[Entrepreneurskap] Luuksste treine in die wêreld

rohan-vos-klipkouers

Rohan Vos. Foto: Verskaf.

Jacques Basson van Klipkouers het gesels met Rohan Vos, stigter van Rovos Rail, wat die luukste treine ter wêreld bedryf.

Wat is jou belangrikste persoonlike doelwitte vir die jaar?

Ek moet sê die belangrikste ding vir enigiemand van my ouderdom is om fiks te bly. Ek probeer elke oggend vir ʼn driekwartuur of so oefen, net om die bloedvloei aan die gang te hou. Maar vanuit ʼn sake-oogpunt is ons besig met trein nommer vier en ons het nog omtrent vyf rytuie oor om klaar te bou. In dieselfde tyd het ons ook op 1 Januarie die driester Sjongololo-trein oorgeneem. Ons doelwit met dié trein is om binne drie dae in Kaapstad uit te kom. Ons neem ook voertuie saam op ʼn platdek-trok en bied mense dus die geleentheid om ook met voertuie die land te verken. Ons behoort ons nuwe planne so teen Maart of April volgende jaar finaal in werking te kan stel.

Wat is die een gewoonte wat jy wens jy gehad het?

Dit is ʼn moeilike een! As jy vir my vra watter slegte gewoontes ek het, sal dit makliker wees! My vrou en kinders sê altyd vir my ek drink nie genoeg water nie, maar dis nie vir my maklik om water te drink nie, want ek is gewoond aan my glasie rum en Coke in die aand en ek sien só uit daarna. Ek moet dus erken dis ʼn slegte gewoonte van my dat ek nie water drink nie en miskien moet my doelwit vir die nuwe jaar wees om water te drink. En dis ʼn nogal ding, want ek soos ek sê, ek is taamlik fiks en ons perseel hierso beslaan sestig akkers.

Waar in Pretoria is julle?

Ons onderneming is net noord van die stad, 2.5 km van die dieretuin in Capital Park. Ons gebruik die ou spoorweghoofkantoor waar hulle in die ou dae die lokomotiewe versien het. Ons het ʼn sestig akker eiendom hier en probeer om dit van die Transnet te koop, maar hulle wil niks weet in hierdie stadium nie. Ons het 12 kilometer spoorlyn op die perseel en omtrent 2 hektaar se geboue, wat 20 000 m² beslaan. Ek kan sommer op die perseel gaan draf en ons hou ons eie diere ook hier aan.

Wat is jou gunsteling aanhaling?

“Elke donker wolk het ʼn silwer randjie” en dit is die geval. Ek is ʼn baie positiewe mens en  baie dankbaar daarvoor. Ek het ook redelik baie selfvertroue en ek moet my ouers daarvoor bedank, asook my skoolopvoeding en so aan, maar in enige onderneming is daar tye wat ʼn mens wil tou opgooi of dink jy moet handdoek ingooi. En as ʼn mens ʼn pad soek en hier moet ek sê in daardie dae toe ek amper bankrot was in 1993, was ek soos ʼn rot in ʼn boks: ek moes ʼn gat soek om uit te kom. En as jy hard genoeg soek, sál jy ʼn gat kry, of anders sal jy ʼn klein gaatjie kry wat jy net bietjie groter moet maak, maar daar is áltyd ʼn uitweg. Ek het nie tyd vir negatiwiteit op die perseel tussen my mense nie. Ons het nou 380 werknemers hier en ek het al dikwels gesê, as ek iemand hoor kla oor iets gaan ek die sambok soek. Hulle moet weet, hulle moenie kla nie, hulle moet die werk doen. So ja, vir my het elke donker wolk ʼn silwer randjie.

Watter persoon, dood of lewendig, is vir jou ʼn inspirasie?

Daar is baie, maar kom ons dink. Ek sou sê iemand uit Engeland, Churchill. Dit was nou ʼn baie interessante man daardie. Hy was interessant, maar hy was ook nie bang vir enigiets nie. Hy was nie fisies bang nie, hy’t baie kanse gevat in sy lewe, of anders was hy halfmal! As ʼn mens kyk na ʼn paar van die dinge wat hy gedoen het, klink dit amper asof hy mal was!

