[Entrepreneurskap] Van gastehuis tot (eko-) vriendelike hotel

Adri-Kruger-Klipkouers-logo

Adri Kruger. Foto: Facebook.

Adri Kruger is ʼn ‘groen’ hotelier van Tzaneen wat van ʼn vier slaapkamer-gastehuis na die hotel Tzaneen Country Lodge met 60 kamers gegroei het. Hier is haar geheim vir sukses…

Vertel ons bietjie meer oor jouself.

Ek is in Tzaneen gebore en getoë, so hierdie is my hartland en blyplek. Ek het 16 jaar gelede met die Tzaneen Country Lodge op Tarentaalrand, net buite Tzaneen, begin. Oorspronklik het ons begin as ‘n klein gastehuisie met vier slaapkamers, maar nou is ons ‘n volledige hotel met 60 slaapkamers, ʼn spa en fasiliteite vir konferensies en troues. Die hotel is so 16 km buite Tzaneen geleë. My man was vir drie jaar siek aan kanker en is in Desember oorlede. Hy was my sielsgenoot en beste vriend, maar mens gaan maar net aan en vat elke dag soos hy kom.

Wat is die aard van jou onderneming?

Ons voeg waarde toe, verskaf vakansieverblyf of sommer net ʼn lekker wegbreeknaweek. Ons het stap- en fietsryroetes en meer as genoeg vir die hele familie om te doen. Hier by ons kan Ma gaan spa, Pa kan gaan visvang en die kinders kan fietsry of op die Mangela-diereplaas gaan speel. Ons het ʼn diereplaas, of “animal touch farm”, soos hulle in Engels sê. Saam met die konferensiefasiliteite en gratis hoëspoed-internet vir besige sakemense het ons ook ʼn lekker teetuin waar Oupa en Ouma kan gaan tee drink en wafels eet. Ons het letterlik iets vir almal. Kortliks kom dit daarop neer dat ons ʼn wye verskeidenheid dienste aan almal bied.

As jy ʼn 80/20-analise moet doen: Wat is die drie of vier top-dienste wat verreweg julle grootste inkomste genereer?

Meer as 50% van ons onderneming is uit die korporatiewe mark omdat ons in ʼn wonderlike omgewing bly. Tzaneen word nie verniet die vrugtemandjie van Suid-Afrika genoem nie. Ons het baie sakemanne wat spesifiek kom om boere te besoek. Ons is geleë in die ZZ2-area, die grootste tamatieboerdery in die Suidelike Halfrond – indien nie in die wêreld nie, en ook midde-in ʼn baie groot sitrusproduksie in die omgewing. Ons probeer natuurlik ook om alle markte te dien en daarom fokus ons naweke spesifiek op troues. Wat konferensies en gesellighede betref, kry ons so 15% van die internasionale mark – daardie toergroepies wat verbykom op pad wildtuin toe.

Wat maak jou anders as jou kompetisie?

Ek dink dit is seker die belangrikste vraag, want ʼn hotel is mos maar ʼn hotel en kan net ʼn bed en ʼn bord kos aanbied. Ek dink ons het egter van die begin af probeer om nie net ʼn gewone hotel te wees nie, maar om te spesialiseer as die beste en vriendelikste hotel in die land. Ons is sedert 2003 tien jaar agtereenvolgend benoem as die hotel met die vriendelikste personeel in Suid-Afrika. Ons is ook ʼn eko-vriendelike hotel en was groen van die dag dat ons ons deure oopgemaak het. Ek vermoed ook ons was die eerste groen hotel in die land. Ons roem ons regtig op ons kliëntediens en leuse – al daag jy as ʼn vreemdeling by ons op, sal jy as ʼn nuwe vriend van die Tzaneen Country Lodge vertrek.

Vind jy dat julle geld bespaar deur ʼn groen onderneming te wees? As ons nou in terme van rand en sent praat en vergeet van bemarkingverkope.

Beslis, hoewel dit ons 16 jaar gelede ʼn klomp geld gekos het om die groen pad te stap. Daar is egter soveel besparings aan verbonde deur groen te wees, soos byvoorbeeld deur te kyk wat jy met jou afval doen en dit te hersirkuleer.

