[Entrepreneurskap] ’n Drywer van die e-leer-revolusie

bertus-hugo-klipkouers

Bertus Hugo. Foto: Verskaf.

Jacques Basson van Klipkouers gesels met Bertus Hugo van KnowBrainer Learning Solutions, ʼn drywer van die e-leer-revolusie, se onderneming.

Vertel ons ʼn bietjie meer van jouself?

Ek kom van die noordelike voorstede van Kaapstad, grootgeword in die groot stad Kraaifontein en ná skool het ek ʼn bietjie gaan swot by die Kaapstad Technikon – IT en sake-analise. Ek het op 22 my eerste onderneming begin, maar ek moes ná so drie jaar die deure sluit. Gelukkig het daar darem weer beter geleenthede oor my pad gekom. Ek het onder meer in die korporatiewe wêreld, by ʼn bank en as sake-ontleder gewerk. Vir die laaste twee jaar is ek weer op my eie, in ʼn vennootskap met ʼn nuwe onderneming. Ek is amper vyf jaar getroud, het ʼn dogtertjie van twee en ʼn tweede enetjie wat op pad is oor so vier weke.

Gee ons ʼn opsomming van die soort onderneming en bedryf?

Ons primêre fokus is om ʼn e-leerplatform aan ondernemings te verskaf en ook te help met hulle interne opleiding. Ons sal byvoorbeeld vir ʼn maatskappy ʼn e-leerprogram installeer of ʼn platform bied – alles is natuurlik aanlyn en daar is nie CD’s wat by al die verskillende takke geïnstalleer moet word  nie.

Ons sal ook help om vas te stel waar tekorte is, waar daar behoeftes is aan vaardighede en so aan. En ons monitor en evalueer alles deur die platform wat ons bied. ʼn Onderneming kan dus hulle interne opleiding alles sentraliseer en van daar af kan al die werknemers in die onderneming self die platform en die inhoud deurwerk en dan sommer toetse op die platform ook skryf. Ons stoor al daardie inligting in ʼn databasis en trek ons verslae daaruit en help met analise om vas te stel presies waar die foute en waar die probleme is.

Dan is ons ook besig met ʼn produk vir skole en jongmense wat hulself wil verryk met allerhande vaardighede. Met die skole-deel gaan dit help met wiskunde en wetenskap en dan gaan daar ook ʼn paar soft skills-kursusse wees vir diegene wat Microsoft Office en so aan wil leer.

Jy het nou reeds die probleem wat julle oplos aangeraak, en tereg uitgewys dit geskied vanaf ʼn sentrale punt. Brei ʼn bietjie meer uit oor ander probleme wat julle sagteware oplos?

Ek dink die grootste probleem is die kwaliteit en standaard van die opleiding wat jy aan jou werknemers verskaf. As jy dus ʼn onderneming het wat oor ʼn gebied versprei is met ʼn paar takke in verskillende dorpe of stede, dan is dit moeilik om ʼn standaard te handhaaf met jou opleiding dwarsdeur die maatskappy.

Ons probeer om daardie standaard vas te stel en daarby te hou, want as jy elke keer mense moet uitstuur na ʼn ander dorp toe, of jy het verskillende mense wat na verskillende dorpe toe moet gaan of verskillende areas moet dek, is dit moeilik om regtig te weet of almal op dieselfde vlak is en kan almal hulle werk doen?

Die verslae wat ons byhou behoort te kan terugwerk na die onderneming se verslae en die bedryf se BI-stelsels en MI wat hulle gebruik. Jy weet sodoende waar om te kyk vir enige probleme by ʼn sekere tak of ʼn afdeling van ʼn onderneming en jy kan almal toets en sodoende vasstel waar die probleem is.

Wat maak jou onderneming anders as dié van jou kompetisie?

Ek dink wat ons in hierdie stadium anders maak is die diens wat ons lewer. Ons stap regtig ʼn pad saam met ons kliënte en ons probeer om jou hand te vat en te gaan kyk na jou individuele behoeftes, en so kan ons die stelsel aanpas vir enige onderneming. As daar ʼn integrasie met ander stelsels moet plaasvind, veral met verslae, kan ons dit aanpas. En as daar hier en daar ʼn paar goedjies is waarmee ons kan help,  het ons ʼn span wat kan help met ontwikkeling en so aan.

Wie is julle teikenmark of ideale kliënt?

Ons sê altyd ons sal nie diskrimineer teen enigiemand wat te groot of te klein is nie, maar ek dink ons onderneming en platform sal meer waarde toevoeg aan ondernemings waar daar al ʼn hele paar werknemers is en veral dié vir wie afstand ʼn probleem is. As jy dus ʼn paar takke in verskillende gebiede het wat gereeld moet opleiding kry, kan ons help. Die voordeel is dat dit ʼn aanlynstelsel is. Dit gaan egter nie werk vir iemand wat nie rekenaars in die onderneming het nie of waar die meeste werknemers nie rekenaartoegang het nie.

Wat is die grootste sakefout wat jy tot dusver gemaak het en wat het jy daaruit geleer?

Wel, ek dink die grootste sakefout het ek met ʼn vorige onderneming gemaak, toe ek ʼn té groot kliënt met ʼn té groot projek vertrou het. Ek dink nie ek het al my planne agtermekaar gehad nie. Ek was nog jonk en nat agter die ore en het ʼn redelike duur les geleer, maar dit het my geleer om eers alles fyn te beplan en te verseker jy is gereed voordat jy iets aanpak.

Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?

In hierdie stadium is die meeste van ons kliënte vorige kontakte of mense wat ons geken het wat na ons verwys is. Ek sou dus sê “word of mouth” en netwerk is die ding wat ons baie gebruik. Ons het ʼn Facebook-blad, asook ʼn Twitter-rekening, maar ons doen niks daaraan nie omdat ons in hierdie stadium onderneming-tot-onderneming-dienste lewer. Wanneer ons ons skoleproduk bekendstel sal ons begin kyk na Facebook en al daardie soort forums. Tans is ons ook lid van die Paarl-sakekamer, so ons netwerk maar en gesels met mense wat ons teëkom en ek dink elke gesprek is ʼn moontlikheid na ʼn volgende gesprek of na iemand wat iemand ken en na jou verwys

Wat is tans of histories ʼn groot pyn in die bedryf?

Ek dink op hierdie stadium is dit nog maar die kliënte – of die potensiële kliënte – en mense wat nog nie heeltemal bekend is met die soort diens wat ons lewer nie of die voordele wat daaraan verbonde is nie. Mense is nog gewoond daaraan dat jy na ʼn klas toe gaan en na iemand wat daar voor praat gaan luister en jy kry jou sertifikaat van bywoning. Ons gebruik egter nuwe tegnologie waaraan baie mense nog nie gewoond is aan nie. As jy iemand daarvan vertel, sê hulle baie keer “Nee, ons werk nie so nie, ons weet nie hoe dit werk nie, so ons stel nie belang nie.” Een van die groot pyne in hierdie stadium is om mense van die konsep en die voordele daaraan verbonde te oorreed en hoe lekker dit eintlik kan werk as jy eers daarmee begin.

Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

Op my webwerf knowbrainer.co.za of hulle kan my bel by 084 787 1245.

My Skype is ook altyd aan: bertus84 en my e-pos is [email protected].

NB! Onthou om na Bertus Hugo as mens se onderhoud te luister!

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.