Maar in sy lewe het hy daadwerklike besluite geneem en as ons dink aan die Eerste Wêreldoorlog, waarin hy betrokke was by die vloot en so aan – hy het groot foute gemaak, baie groot foute, maar hy het teruggekom. En toe kom die Tweede Wêreldoorlog en ek dink een van die moeilikste besluite wat enigiemand nog ooit moes neem, was aan die begin van die oorlog, toe hy moes besluit wat om te doen omtrent die Franse vloot.

Hy’t vir hulle sperdatums gegee om die vloot óf af te lewer in Engelse waters óf andersins in Amerika óf hulle moes almal sink. Dit het nie volgens sy skedule gebeur nie en hy het die besluit geneem om hulle te takel en dit moes ʼn verskriklik moeilike besluit gewees het. As ek terugkyk na mense wat vir my ʼn rolmodel is, dink ek aan hom: hy het ook sy fiemies gehad en so aan, maar hy was quite an incredible man.

Ons doen ook dikwels ʼn toer Spioenkop toe en dis nou miskien net toevallig, maar Churchill was by Spioenkop toe seshonderd mense daar gesneuwel het. Hy was daar as ʼn verslaggewer, ʼn joernalis en Ghandi was daar as ʼndraagbaardraer. Twee van die bekendste name in die geskiedenis was dus saam by dieselfde geveg! En dis ʼn interessante ding, want dit was daar dat Ghandi besluit het die laaste ding wat hy wil doen, is om betrokke te wees by ʼn oorlog.

As jy nou terugdink aan jou vormingsjare, as entrepreneur in die ou Suid-Afrika, hoe’t mense gekyk na entrepreneurskap in daardie dae? Die internet maak dit baie makliker om inspirasie te kry, maar wat was die siening van entrepreneurskap in daardie jare? Was iemand you rolmodel, of het jy maar net geleer soos wat jy aangegaan het?

Ek het definitief geleer terwyl ek gewerk het. Ek dink nou byvoorbeeld aan boekhou. Ons het dit nooit op skool gehad nie, maar die groot ding was om geld te maak en as jy geen geld het nie? My ouers het nie geld gehad nie, want hulle was besig om te probeer om nog drie kinders deur die skool te kry.

Ek was op my eie en skielik moes ek geld maak. En jy begin sommer met enige ou ding en almal van daardie ouderdom, tussen 19 en 25, was besig met iets om te sien waarheen  ons wil gaan of wat ons toekoms is, wat gaan ons doen as ons ouer is, hoe gaan ons ʼn huis kan bekostig. Gelukkig was ek nie op daardie stadium getroud nie, want dit help baie dat ʼn mens geen verantwoordelikhede het nie, want dan kan jy al die geld wat jy maak, weer terugploeg in jou onderneming. En dis wat met my gebeur het.

Van die lesse wat ek deur die jare geleer het, is dat pen en papier steeds uiters belangrik is in die sakewêreld. Ja, daar is deesdae baie voordele met die rekenaar en so aan, want jy kan baie vinniger meer inligting uit hom kry, jy weet as jy persentasies soek of soek na ʼn gemiddelde inkomste van ʼn spesifieke ding wat jy nou verkoop, dit help baie.

Maar ek vra altyd vir my bestuurders en my administrasie wanneer hulle met my kom praat in die oggend: “Waar is jou pen en waar is jou papier?” Ek wil hê hulle moet dit in hul sakke dra en dit moet altyd binne bereik wees. Ek probeer hulle leer om dit te doen, want dit is een van my suksesvolste dinge in die sakewêreld, dat ek niks vergeet nie en dis nie dat ek goed kan onthou nie, ek skryf dit neer en dis daar voor my. Die oomblik wat ʼn mens ʼn ding neerskryf, fokus jy net beter daarop en dan mors jy nie die volgende dag tyd nie, of jy gaan reguit na die kern van die saak om die ding op te los wat gedoen moet word. Dus skryf ek álles neer.

Ek raak nogal baie opgewonde oor die tegnologie wat so vinnig ontwikkel – eersdaags kan ek met ʼn digitale pen op ʼn tablet skryf, maar hoewel ek steeds pen en papier verkies, maak dit my opgewonde om te dink ek sal die beste van twee wêrelde kan kombineer!

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

D. ·

Ek het laasweek se Top Billing episode gesien waarop die insetsel was oor die ROVOS Rail se treine , en dit was absoluut merkwaardig. Sal definitief nog eendag op so ‘n treinrit wil gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.