[Entrepreneurskap] My potlode was my eerste modelle

Gert2Jacques Basson gesels met die entrepreneur Gert-Johan Coetzee, een van Suid-Afrika se gewildste en mees suksesvolle modeontwerpers. Van sy beroemde kliënte sluit die wêreldbekende Kardashian-familie in.

  • Vertel ons ʼn bietjie meer oor jouself

Ek het van kleins af geweet mode is my nering. Ek wou die heel beste mode–ontwerper in die wêreld wees. My potlode was my eerste modelle. Ek het hulle met sneesdoekies aangetrek en modeparade gehou. Op sestien is ek Klerksdorp toe, waar ek mode-ontwerp gaan studeer het. Ek het nie matriek voltooi nie, maar dit het my nog nooit teruggehou nie. Inteendeel, dit het my loopbaan ʼn voorsprong gegee.

Ek is tans in Johannesburg en ontwerp vir vroue wat ongelooflik wil lyk. Ons het verskillende reekse, soos byvoorbeeld ʼn spesiaal gemaakte trourokreeks, asook ʼn rooitapytversameling, wat beskikbaar is by verskeie “high end” winkels en Edgars.

  • Wie is jou grootste kliënt?

My kliënte is van oor die wêreld heen. My grootste kliënte is in Afrika en Amerika en dan is daar ook ʼn paar mense in Londen, asook die Kardashians. Ons het baie volgelinge onder bekendes, wat nogal lekker is en in Suid-Afrika is hier ook baie bekendes.

  • Wat maak jou ontwerpstyl so aantreklik vir die Amerikaners? Wat is anders?

Dis baie moeilik om daardie vraag te beantwoord, want my ontwerpstyl is eintlik ʼn kombinasie van Hollywood-behoeftes teenoor gesofistikeerde Afrika. Ek dink ek verstaan ʼn vrou se lyf baie goed en ek verstaan wat laat haar goed lyk en wat sy wil wegsteek en wat sy wil wys.

  • Watter probleem los jou onderneming op?

Verskillende dele van die onderneming los verskillende goed op. Een daarvan is die persoonlike ontwerp. Ek dink baie vroue, veral nuwe bruide, is taamlik senuweeagtig en hulle is op soek na ʼn moeitelose ervaring; hulle wil hê dit moet maklik wees en ek dink ons los daardie probleem vir hulle op, want ons maak vir hulle unieke rokke onder ʼn handelsmerk wat hulle kan vertrou. Kortliks kom dit dus daarop neer dat ʼn vrou se rok absoluut vir haar lyf ontwerp word.

  • Dus eerstens is dit gemoedsrus, veral vir ʼn toekomstige bruid wat weet sy kan julle vertrou om haar te laat goed lyk en natuurlik dan seker te maak vir die oplossing agterna as sy in die straat afstap?

Ja en ons maak dit maklik vir hulle. Ek dink nie iemand gaan iets doen as dit moeite is nie; dit moet maklik wees en jy weet as jy na Gert-Johan Coetzee toe kom, gaan dit ʼn moeitelose ervaring wees vandat jy hier instap totdat jy uitstap. Boonop gaan jy goed lyk en die beste geklee wees. Dit is dus eintlik ons doelwit: om die beste te wees en jou beter te laat lyk as enigiemand anders.

  • Wat maak jou anders as jou mededingers?

Ek glo regtig ons is die beste. Ek glo ook as jy iemand regtig iewers wil beïndruk, kom jy hierheen. Dis wat ons beter maak. Ek dink amper ons gee ʼn bietjie meer om; ek en my hele span is gefokus op jou ervaring en hoe jy voel terwyl jy hier is en hoe jy voel terwyl jy die rok aanhet. Dis wat ons anders maak. Baie kliënte het al gesê ander ontwerpers waar hulle was, kom nie terug na hulle toe nie en hul kliëntediens is nie so goed nie.

Ek dink as jy jou trourok by iemand laat maak, wil jy die hele tyd weet wat aangaan om jou gerus te stel en dis wat ons doen. Daar is baie ontwerpers in die wêreld, maar daar is genoeg werk vir almal sodat geen ontwerper nodig het om dieselfde rok te ontwerp nie. My rokke lyk baie anders as byvoorbeeld ʼn Suzaan Heyns- of ʼn Anel Botha-rok. Jy moet van my spesifieke estetika hou en ek dink dis wat ons bevoordeel. Ons is gevestig in popkultuur en mense hou daarvan.

  • Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?

Ons goeie reputasie is ons grootste bemarkingsmetode. Ons het ook onlangs ʼn veldtog begin wat ek “The Real Bride Experience” noem. Ek het sowat ʼn jaar gelede ʼn bruidsreeks bekend gestel en dit het fantasties afgeloop. Ons het ʼn asemrowende model gekry en ek het my top-vyf bruide van 2015 gevra om vir ʼn paar foto’s te poseer. Ek dink dit werk selfs beter as ʼn goeie reputasie, want nou kan jy op sosiale media sien hoe ʼn regte bruid se ondervinding saam met Gert-Johan Coetzee was. Ek voel ook mense moet kan sien wat jy aanbied en ek dink dis waar ons goed is, ons wys vir mense wat ons kan doen.

  • As ons kyk na bemarking in die een-en-twintigste eeu, gaan dit nie meer oor wat jy vir mense belowe of sê nie, maar eerder oor wat jou kliente sê en reputasie is ook besig om te verander. Julle het die proses proaktief gemaak sodat die bruide met mekaar kan kommunikeer en mekaar ook saam met hulle vriende kan sien. Dus gee jy hulle die geleentheid om te spog: “kyk hoe fantasties was my trourok”. Onder normale omstandighede gaan mense nie lysies maak om by die volgende braai te vertel wie was ʼn fantastiese diensverskaffer nie en daarom moet jy ʼn proaktiewe strategie gebruik om jou kliënte te help om namens jou te spog en dis baie kragtig.

Mense hou van stories en die bruide was saam met hul vriende en familie by ʼn ongelooflike dag by Jenna Clifford se huis. Ek het die media daar gehad en hulle kon met ʼn persoonlike verbintenis daaroor skryf. Dit het die stories soveel beter gemaak en meer mense sien dit dan raak. Vir my gaan alles oor die mag van voorneme en wat jou voorneme is om iets te doen en ek dink dit kom uiteindelik terug na jou.

  • Ek gaan nou bietjie terug na die vorige vraag wat ek gevra het oor wat maak jou anders as jou mededingers en hoe jy nuwe kliënte werf. Jy het baie toepaslik afgesluit met “wat jy saai sal jy maai”. Dit het my laat dink aan die beurse wat jy beskikbaar stel vir studente wat jou ook anders as jou mededingers maak en dis ʼn goeie bemarkingseienskap omdat jy teruggee aan die bedryf.

Die bedoeling met die beurse is om die bedryf te laat groei. In Suid-Afrika het ons op die oomblik die bodem getref en dis dus belangrik om meer mense op te voed wat ʼn passie het en ʼn verskil kan maak. Ons soek hulle dus, lei hulle op en bied hulle ʼn geleentheid en dis baie meer as wat ék gehad het.

  • Wat is of was ʼn groot pyn in jou onderneming?

Terwyl jy studeer, het jy so ʼn wanindruk van wat in die wêreld daarbuite gebeur. Toe ek studeer het, het ek meer daarop gefokus om ʼn asemrowende produk te lewer en dan kom jy daar uit en skielik moet jy twintig mense en vier fabrieke bestuur en dan wat? Ons het dus in ʼn stadium ophou groei omdat ons aanvanklik so vinnig gegroei het, maar geen stelsels in plek gehad nie. Ons stelsels kon nie byhou met die tempo waarteen ons gegroei het nie en dit was so ʼn groot gemors dat ons nou al vir die laaste jaar by die sake-inkubeerders, Oric, is.

Hulle het ons gehelp om die hele onderneming te ontleed en te kyk waar ons leemtes was en hulle het ook gehelp om die stelsels te vestig. Die ander uitdaging is om mense te bestuur. Dit is moeilik om elke dag van al twintig mense in vier fabrieke se probleme te hoor en wat ek daar geleer het, is alle mense is soos potplante: sommige plante soek meer water en ander minder. Behandel mense dus soos jý behandel wil word.

  • Wat is die grootste sakefout wat jy tot dusver gemaak het?

