Is ons in die robot-eeu?

Betty-The-Telegraph

Betty die robot. Foto: Telegraph.co.uk

Isaac Asimov, grootmeester van moderne wetenskapfiksie, het die term robotika in sy klassieke versameling kortstories, I, Robot, geskep. Meer as ses dekades later word die woord nou algemeen gebruik terwyl daar niks fiktiefs aan die term kleef nie.

Betty sal jou vriendelik groet by die hospitaal se ontvangstoonbank, die kantore patrolleer en die temperatuur, humiditeit en geraasvlakke moniteer, ʼn personeeltelling doen en kyk of die branddeure gesluit is.

Betty is ʼn leerlingkantoorbestuurder by ʼn hospitaal in Milton Keynes, Engeland. Sy is ook ʼn robot wat deur ʼn span van die Universiteit van Birmingham gebou is. Wanneer sy moeg is, sal sy haarself herlaai.

Robotte het die rol van ontvangsklerke by twee Belgiese hospitale oorgeneem. Pepper, die mensagtige robot, is 1,4 m lank, praat stadig, maar is baie vriendelik, beweeg op wieletjies, onderskei tussen vroue en kinders en herken 20 verskillende tale.

Selfs as ʼn mens verkeersligte weglaat, is robotte lankal met ons. Maar nou word hulle nie net by plekke soos motorfabrieke gebruik nie, maar ook om melkplase te bestuur en as ontvangsklerke op te tree.  En dis lank nie al nie, want dit lyk of ons in die robot-eeu is.

Daar is tans meer as ʼn geskatte 1,2 miljoen industriële robotte wêreldwyd. Hulle ontleed reeds dokumente, verwerk voorskrifte, verpak hulle en hanteer ʼn magdom ander take wat voorheen eksklusief deur mense verrig is.

ʼn Japanse groothandelaar het lank reeds ʼn baba-oppasser en die Hello Kitty-robot vertel grappies, vra raaisels en kan kinders vind met sy ingeplante radiofrekwensie. Robotte sal binne enkele jare vyfvingerhande hê wat ruimtestasies skoonmaak en ruimtevaarders met hul take help en hulle is natuurlik lankal besig op die Maan, Mars, asteroïedes en elders in die ruimte.

Daar word ook gewerk aan robotte wat gevaarlike reddingsaksies kan onderneem en hoewel hulle nog nie soldate vervang het nie, word hommeltuie al meer vir verkenning en oorlogmaking aangewend.

Maatskappye is voortdurend op soek na maniere om meer produkte met minder werknemers te verskaf. Outomatiese tellermasjiene (OTM’s) oftewel kitsbanke het ʼn magdom bankkassiere vervang, virtuele assistente kan die telefoon 24/7 antwoord en masjiene verminder die hoeveelheid sekuriteitskontroleurs.

Koerantkantore

Maar wag: Robotte verrig ook reeds die funksie van joernaliste in koerantkantore en skryf berigte blitsvinnig, soos die nuusberiggie vir Associated Press oor ʼn firma se kwartaalprofyt: 50 woorde binne een sekonde! Dis nou nie juis skeppende joernalistiek nie, maar die robot het ʼn klomp feite verorber, gerangskik en al die feite weergegee sonder dat dit geredigeer moes word.

Robotte word veral vir die “sleurwerk” aangewend, wat joernaliste toelaat om die stories te skryf wat regtig menslike intelligensie verg soos profiele, kommentaar en tendensgebeure – die soort stories waarvan joernaliste regtig hou.

Verlede jaar het hierdie sagteware van Automated Insights 300 miljoen stories geskryf. Dis meer as enige ander mediahuis in die wêreld. Dis nou nie juis stories met byt nie, maar goed soos samevattende sportverslae, finansiële verslae en stories wat net die feite vereis.

Robotte word ook aangewend om die basiese te doen deur feite te rangskik, waarna die berig in die hande van joernaliste gelaat word vir oordeel, ontleding en interpretasie.

