[Entrepreneurskap] Vier miljard pille per jaar

nardus-alberts-klipkouers

Nardus Alberts. Foto: Verskaf.

Jacques Basson, eienaar van Klipkouers gesels elke week met ʼn ander Klipkouer-aanhouer en uithouer. Vandeesweek se onderhoud was met Nardus Alberts, eienaar van Wrapsa, ʼn farmaseutiese kontrakverpakker- en vervaardigingsonderneming in Centurion.

Vertel ons ʼn bietjie meer van jouself?

Ek woon in Centurion, het hier grootgeword en was  op Lyttelton Hoër. Daarna het ek by Tukkies studeer en in 1983 Wrapsa begin.

Wat my persoonlike agtergrond betref: ek was die nasionale bemarkingsbestuurder van SA Druggists, wat deesdae Aspen is en deel van my portfeulje was die kontrakvervaardiging van farmaseutiese produkte. Ek het toe ʼn leemte geïdentifiseer dat daar nie juis veel op daardie stadium was nie en dit was die dryfveer om te begin waarmee ek toe begin het.

Dit het egter vroeg duidelik geword dat ek een of ander kant toe moes gaan en gelukkig het ek reg gekies. Sedertdien is ons seker die grootste kontrakvervaardiger van farmaseutiese produkte in Suid-Afrika.

Ek is bevoorreg en ek voel baie trots daarop. Ons het meer as vyfhonderd mense in diens, werk op ʼn taamlike groot aanleg en ons het ʼn klein, amper familiebesigheid kan jy sê, met ʼn baie lae omset van personeel. Ek sal eintlik sover gaan om te sê Wrapsa is ʼn nasionale skat is, iets wat ons opgebou het waarvoor daar beslis ʼn behoefte  in Suid-Afrika is.

Gee ons ʼn opsomming van die soort onderneming en die bedryf?

Soos ek gesê het, is ons ʼn eksklusiewe bona fide kontrakvervaardiger en –verpakker. Maatskappye, wat die eienaars is van farmaseutiese produkte, kom na ons toe en ons koop dan die grondstowwe en verpakkingskomponente en vervaardig dit  – hetsy in ʼn room, vloeistof, tablet of kapsule. Nadat ons dit vervaardig en in ʼn verkoopbare vorm verpak het, stuur ons dit terug aan die eienaar, want ons doen geen bemarking of verspreiding as sulks nie, aangesien ons uitsluitlik ʼn vervaardiger is.

Watter probleem los jou onderneming op?

Ons het twee soorte kontrakgewers. Die een soort is ʼn maatskappy wat geen vervaardigingsgeriewe het nie en uitsluitlik ʼn bemarkingskantoor is, wat kontrakvervaardigers, -verspreiders en – distribueerders gebruik. Hierdie maatskappye maak ʼn groot gedeelte van ons kliënte uit, maar ons kry ook kontrakte van bestaande vervaardigers, wat meen die volume van hul produk is te klein en dit is te duur om die verskillende dele aan te koop om die produk te vervaardig.

Wat maak jou onderneming anders as jou mededingers en hét jy mededingers?

Ons het mededingers. Enige plek wat ʼn vervaardigingsuitleg het, kan beskou word as mededinging, al is dit een van die grotes wat sy eie produkte het. So ʼn maatskappy kan dalk spaarkapasiteit hê en dit dalk benut om produkte te maak wat ek ook kon gemaak het, dan is dit ʼn mededinger.

Dis my drie-en-dertigste jaar in die onderneming en dit gaan nog steeds net beter. Die intreevlak vir hierdie soort bedryf is geweldig hoog, dis vreeslik duur en die marges vir ʼn kontrakvervaardiger is relatief laag. Ons is maar volume-gedrewe en daarom is daar minder opposisie. Almal is maar in ʼn mate mededingers. Jy kan hulle beskou as mededingers, maar die paar wat in Suid-Afrika is het elkeen omtrent sy eie mark geïdentifiseer. Dit is ʼn relatief klein bedryf. Ek ken die meeste van die kontrakgewers waar daar potensiaal is persoonlik en dus krap ons nie in mekaar se agterplase nie.

