Fnuik selfoondiewe só

selfoon-selfoondata-slimfoon

Foto: Trofos/Pexels.com

Slimfone is van die draagbare items wat die meeste gesteel word. Só toon eisstatistieke deur die versekeringsmaatskappy, Virseker.

“Die ongerief om ʼn so ʼn duur toestel en daarmee saam jou kontakte en foto’s kwyt te wees, is een ding,” het Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker, luidens ʼn persverklaring gesê. “Die feit dat misdadigers toegang tot jou apps, e-posse, wagwoorde en bankrekeninge kan kry indien dit nie behoorlik bewaar word nie, beklemtoon die kardinale belang van waaksaamheid wanneer dit by foonsekuriteit kom.”

Volgens die verklaring is slimfoondiefstal ʼn opportunistiese misdaad. “Boewe sien ʼn foon wat by ʼn sak of handsak uitsteek, op ʼn koffietafel lê of op die skoot van ʼn motoris wat met ʼn oop venster ry, en hulle slaan onmiddellik toe. Siende dat slimfone ʼn goeie paar duisend rand werd is op die swartmark, is dit ʼn maklike manier om geld te bekom.”

Misdadigers is ook besig om slimmer en meer doeltreffend te word met diefstal. “Van sakkerollery, tot die steel van fone in verkeer en selfs die gebruik van kinders as aandag-afleiers om hulle te help om die taak uit te voer,” lui die verklaring.

Virseker gee die volgende nuttige wenke om jouself te beskerm teen selfoondiefstal:

  • Wees baie versigtig met die soort inligting wat jy op jou foon stoor en deel. Vermy dit byvoorbeeld om foto’s van jou ID of boodskappe met jou kredietkaartbesonderhede te berg.
  • Tref die nodige voorsorgmaatreëls om die inhoud van jou foon te beskerm en ʼn rugsteun, of “backup” daarvoor te hê. Begin met sterk wagwoorde, vingerafdruk- of retina-herkenning en verseker dat jou foon jou toestemming vra voordat dit via WiFi of Bluetooth aan enige ander toestel koppel.
  • Moet nooit sensitiewe transaksies, soos elektroniese geldoorplasings, oor onbeveiligde WiFi verbindings doen nie.
  • Installeer ʼn nasporings-app om te help om jou foon op te spoor wanneer dit gesteel word – een wat jou toelaat om die inhoud daarvan uit te wis indien nodig, selfs al is jy nie by die foon nie.
  • Hou jou foon versteek wanneer jy dit nie gebruik nie – vermy dit om dit oop en bloot op ʼn tafel of motorpaneelbord te laat, of dit sonder toesig in jou kantoor of ander openbare ruimte te laat.
  • Skakel jou foon na silent- of vibreermodus wanneer jy in ʼn openbare plek is en antwoord dit slegs wanneer dit veilig is.
  • Wees voortdurend bewus van jou omgewing – wees veral op die uitkyk vir vreemdelinge in jou persoonlike ruimte, of vir dié wat probeer om jou aandag af te trek, selfs al is hulle kinders.
  • Hou ʼn veilige rekord van jou foon se PUK- en reeksnommers.
  • Indien jou foon gesteel word, rapporteer dit onmiddellik aan jou netwerk-operateur en verkry ʼn swartlys-verwysingsnommer. Wanneer ʼn foon geswartlys is, sal die dief dit nie kan gebruik en jou rekening die hoogte in dryf nie.
  • Maak seker dat jou foon genoegsaam verseker is teen die korrekte vervangingswaarde.

“Jy kan op enige gegewe tydstip ʼn klein fortuin in die vorm van ʼn selfoon saam met jou dra”, het Twilley gesê. “Terwyl draagbare goedereversekering jou teen diefstal en sekere soorte skade aan hierdie toestelle dek, is dit wys om liefs versigtig en waaksaam te wees om skade sowel as diefstal te vermy.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pierre Van Zyl ·

Gaan soek na “https://www.preyproject.com/”. 3 devices verniet, daarna betaal. Al my goed is daarop. Fone, Laptops, Rekenaars. Werk soos ‘n droom. Laai dit ook op al my kliente se nuwe laptops.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.