Groot nuus vir iPhone-eienaars ná omstredenheid

iPhone 7 (Foto via Mirror)

Nadat Apple in Desember verlede jaar bevestig het dat hy sy ouer iPhone-fone stadiger maak, gaan dié reus dit nou moontlik maak vir eienaars van ouer fone om hul batterye teen ʼn afslagprys te vervang.

Apple was verlede jaar in omstredenheid gehul nadat hy erken het dat sy ouer iPhone-fone se werking stadiger word weens sagteware-opgraderings wat nie deur die verswakte batterye hanteer kan word nie.

Apple-aanhangers was veral warm onder die kraag omdat dít gebeur sonder dat die maatskappy vir gebruikers ʼn goedkoop manier gee om ou iPhone-fone se batterye te vervang.

Apple het onlangs bekend gemaak dat die batterye van sommige van sy fone nou teen R430 vervang kan word.

Dié fone kom in aanmerking:

  • iPhone SE
  • iPhone 6 Plus
  • iPhone 6s
  • iPhone 6s Plus
  • iPhone 7
  • iPhone 7 Plus

Só werk die proses:

Diegene wat in aanmerking wil kom vir dié afslagprys moet eers ʼn afspraak maak op die iStore-webwerf. Nadat jy ʼn afspraak gemaak het, moet jy jou iPhone na een van die 24 iStore-winkels landwyd neem.

“Tegnici sal in die winkel kyk of jou iPhone in aanmerking kom vir die nuwe battery. Jou slimfoon sal daarna na ons dienssentrum gestuur word vir ʼn volledige tegniese assessering en om uiteindelik die battery te vervang,” lui ʼn verklaring op Apple se webwerf.

Die maatskappy sal self ʼn afspraak by die dienssentrum maak vir die assessering. Eienaars moet bereid wees om tussen drie en vyf dae sonder hul selfone klaar te kom.

Belangrik om te onthou

  • Stoor al die inligting op jou iPhone op ʼn eksterne hardeskyf.
  • Deaktiveer die ‘Find my iPhone’-opsie

Om ʼn afspraak vir jou selfoon te maak, besoek die iStore-webwerf. Kyk ook op die iStore-kaart waar die naaste winkel aan jou is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris ·

Maak dit so moeilik moontlik. Wie kan vandag vir vyf dae sonder sy slimfoon klaarkom vir die assesseering daarvan en dan nog die kans staan om afgekeur te word vir die paar rand korting op n battery. n Vriend van my het altyd gesê ” nie werd die moeite nie”

Marcel ·

Hulle moet dit verniet doen man! Hulle lieg al jare daaroor nou moet ons nog betaal vir hulle lieg stories. Ek sal nie n sent betaal om daai battery te vervang nie.

Jakes Kruger ·

Belaglik, maak so moeilik moontlik want hulle weet mens sal nie 5 dae sonder n foon sit nie. Was nou al vir jare n iPhone ondersteuner maar met laaste software update en niu hierdie storie weet ek nie meer nie???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.