[Entrepreneurskap] “Nie foute nie, maar wel ervaring”

hannes-dreyer-klipkouers

Foto: Verskaf.

Jacques Basson, eienaar van Klipkouers, gesels elke week met ʼn ander Klipkouer-aanhouer en -uithouer. Die afgelope twee weke se onderhoude was met Hannes Dreyer en hy vertel van hoe hy mense help om finansieel onafhanklik te word. Die onderhoud was baie lank en omdat die inligting baie waardevol en interessant was, is daar besluit om dit in twee te verdeel. Hoop julle geniet dit en vind dit net so inspirerend en interessant. Dit is die tweede deel van die onderhoud dié.

Hannes Dreyer is ʼn welstandskepper (wealth creator), en help mense om finansieel onafhanklik te raak in die kortste moontlike tyd of so gou moontlik met so min moontlik risiko’s.

Wat is die grootste besigheidsfout wat jy tot dusver gemaak het?

Ek het tonne gemaak, want jy beland nie in ʼn besigheid deur nié foute te maak nie. Eerstens bestaan daar nie iets soos ʼn fout nie, want die oomblik dat jy dink aan ʼn fout, dan dink jy aan jou skooltyd – en jy dink jy gaan nou gestraf word omdat jy daardie fout gemaak het. So, in my kop bestaan daar nie so iets soos foute nie – jy’s wel besig om ervaring op te doen. Daar is twee maniere hoe jy vir dié ervaring betaal: die een is deur middel van tyd en energie, en die ander een is deur middel van geld. Jy sal dus, ek wil amper sê, sielkundige foute maak; jy gaan oordeelsfoute maak, maar as daardie oordeelsfout jou nie geld kos nie, dan is jy onmiddellik tien treë vorentoe, want nou weet jy wat om nooit weer in die toekoms te doen nie. As jy dus so daarna gaan kyk, kan ek vir jou sê die grootste geldfout wat ek gemaak het, was om ander mense te vertrou en te dink dat daardie ouens op dieselfde golflengte as ek is. Maar weereens, die les wat ek daaruit geleer het, was vir my tien keer meer werd as die geld wat dit my gekos het. Daarom sien ek dit as ʼn leerervaring.

So, afgesien van ʼn nuwe webinaar wat jy beplan en so aan, watter ander maniere gebruik julle om nuwe kliënte te werf?

Enige manier wat werk! Ek het al my besighede verander na “direct response business”, so ek kan enige ding meet en sien wat die terugvoer daarvan is. As gevolg daarvan kan ek presies sien of iets vir my werk of nie, byvoorbeeld die media. Ek hou daarvan om die media te gebruik en as ek sien ʼn advertensie werk, koop ek weer een. Dis basies hoe ons nuwe kliënte werf.

Wat is tans of histories ʼn groot pyn in jou besigheid?

Ek dink die bedryf waarin ek is, het hierdie mind set, hierdie geloof van mense om nie in hulself te glo nie, en die moeilikste ding wat jy in die lewe vir ʼn ou moet doen, is om vir hom te sê, my magtig, maar jy kan dit sélf doen! Mense glo nie genoeg in hulself nie, en meen jy moet na ʼn kenner toe gaan. As jy my dus vra wat is ʼn pyn – vir my is dit ʼn pyn dat so min mense regtig in hulself glo, en vas glo dat hulle die vermoë het om iets te kan baasraak (want hulle dink dit is te moeilik)! Ons word gekondisioneer om nie in onsself te glo nie, of te glo dat ons iets nie kan doen nie, of dat ons nie geskik is om dit te doen nie. Ons word gekondisioneer om te werk vir ons geld sodat ons ons geld vir iemand anders kan gee in die hoop dat hulle vir ons die geld gaan laat werk – en dit werk nie so nie. Jy moet leer hoe om jou geld vir jouself te laat werk, in jou besigheid of in jou belegging.

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.