[Entrepreneurskap] Nano-tegnologie se toepassing


andries-brink-klipkouers

Andries Brink. Foto: Verskaf.

Hiermee ʼn voorsmakie van Jacques Basson van Klipkouers se onderhoud met Andries Brink, stigter van Andile Solutions, waar hulle in banke se unieke tegnologiese behoeftes van voor tot agter voorsien, eerskomende Donderdag.

Watter ander besigheid of bedryf is vir jou interessant of ongewoon?

Ek hou maar van tegnologie; ek dink goed soos nano-tegnologie, met ander woorde baie, baie klein partikels, is baie interessant. Nano-tegnologie was groot hier in die vroeë 2000’s. Toe het almal daaroor gepraat – jy weet, nano-dit en nano-dat – maar ʼn mens het nooit werklik die toepassings gesien nie. Maar noudat dit nie meer so baie bespreek word nie, nóú kan ons sien hoe die goed begin uitrol!

Spesifiek in die mediese veld is dit werklik interessant om te sien wat aan die gebeur is: die klein robotjies – of agente – wat hulle nou in jou lyf begin loslaat, wat  goedjies rekonstrueer en miskien jou hartare oopmaak en ek weet nie wat alles nie, maar dis geweldig interessant. Ek het nou die dag met ʼn ou gesels wat spesialiseer in prostaatbehandeling deur robotte wat baie klein snytjies in jou lyf maak om by jou prostaat uit te kom.

Ek het ook ʼn studie gelees wat sê daar is eintlik geen rede om bekommerd te wees oor genetiese kos nie – nogal ʼn objektiewe studie wat nie geborg is deur enigiemand verdag nie – want die goed is goed vir jou, jy kan maar daardie groot appel eet.

Ek is egter bekommerd oor die etiese vrae wat die biogenetika laat ontstaan, soos onder meer: Wat is lewe? En beheer oor genetiese manipulering … daardie goed pla my. Ek het menings daaroor wat seker baie tradisioneel is, maar die genetika is definitief ʼn baie interessante veld en weer eens het dit te doen met ons vermoë om inligting te kan verwerk.

Die laaste een wat my werklik interesseer, is energie, veral batterye. Ek dink veral ons in Suid-Afrika, waar ons baie wind en son het, moet net leer om dit goed te stoor. So, die batterytegnologie wat vooruitgang maak, weer eens op ʼn nanovlak, is werklik interessant; ek dink die dae van litium-ioon, wat jy nou in jou selfoon het en ook in jou Tesla-voertuig as jy een kan bekostig, is oor so 15 jaar ook ou nuus, en dan gaan ons beter stoormeganismes hê. Dit sal wonderlik wees, ek sien uit daarna.

Dis maar wat my interesseer, die tipe goed wat met tegnologie te doen het.

NB! Moenie laas week se onderhoud met Riaan van Wyk, eienaar van DemZa Bake ʼn Pack, misloop nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.