[Entrepreneurskap] Malaria se impak op ondernemings in Afrika

Francois-Maartens-klipkouers

Francois Maartens. Foto: Verskaf.

In hierdie episode fokus Jacques Basson van Klipkouers op Francois Maartens, eienaar van IMCC, die man wat weet hoe om die grootste moordenaar in Afrika aan te pak, se besigheid.

Vertel ons ʼn bietjie meer van jouself?

Ek woon in Durban, en het grootgeword in die Natalse Middelland op ʼn plaas tussen New Hanover en Greytown. Ek is al 11 jaar getroud met my vrou en ons het twee kinders van 8 en 5.

Gee ons ʼn opsomming van die tipe besigheid en nwerheid?

Ons doen toegepaste malarianavorsing en projekinstelling, en dis basies gemik op enige maatskappy in Afrika met besighede wat baie mense in diens neem, want malaria tas hulle op meer as een manier aan. Ons projekte voorkom malaria onder hulle mense, wat hulle natuurlik geld bespaar.

Watse probleem los jou besigheid op? Jy verwys nou na “op meer as een manier”; gee vir ons ʼn bietjie agtergrond van daardie tipiese probleme.

Die algemene besigheid in Afrika neem mense in diens, en malaria is een van hulle grootste probleme. Party van die myne met wie ons werk het 6 000 tot 8 000 mense in diens en dis nie snaaks vir die helfte van daardie mense om ten minste een maal per jaar malaria te kry nie, wat die besigheid natuurlik baie geld kos. Die direkte koste is hulle behandeling en hospitaalbehandeling. Partykeer, as dit ʼn rêrige slegte geval is, moet  hulle daardie mense uitvlieg of e-vac. Jou indirekte koste is die verlies aan produktiwiteit, want elke ou wat siek is, moet drie, vier dae in die bed of in die hospitaal lê, en dis nie goed vir ʼn besigheid se produktiwiteit nie. Dit benadeel natuurlik hulle sak.

Is baie van hierdie besighede voorbereid?

Die meeste maatskappye kom baie onvoorbereid in Afrika aan. Hulle doen glad nie hulle huiswerk in terme van watter siektes hulle gaan teëkom nie, maar hulle leer baie vinnig! Dan is dit natuurlik goed vir ons, want ons kan hulle help met hulle probleem.

Wat maak jou besigheid anders as jou kompetisie? Ek glo die Amerikaners is baie betrokke by malaria in Afrika, of is dit nie die geval nie?

Daar is redelik baie mense betrokke by malaria, maar dit wissel van ouens wat finansiering verskaf, en ouens wat net navorsing in laboratoriums doen tot ouens wat slegs die projekinstelling op die grond doen. Ek dink die ding wat ons uniek maak, is dat ons self toegepaste navorsing doen en die projekte in werking stel; dit stel ons in staat om meer beheer oor die eindproduk te hê. ʼn Mens hoef nie te wonder hoe goed die navorsing gedoen is nie, want ons het dit self onderneem. Dit is redelik baie werk om albei te behartig, maar ek het destyds besluit om dit so te doen omdat niemand anders dit gedoen het nie, en selfs vandag hanteer baie min mense dit so.

Wat is jou ideale kliënt of teikenmark?

Enige maatskappy wat in Afrika ʼn besigheid begin. Die ideale kliëntesektor is die myne, want hulle probleem is groter omdat hulle meer werkers in diens het. Snaaks genoeg, die myne kry altyd die minerale in die vreemdste plekke wat baie ver van enige stede of  dorpe of iets geleë is; dan het hulle natuurlik ʼn groot probleem as hulle boonop met malaria ook nog sit. So, dis maar myne, maar ek het ook te doen met baie groot landboumaatskappye met groot plase in Afrika. Ek het byvoorbeeld al toerismegeriewe ook gehelp met soortgelyke probleme. Dit wissel dus baie, maar die ideale teiken is maar die myne.

Wat is die grootste besigheidsfout wat jy tot dusver gemaak het, en wat het jy geleer?

Ek is baie dankbaar dat ek nog nie ʼn massiewe fout gemaak het nie. Een wat ek egter definitief al gemaak het en wat my meer as enigiets anders irriteer, is as jy buigsaam raak met jou betalingsooreenkoms – veral met die groot maatskappye. Hulle sien jou dan as ʼn sagte teiken vir die toekoms as hulle begin swaar trek met die ekonomie. Dis ʼn fout wat ek al gemaak het en ek het definitief daaruit geleer: Moenie te buigsaam wees nie. Dis ook maar ʼn moeilike ding, want jy wil nie jou verhouding met jou kliënt benadeel deur té rigied te wees nie, maar dit is belangrik dat jy jou geld betyds kry vir kontantvloei-doeleindes. Ek dink dit is ʼn algemene ding wat die meeste ouens met klein besighede ondervind. Ek het dit al by baie ouens gehoor, en dat dit naderhand ʼn regte probleem raak as jy nie ʼn stokkie daarvoor steek nie.

Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?

Ek het ʼn webwerf, en baie van my besigheid is by word of mouth. As jy drie of vier myne in een land het en jy doen werk vir een van hulle, dan praat die ouens daaroor. Dis wel ʼn groot nywerheid, maar eintlik is dit maar klein, want almal ken mekaar. Ek kry baie oproepe nadat ek by ʼn myn was, en dan vra mense of ek iets soortgelyks by hulle kan doen. Dan is daar nog ’n geleentheid en dit is die groot mynindaba wat hulle een maal ʼn jaar in Februarie in Kaapstad hou.

Wat is tans of histories ʼn groot pyn in jou besigheid?

Om goed uit Suid-Afrika te kry waar ek dit nodig het, soos in Sierra Leone, Burkina Faso, Kongo, Mali, Malawi, Tanzanië. Ons werk in al daardie plekke en om jou gereedskap daar te kry is ʼn pyn, want dis oor grense, so jy kan jou net indink! Hoewel ons dit naderhand regkry, is dit net regtig baie tydrowend.

Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

Ek dink my webwerf het alles op, dis www.imccafrica.co.za.

My selfoonnommer, as iemand met my kontak wil maak, is 083 655 4173,

en my e-posadres is [email protected].

NB! Onthou om na Francois Maartens as mens se onderhoud te luister.

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jaco ·

briljante werk wat hierdie man doen. het bitterlik hartseer dat as sy besigheid te groot uitbrei met personeel en omset, hy eendag weens regstellende aksie gedwing sal wees om af te skaal of toe te maak of mense in poste aan te stel sonder dat hulle eintlik weet wat om te doen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.