Wie is jul teikenmark of ideale kliënt?

Enigiemand of enige onderneming wat ʼn farmaseutiese produk besit, is uit die aard van die saak vir ons ʼn teikenmark. Dit is ʼn relatiewe klein mark in Suid-Afrika. Ons doen wel sake met internasionale ondernemings, maar oor die algemeen is dit ʼn plaaslike mark met plaaslike kontrakgewers en ons verskaf baie produkte indirek aan die staat. Hier doen ons vervaardiging vir ondernemings wat oor die jare doserings aangekoop het en net fokus op die verskaffing vir staatstenders. Jy sal byvoorbeeld nie hulle produkte êrens op die rak kry nie, maar jy sal dit in al die klinieke in Suid-Afrika kry.

Wat is die grootste sakefout wat jy tot dusver gemaak het?

Mens wil nie eintlik sê jy’t ooit ʼn fout gemaak nie, maar ek het vroeër genoem die waarde van die farmaseutiese bedryf lê in die eienaarskap van produkte. Dit is ongetwyfeld so en ek het die besluit geneem toe ons die onderneming jare terug begin het, dat ek uitsluitlik kontrakvervaardiging wil doen. Daarom het ek nooit produkte of doserings probeer koop of ontwikkel om vir my ʼn eie reeks produkte op te bou nie. Ek dink baie van my huidige kontrakgewers waardeer dit, want ek ding nie met hulle in die mark mee nie. Die besluit was in ʼn mate goed om my kliënte gerus te stel, maar aan die ander kant het my kontrakgewers gesê dit was miskien nie kommersieël baie slim nie, want dít is die waarde. Die geld lê eintlik in die eienaarskap van doserings, maar dit is die bed wat ek gemaak het en dit gaan so bly.

Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?

Die kliëntebasis is relatief klein. Ek ken die meeste van die potensiële kontrakgewers persoonlik en ons groei dus soos hulle groei. So nou en dan sien ons kleiner ondernemings wat die mark wil betree, maar dit gebeur deesdae meer en meer wanneer patente verval het. Maatskappye ontwikkel middels waarna ons in Suid-Afrika in Engels verwys as CAMs, dis nou Complimentary and Alternative Medicines en die mediese beheerraad of die departement van gesondheid wil graag die klomp produkte – en daar’s derduisende van hulle – ook inbring onder die 101 geregistreerde medisyne. Om dit te doen, sal die produkte ook vervaardig moet word in gebiede wat erkenning geniet, soos byvoorbeeld Wrapsa. Dit sal beteken jy kan nie sommer meer ʼn produk in jou kombuis maak en dit op straat verkoop nie. Hulle probeer dit stop en dus is daar ook ʼn geweldige groot potensiële pyplyn wat vir ons lê en wag.

Wat is tans of histories ʼn groot pyn in julle besigheid?

Ek dink daar is twee dinge. Die eerste is arbeidsonrus, wat ek glo maar vir meeste ondernemings geld. Mens weet nooit wat wag nie en nie net met my mense nie. Ek wil altyd sê my mense is gelukkig, maar daar is gedurigdeur maar wroeging. Tweedens is die burokrasie in Suid-Afrika ʼn probleem. Om ʼn nuwe produk te registreer, neem soms vyf of ses jaar en jy kan jouself dus indink hoe dit die wind uit jou seile vat as jy ʼn nuwe produk het wat jy weet broodnodig is vir die mensdom, maar jy moet vyf jaar wag voordat jy dit eers op die mark kan kry, want dis hoe lank dit ons neem om dit deur die kanale te kry.

Hoe kan die Klipkouers met jou kontak maak?

My e-posadres is [email protected].

Luister na hierdie episode op www.klipkouers.com

Klipkouers is ‘n weeklikse podsending waar sakeman, Jacques Basson, met plaaslike en internasionale Afrikaner entrepreneurs en impakmakers gesels ten einde die beste praktiese besigheids-en lewensadvies met jou te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.