Toe ons die Edgars-reeks begin het, het ons baie min verstaan van wat dit verg om so ʼn groot verpligting aan te pak en ek dink weereens was daar nie stelsels in plek nie, wat die onderneming laat sleg lyk. As ek dit kon oordoen, sou ek eers kyk dat alles reg daarvoor is voordat ek aan so ʼn groot winkel verskaf het. Maar as ek terugkyk sou ek dit miskien nooit gedoen het nie, want wanneer is die regte tyd? Die regte tyd is nóú, maar daar was uitdagings daaraan om eweskielik tien rokke in jou studio te maak en dan eenhonderd rokke by ʼn fabriek in die Kaap.

Dit was ʼn groot aanpassing. Ek dink nuwe ontwerpers se grootste probleme is om publisiteit te kry, maar my voorstel is om sosiale media, soos Instagram en Twitter te gebruik. Jy kan hiermee ʼn sterk stem hê en dit hoef jou niks te kos nie, behalwe bietjie tyd om inhoud op jou eie platforms te publiseer. Ek reken daar is eintlik glad nie ʼn uitdaging of verskoning in die bedryf nie. Elke uitdaging kan oorkom word as julle net bietjie koppe bymekaar sit.

  • Was daar een dag of plek wat jou deurbraak was? Was daar so ʼn dag, of was dit elke dag bietjie vir bietjie werkskaf en toe jy weer sien was jy waar jy nou is?

Ek is baie vinnig ontdek toe ek klaar was met kollege, omdat ek vir Sandy Ngema, aanbieder van Strictly Come Dancing, ontmoet het. Sy het ʼn rok gesoek vir die Durban July-wedren en so is my verhouding met haar vir ʼn jaar gevestig totdat ek en my man  Johannesburg toe getrek het. Daar het ek weer ʼn oproep van Sandy gekry dat Strictly Come Dancing ʼn nuwe ontwerper soek en ek moet “pitch”. En toe kry ek die werk en dit was my eerste groot deurbraak.

  • Hoe hanteer jy daardie oomblikke van onsekerheid en vrees?

Ek probeer elke dag om iets te doen wat my ʼn bietjie uit my gemaksone haal en as iets ongemaklik voel, weet ek hier groei ons nou. Dis vir my belangrik om elke dag daardie bietjie ongemak te ervaar en daardie moeilike besluit te neem.

  • Watter sagteware of toepassing is vir jou baie waardevol?

Ek is baie lief vir my iPad. Ek gaan nêrens daarsonder nie. En ʼn goeie kamera, want ons kry heeltyd verwysings en inspirasie.

In die studio het ons ʼn program wat ons hele produksie beheer, maar ek kan nie vir jou die naam gee nie, omdat dit spesiaal vir ons ontwerp is. By vanjaar se modeweek het ons ʼn virtuele aantrekkamer waar jy die klere digitaal kan aanpas sodat jy nie net die klere sien nie, maar ook hoe dit aan jou lyk. Ek dink dis hoe ons mode en tegnologie bymekaar uitbring.

  • Ek wil terugkom na die virtuele aantrekkamer: wie ontwikkel hierdie tegnologie en is dit ʼn behoefte vir ontwerpers of is daar ander mense in die verskaffingsnetwerk wat hierdie soort ding aandryf?

Dit is absoluut waar van e-Commerce; dit maak dit lekker vir jou om jouself amper in te skandeer. Dit is die algehele konsep van die toekoms oor vyf jaar wanner daar plekke in winkelsentrums sal wees waar jy jouself kan laat skandeer en dan het jy ʼn soort “staafkode” en as jy aanlyn gaan inkopies doen, kan jy jouself in die rekenaar insit. Sodoende is jy digitaal in die rekenaar en dan kan jy alles aanpas en sien hoe jy daarin gaan lyk. Dis eintlik die einddoelwit daarvan en ek dink dis waarheen dit uiteindelik gaan lei. Ek is die eerste ontwerper wat die regte verkry het om dit te kan doen so dit gaan pret wees.

  • Wat is jou gunsteling-aanhaling?

Maya Angelo – “If you don’t like something change it, if you can’t change it, change your attitude”, en dan ook Henry Ford – “Whether you think you can or you think you can’t, either way you are right”, en “Opportunities present themselves everyday, you’re just going to want to see them”.

  • Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

Op my webblad: www.gertjohancoetzee.com of hulle kan my volg op Instagram, Twitter of Facebook by gertjohancoetzee of @gertjohan.

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.