Die immergewilde Chelsea-blommeskou wat jaarliks by die Royal Hospital Chelsea in Londen gehou word, is vanjaar as gevolg van internasionale inperkings virtueel te sien.
Koningin Elizabeth, wat ʼn lid van die Koninklike Tuinbouvereniging is wat die blommeskou aanbied, het ʼn brief met haar beste wense vir die virtuele skou gestuur.
“Ek en my familie het dit nog altyd geniet om die skou by te woon en ek weet baie lede en ondersteuners is teleurgesteld dat hulle nie vanjaar persoonlik die skou kan bywoon nie,” skryf sy.
Sy sê sy was bly om te hoor dat tuinmaak-advies en virtuele sessies steeds op hul webtuiste beskikbaar gaan wees ten spyte van die wêreldwye pandemie wat byna alle lande in die wêreld inperk.
“My ma, koningin Mary, wat vir die eerste keer die Chelsea-blommeskou in 1916 bygewoon het, sou verheug gewees het dat baie mense vandag nog entoesiasties is oor tuinbou en dat dit steeds ʼn gewilde tydverdryf in die Verenigde Koningryk is.”
Die virtuele Chelsea-blommeskou is vanaf 18 tot 23 Mei op hul webtuiste te sien met ʼn program vir elke dag.
Woensdag is daar byvoorbeeld virtuele sessies oor die gesondheidsvoordele van tuinmaak, asook kenners wat hul wenke deel oor hoe om tuin te maak. Vrydag praat hulle oor hoe tuinbou ʼn groot rol speel in die ondersteuning van die natuur en die omgewing, en Saterdag word die skou afgesluit met die fokus op tuine in kleiner ruimtes.
As die Oueen betrokke is laat dit dan eerder verdwyn. Baie trane is in die land gestort oor aksies wat teen ons uit die koningshuis geloods is.