Hoe gaan julle te werk om kliënte te werf?

Ons het ʼn gefokusde bemarkingsplan wat elke afdeling van ons onderneming insluit, soos die korporatiewe mark, die troumark, die naweekmark en internasionale kliënte. Ons het ons bemarkingsplan in verskillende segmente opgedeel en hierdie bemarkingsplan word doelgerig deurgevoer. Ons betrek ook die hele personeel daarby.

Wat is tans of histories ʼn groot pyn in jou onderneming?

Ek dink die huidige ekonomie in Suid-Afrika bly maar ʼn probleem. Ons sit in moeilike ekonomiese omstandighede en ons sien en voel dit natuurlik, veral in die hotelbedryf. Hier dink ek veral in terme van die sakereisiger wat so ʼn groot deel van ons bedryf uitmaak. Dit is ongelukkig ʼn feit dat mense wat voorheen een keer per week Tzaneen toe gekom het om na hulle ondernemings of afdelings van wat hulle ook al doen om te sien of iets te verkoop, nou slegs een keer per maand of soms een keer in twee weke kom. Daar is dus beslis ʼn merkbare afplatting in die mark. Verder bly die arbeidswette en SEB maar ʼn kopseer in Suid-Afrika. Daar is net soveel fasette wat dit moeilik maak vir ons as Suid-Afrikaners om sake te doen.

Affekteer Airbnb julle mark enigsins?

Ek is regtig gelukkig, want ek was seker een van die eerste hotelle wat op Airbnb was, so ek kry kliënte van Airbnb en hulle word ook deel van die familie. Airbnb is dus ʼn voordeel.

Wat is die grootste sakefout wat jy tot dusver gemaak het?

As ek jou moet vertel gaan ons lank besig wees, want ek dink as ʼn mens in die sakewêreld is maak jy maar foute. Die grootste ding is ʼn mens moet maar net leer uit jou foute. My grootste foute was ondeurdagte bestuursbesluite wat selfs die onderneming kon kelder, maar net omdat ons ʼn goeie fondament gehad het kon ons daar deurkom. Een van dié foute was byvoorbeeld om bestuurders aan te stel wat nie die passie of liefde vir die saak gehad het wat ek self daarvoor het nie.

Hoe hanteer jy oomblikke van onsekerheid en vrees?

Ons het so twee en ʼn half jaar gelede uitgevind dat my man terminaal siek is, en dit was ʼn moeilike pad om te loop want jy loop met soveel angs en onsekerheid, want wat gaan word? Dit was eintlik ook ʼn mooi pad want ons kom saam hande vat en saam huil oor wat gaan gebeur, oor die feit dat ons weet ons moet afskeid neem. Dit was ʼn moeilike tyd. As ek regtig eerlik moet sê wat my daardeur gedra het, was dit my geloof. Ek is ʼn stoere Afrikaner en ek glo uiteindelik die enigste plek waar ʼn mens die krag vandaan kry is om terug te gaan na die Here en sy beginsels.

Watter sagteware of applikasie is vir jou baie waardevol, sou dit nou vir persoonlike gebruik wees of vir die onderneming?

Daar is nou soveel apps, so ek weet nie. Ek het ʼn Samsung-foon, en dan laai ʼn mens mos maar net apps af. Ek het byvoorbeeld ʼn “to-do list”-app afgelaai en nog ʼn hele paar ander, maar wat uiteindelik tog maar die beste vir my werk is my papiernotaboekie!

Wat is jou gunsteling-aanhaling?

Ralph Waldo Emerson wat sê: “What lies behind us and what lies before us are tiny matters compared to what lies within us.”

Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

Hulle kan my kontak deur Tzaneen Country Lodge se webwerf by www.tznlodge.co.za of per e-pos by [email protected].

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SueCBrit ·

Ons het is Julie n naweek by Tzaneen Country Lodge deurgebring tydens die Gospelfees wat hul jaarliks aanbied.
Tannie Adri en haar span is voorwaar die vriendelikste Hotel personeel wat ek enige plek ter wêreld al teë gekom het.

Tilly ·

Wat ‘n uitsonderlike mens!
Tzaneen Country Lodge is voorwaar ‘n uitstekende hotel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.