Gewildste foto’s en video’s op Instagram bekend gemaak

Beyoncé se foto was die gewildste foto van die jaar op Instagram. (Foto: Instagram)

Instagram het Donderdag vanjaar se top-10 foto- en video-plasings op dié sosialemediaplatform vir 2017 bekendgemaak.

Die Amerikaanse sangeres Beyoncé, die Portugese sokkerspeler Cristiano Ronaldo en die Amerikaanse popsangeres Selena Gomez se foto’s was vanjaar die gewildste en neem onderskeidelik al 10 plekke in.

Beyoncé se foto van haar swangerskap met die tweeling, Rumi en Sir Carter, was die gewildste foto met meer as 11,1 miljoen mense wat daarvan gehou het. Sy is ook in die vierde posisie met ʼn foto van haar en die tweeling ná hul geboorte. Meer as 10 miljoen mense het van dié foto gehou.

In die tweede plek is Ronaldo se foto van sy gesin nadat sy vriendin lewe geskenk het aan hul dogtertjie, Eva Maria. Die foto is eers op 12 November geplaas en meer as 11 miljoen mense hou reeds daarvan. Ronaldo neem ook die vyfde plek in met sy foto waar hy sy tweeling, Alana Martina en Mateo, wat in Junie vanjaar gebore is, vashou.

Nog ʼn foto van Ronaldo saam met sy gesin is ook in die agtste posisie. Ronaldo het ook ʼn sewejarige seun, Cristiano jr, maar hy het nog nooit die identiteit van die kind se ma bekendgemaak nie.

Gomez se foto van haar en ʼn vriendin in die hospitaal is in die derde plek met 10,3 miljoen mense wat daarvan gehou het. Die foto is geneem net voor sy en Francia Raisa opgeneem is om geopereer te word. Raisa het ʼn nier aan Gomez geskenk.

“So, ek het uitgevind ek moet ʼn nieroorplanting kry weens my lupus,” het sy by die foto geskryf. “Daar is nie woorde om my pragtige vriendin Francia Raisa te bedank nie. Sy het vir my die grootste opoffering en geskenk gegee deur haar nier aan my te skenk.”

Gomez neem ook die sesde en sewende plek in met foto’s van haar en die Amerikaanse sanger Abel Makkonen Tesfaye, beter bekend as The Weeknd. Die paartjie is intussen uitmekaar.

Sy neem die negende plek in met ʼn smeulende foto van haarself op ʼn fiets. Meer as 7,1 miljoen mense het van die foto gehou. In die tiende plek is nog ʼn kleurryke foto van Gomez op haar 25ste verjaardag, met net meer as 7 miljoen wat daarvan gehou het.

Gomez het ook twee video-plasings in die top-10. Sy beklee die derde posisie met ʼn video van haar wat ʼn jong aanhanger so styf vasdruk dat hulle op die vloer val. Meer as 18 miljoen mense het van die video gehou. Sy beklee ook die agtste plek met ʼn bemarkingsvideo van nuwe musiek wat vrygestel gaan word. Meer as 14,7 miljoen mense het van dié video gehou.

Ronaldo het ook vyf video-plasings wat die top-10 gehaal het. Sy video waarin hy met ʼn splinternuwe Bugatti Chiron rondrits, het die eerste plek behaal met amper 20 miljoen mense wat daarvan hou. Hy beklee ook onderskeidelik die vierde, vyfde, sesde en negende plek met sy video’s van luukse motors en doele wat behaal is tydens sokkerwedstryde.

Die Argentynse sokkerspeler Leo Messi beklee die tweede posisie met ʼn video-montage van sy sokkerloopbaan. Meer as 15 miljoen mense het van die video gehou. In die sewende plek is ook ʼn video van Messi. Hy dans met sy nuwe bruid, Antonella Roccuzzo. Die paartjie is in Julie getroud en bykans 13 miljoen mense het van die video gehou.

Emilia Clarke, beter bekend as Khaleesi in die dramareeks Game of Thrones, se grappige video van haar mede-akteur Kit Harrington, wat die rol van Jon Snow vertolk, het die tiende plek behaal met meer as 17,6 miljoen mense wat daarvan gehou het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.