Entrepreneurskap: Van kubersekuriteit tot gesondheidskos


michael-cloete-klipkouers

Michael Cloete. Foto: Verskaf.

Hiermee ʼn voorsmakie van Jacques Basson van Klipkouers se onderhoud met Michael Cloete, besturende direkteur van Dtex Systems.

Watter ander ondernemings of bedryf is vir jou interessant of ongewoon?

Ek dink mens gaan maar deur fases en ek dink mens word meer aangetrek deur dinge soos wat jy deur daardie verskillende fases gaan. Maar ek dink die een wat my op die oomblik interesseer, is die hele gesondheidskosbeweging. As jy kyk na die volle lewenssiklus van gesond eet en ek praat nou hier nie net van organies of vryloop kos nie, maar ook die beskikbaarheid of die beskikbaar máák daarvan vir gewone mense; daardie hele lewenssiklus dit fassineer my regtig.

Ek vind ook dat dié dinge al meer hier by ons in Kalifornië en ook op ander plekke in Amerika beskikbaar raak; ek is nie baie seker hoe wyd verspreid dit is nie, maar dit gebeur nou in Suid-Afrika ook. Daar is geweldig baie verandering van die boer tot by die winkels en winkels wat slegs fokus op ʼn gesonde lewenstyl.

Ek moet sê dit is ʼn baie interessante bedryf. Hier is so ʼn bietjie ekstra inligting, maar vir die Klipkouers wat nie weet nie – die ouer Klipkouers sal onthou wie Jody Scheckter is, maar vir die jonger Klipkouers wat nie weet wie hy is nie: hy was ons eerste en enigste Formule 1-wêreldkampioen. Om die waarheid te sê, ek dink hy het in 1978 vir die wêreldkampioenskap vir Ferrari gewen en eers weer daarna, toe Schumacher gekom het, het daardie droogte weer opgehou. Maar Jody Scheckter het die grootste organiese groenteplaas in Engeland waar hy spesialiseer in organiese produkte en hy is ʼn boer, ʼn grootskaalse boer. Maar dis nou heel interessant, van ʼn Formule 1-motor af na organiese produkte!

Jy is heeltemal reg, ek ken vir Jody! Jody is ʼn oud-Oos Londenaar, waar ek gebore is en grootgeword het, dus is daar ʼn verbintenis van toe af. Maar net vir interessantheid, ek weet nie of die Klipkouers dit weet nie, toe Jody met Formule 1 klaar is, hy het ʼn kubersekuriteitsproduk gepatenteer.

In Amerika, nè? Hy was mos eers Amerika toe?

Ja en hy het dit verkoop vir – ek kan nou nie spesifiek sê nie – maar ek dink dit was oor ʼn 100 miljoen dollar, as ek reg kan onthou. Dit is waar hy sy geld gemaak het en toe het hy begin boer.

  • Die volledige onderhoud waar Michael Cloete sy wenke met entrepreneurs deel, word Donderdag gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.