Gewilde avontuurfiets nou nog beter

(Foto: Brian Cheyne)

Ons vryheid van beweging was steeds ingeperk toe Honda die 2020 Africa Twin Adventure Sports by my kom aflewer het. Dit is ’n fiets vir die lang pad, die ooptes van die Karoo. Ek moes toe maar kreatief dink en ’n korter, plaaslike roete uitwerk. Dit is egter toe ek my been oor die fiets gooi en my valhelm opsit dat ek skielik vry gevoel het. Wette en inperkings het verdwyn in my truspieël. Toe gaan soek ek ’n lang stuk grondpad waar ek selfs daardie beelde kan agterlaat in die stof.

Ek was in Desember by die bekendstelling van die nuwe Africa Twin. Die fiets voel amper na “ou nuus”, maar daar is nog baie wat ek kan sê van hierdie nuweling. Ek het ’n jaar gelede die vorige generasie Adventure Sports getoets en ek moes die ou foto’s gaan uitkrap om my te vergewis van wat alles nuut is. Die ontwerp van die fiets het maar min verander en jy moet mooi kyk om die verskille raak te sien.

As jy sukkel: die voorkant het nou ’n ekstra stel LED-liggies onder die hooflig en die nuwe, groter instrumentepaneel sal jou wys of jy met die nuwe een te doen het of nie. Die ou een was reeds goed, en Honda het nie ingrypend aan ’n wenresep gaan karring nie. Daar ry alreeds bykans 90 000 Africa Twins oor die wêreld rond en veral die Europeërs hou baie van hierdie Japannees.

(Foto: Brian Cheyne)

Minder opsigtelike veranderinge is die enjin wat nou met 100 cc gegroei het, met 7% meer krag en 6% meer wringkrag. Nog ’n subtiele verandering is dat hele agterste deel van die raam en selfs die swaaiarm nou van aluminium is. Die saal is ook nouer waar dit by die tenk aansluit, wat dit makliker maak vir korter ryers om die fiets te hanteer.

Die elektronika is ingrypend verbeter met meer ryprogramme om van te kies en sensors wat nou alle hoeke van die fiets monitor en aanpas soos jy ry.

Soos ek berig het tydens die bekendstelling het Honda dit reggekry om die standaard Africa Twin en die Adventure Sports soos twee verskillende fietse te laat voel. Die fokus op albei fietse was steeds sy vermoë af van die teerpad. Die Adventure Sports voeg net meer luukshede by vir die langpadryer.

Die Adventure Sports is ’n groot fiets. Die brandstoftenk hou 24,8 liter brandstof en die tenk is baie prominent. Voor jou pryk daar nou ’n 6.5” TFT-raakskerm wat seker die grootste verbetering op die nuwe fiets is. Daaronder is ’n kleiner vloeikristal-eenheid wat onder andere jou spoed wys. Dit is handig wanneer jy die TFT-skerm gebruik vir navigasie met Apple se Carplay. Om al hierdie nuwighede te beheer, het die linkerkantse handvatselkontroles heelwat nuwe knoppies bygekry. Daar is nou 16 knoppies net aan die linkerkant!

Die windskerm van die nuweling is nou uiteindelik verstelbaar en daar is ’n gewone 12 v-sok asook ’n USB-sok op die instrumentepaneel. Spoedbeheer is standaard op die Adventure Sports. Saam met die dubbelkoppelaar-outo-kas (DCT) maak dit van hierdie fiets ’n volwaardige langafstandtoerfiets.

Dit bly ’n plesier om hierdie fiets te ry. Die DCT is ’n groot verbetering op die vorige weergawe, maar dit bly ’n blikbrein wat nie my brein kan lees nie. Ek het tog by tye gevoel ek wil in beheer wees, maar hoe meer jy ry, hoe meer begin jy die stelsel vertrou. Op die bekendstelling het die DCT my baie beïndruk, veral as die roete tegnies raak.

Ek het ’n rustige roete uitgewerk en my verlustig aan hoe moeitevry die Africa Twin sy ding doen. Die vering is elektronies verstelbaar en in verskillende ryprogramme kan jy fisiek voel hoe die fiets verstellings aanbring. Op my lang stuk grondpad het die fiets hom uitstekend gedra. Die staan-posisie op hierdie fiets is so perfek vir my lengte dat ek amper vergeet het om weer te gaan sit. In my opinie is die Adventure Sports seker die logiese keuse as ek my eie geld moet uithaal. Dit kan ’n lang en eentonige pad met gemak kafdraf, maar jy kan met vertroue hom ver in die boendoes in ry ook. Al is ons hoe ingeperk, vryheid is net ’n Africa Twin Adventure Sports weg!

Produkblad:  https://www.honda.co.za/motorcycles/crf1100-adventure-sports

Die feite:

Enjinkapasiteit1084 cc
Gewig (Nat)248 kg
Kraglewering75 kW @ 7 500 r.p.m.
Wringkrag105 Nm @ 6 250 r.p.m.
Tenkkapasiteit24,8 ℓ
Saalhoogte850/870 mm (die sitplek kan sonder gereedskap verstel word )
PrysVanaf R236 000

Vanaf R269 000 vir die DCT-model

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michael 1 ·

Dit is n goeie fiets ,baie mooi maar vir die prys bly ek maar by bmw GS.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.