeel het nie, maar ek het intussen besef dit is geweldig belangrik. Vir onderneming tot onderneming gebruik ons spesifiek LinkedIn en ook Facebook. Ons webblad is ook baie belangrik, asook SEO en Google Ads. Dan ook industriële mynbouskoue en Elektra Mining elke tweede jaar en een keer per maand ʼn mynbouskou in ʼn omgewing waar daar ʼn konsentraat van myne is.

Wat is tans of histories ʼn groot pyn in julle bedryf?

Ek sal praat van tans. Dit gaan maar oor die politieke klimaat in die omgewing waarin ons werk. Ek is nie ʼn groot voorstaander van ras-gebaseerde wette nie, spesifiek in terme van entrepreneurs. As ʼn stelsel faal omdat daar nie genoeg opvoeding is in terme van skool- en tersiêre opvoeding nie, behoort dit nie ʼn entrepreneur se probleem te wees deur wette op hom af te dwing en te sê jy sál mense met ʼn fisiese uiterlike eienskap aanstel nie. Dis eintlik so lagwekkend soos om te sê ek gaan net ouens met blou oë in my onderneming aanstel want iemand wat iewers in ʼn raadsaal gesit het en politiek speel het besluit ons gaan net blouoogmense aanstel. Dit skep ʼn probleem, want entrepreneurs is baie kreatief en as ʼn wet op hom afgedwing word, gaan hy ʼn ander plan maak. Ek glo dit belemmer ʼn entrepreneur se kreatiwiteit.

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Goeie plan ·

Briljante besigheidskonsep! Nog n paar idees vir julle: Dry Ice Medical kan patoloe en mediese fasiliteite verskaf word wat bloed en ander monsters, organe en organise mediese afval vervoer. Dry Ice Retail kan aan klein handelaars en hul voorsieners in ontwikkelende of baie arm lande en gebiede in Afrika voorsien want hulle het n groot probleem om hulle bederfbare produkte koud te hou, veral waar elektrisiteit afwesig of wisselvallig is. Julle kan ook in ontwikkelde of ryker areas klein pakkies aan drankwinkels en slaghuise verskaf.

neelsie ·

Waar kan ons die produk op klein skaal in die hande kry?
Is dit in die handel in Pretoria te kry?

neelsie ·

Dankie vir berigte soos die.
Om iets positiefs te lees van ons mense wat presteer is bemoedegend.
Sterkte aan Deon se firma, jy is n doring!!

Theresa ·

Dit was nou kos vir die siel!! Baie sukses vorentoe – jy is regtig iemand wat vir ons almal ‘n voorbeeld is van fokus, vasbyt en vooruitgang. EN vooruitgang sonder te veel voorskrifte oor onbenullige dinge wat ‘n bedryf, veral entrepeneurskap kan laat voortsleep in plaas van voortvlieg! Dankie vir die artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.