Geen inkopietoue meer in toekoms

‘n Skermskoot uit die video

Die aanlyn handelsgroep Amazon het vandeesweek sy eerste Amazon Go-winkel in Seattle in Amerika geopen waar klante nié in inkopietoue hoef te staan om vir hul goedere te betaal nie.

Dit volg nadat dié inisiatief die eerste keer in 2016 bekend gemaak is.

Amazon Go – wat later as kettingwinkel uitgebrei gaan word – se doel is volgens die maatskappy om klante se koop-ervaring te verbeter deur hul tyd optimaal te benut danksy slim tegnologie.

In dié winkel sal klante nooit weer in ʼn tou moet staan om vir hulle inkopies te betaal of op die tande moet kners wanneer hulle met ʼn kaart betaal en vir ʼn trae masjien moet wag nie. Klante kan as’t ware die winkel inloop, die items wat hulle benodig in hulle eie mandjie pak en dan weer uitstap.

Só werk dit
Dieselfde tegnologie wat in selfaangedrewe motors gebruik word, is ook in die winkel. Daar is onder meer rekenaarvisie wat die rekenaar in staat stel om te weet watter items jy optel, terugsit en selfs op ʼn ander plek neersit. Al wat jy benodig, is ʼn slimfoon, ʼn Amazon Go-rekening en ʼn Amazon Go-app. Wanneer klante die winkel verlaat, sal die rekening na die app gestuur en deur middel van die internet betaal kan word.

Wat kan jy koop?
Amazon Go verkoop klaargaar ontbyte, middagetes en aandetes. Al die etes word deur sjefs voorberei wat in die kombuis van die winkel werk. Daar is ook goedere van plaaslike bakkerye. Klante kan ook bestanddele soos onder meer stysel- en suiwelprodukte koop. Die winkel is van Maandag tot Vrydag oop van 07:00 tot 21:00.

Hoe lyk die toekoms?
Die enigste Amazon Go-winkel is tans in Seattle. Die idee daaragter is om ʼn koop-ervaring te skep waar klante vinnig en moeiteloos hulle goedere kan aankoop – en terselfdertyd van tegnologie gebruik maak. Volgens dié handelsgroep is soortgelyke winkels die toekoms van inkopies doen. Planne om internasionaal uit te brei, word later bekend gemaak.

Vir meer inligting, besoek Amazon Go.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Peter Tebbutt ·

DIT SAL BAIE TYD BESPAAR VIR ONS EERLIKE MENSE MAAR EK TWYFEL OF DIT IN AFRIKA SAL WERK VERAL IN S.A. WAAR KORRUPSIE EN DIEFSTAL NOMMER EEN OP DIE RANG LYS IS
WAT VAN DIE PERSONE WAT NIE GAAN BETAAL NADAT HY SY BOODSKAP GEKRY HET VAN DIE BEDRAG. HY GAAN DIT AFLAG BV GAAN KOOP R5000.00 SE GOEDERE LOOP HY UIT EN BETAAL NIE DIE OPSPORINGS PROSES GAAN MEER KOS AS WAT DIE WAARDE IS NEE WAT AMEZONE BLY MAAR IN DIE VSA DAAR WAAR DAAR DARM NOG N MATE VAN SELF RESPEK EN EERLIKHEID IS

Mike Kaapstad ·

slim moet hier gebeur , winkels sal een vir een toe maak…………….

Hendrik ·

Uitstekend. Ek sal daarvan hou. Ek kan ook nie wag vir my eerste elektriese motor. Laai die moter sommer by die huis.

Derick van Zyl ·

PS: Dit is stokou nuus. Daar is baie winkels in Europa en Amerika wat lankal reeds met RFID tegnologie werk.

Meraai ·

Ek was in ‘n winkel in Washington waar daar geen kassiere’s is nie. Jy gaan na ‘n betaal punt toe. Scan alles wat jy het self en betaal dan ook net daar. Toe ek my goed wou betaal het ek die storie eers staan en bekyk. Toe kom iemand na my toe en vra wat is fout. Verduidelik dat ek graag wil betaal maar verstaan nie lekker die dat niemand by die kassiere is nie. Hy vertel toe ek scan en betaal en loop. Hy het my toe gehelp. Moes toe net daar die man vertel dat die opset glad nie in my land gaan werk nie. Hom vertel ons vertrou maar min in SA en dat dit nooit sal werk nie. Ja die winkels hier gaan vinnig hul deure toemaak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.