Robbie Allen, hoofbestuurder van Automated Insights, sê die publikasiebedryf word met sy sakemodel deur baie uitdagings in die gesig gestaar en nuwe rigtings moet ingeslaan word. Hy is nie bekommerd oor die joernaliste se toekoms nie.

“Ons tegnologie simuleer wat ʼn data-analis doen tien keer vinniger, dit simuleer nie die werk wat ʼn joernalis goed doen nie.”

(Net terloops: Daar steek geen waarheid in die gerug dat Hlaudi Motsoeneng R2 miljard gaan bestee om robotte van sy keuse by die SAUK aan te stel nie.)

Melkplase

Dis melktyd op ʼn plaas in Australië. Die koeie is op pad melkstal toe, maar hulle is nie haastig nie. Hulle bulk, eet en maak miskoeke. Hulle word nie deur ʼn menslike klok gereguleer nie en word nie deur die plaasboer se tradisionele, antisosiale tydtafel (vir mens en dier) met sonop en sononder gemelk nie. Hulle hoef ook nie met geswolle uiers in ʼn tou te staan sodat hul tiete deur ʼn mens ontsmet kan word nie.

Om die waarheid te sê, daar is skaars ʼn mens in sig op hierdie plaas in Nieu-Suid-Wallis, want die koeie melk hulself – alles te danke aan outomatiese melkmasjiene, waarvan die eerste prototipes al 40 jaar gelede vervaardig is. Hulle melk koeie volgens ʼn patroon wat ooreenstem met hul ritme vir wei, water drink, rus en lakteer. Daar is geen honde wat aan hul hakskene byt en blaf nie.

En weg is die rugbreekwerk waaraan melkboere al twee eeue lank blootgestel is. Daar is al meer as 40 sulke plase in Australië en groot getalle elders ter wêreld, veral in Europa en ook in Indië.

In Winnipeg, VSA, daal die kwik in die winter tot -12 ºC. As jy ʼn koppie water in die lug opgooi, vries die water voor dit grond raak.

Hoe op aarde kan jy in sulke omstandighede ʼn melkplaas hê? Met robotte.

Sunny Glade-plaas het robotte wat die koeie melk, die kos meng en dit aan die diere voer. Daar is ook sensors aan elke koei wat haar aktiwiteite en herkou meet en selfs toon wanneer hulle op hitte is of ʼn besmetting of besering het.

Dit alles beteken ʼn plaas met 200 melkkoeie kan maklik deur drie mense bestuur word sonder dat hulle douvoordag hoef op te staan.

Navorsing

In Engeland het ʼn navorser vroeër vanjaar ʼn verstommende ontdekking gemaak wat dalk nog miljoene lewens kan red. Sy het die chemiese samestelling geïdentifiseer wat die ensiem in Plasmodium vivax effektief aanval – dis die mikroskopiese parasiet wat die meeste van die wêreld se malariagevalle veroorsaak. Sy het nie lof of ʼn bonustjek of selfs ʼn klop op die rug verwag nie, want soos lesers reeds sal raai, is sy ʼn robot.

Eve is ʼn robotiese wetenskaplike in ʼn laboratorium by die Universiteit van Manchester en sy is ontwerp om nuwe middels teen siektes vinniger en goedkoper as haar menslike eweknieë te vind.

Prof. Leslie Willcox van Engeland is ʼn wêreldgesaghebbende oor meganisasie en sê die werk wat in gevaar is, het ʼn hoë volume, is hoogs herhalend en nie geskik vir mense nie.

Robotte, sê hy, werk sonder ophou, maak nie foute nie en word in baie besighede as nuttige spanlede verwelkom omdat hulle doen wat mense nie wil doen nie.

Daar is ʼn geweldige data-ontploffing en die vrees dat robotte mense sal vervang, word getemper deur die realiteit dat nuwe werksgeleenthede geskep word in die plek van dié wat aan masjiene afgestaan word.

Sal dit nie ‘n wonderlike dag wees as robotte mense totaal as soldate vervang nie?

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Blikslim, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

John ·

Wat? Org, jy speel. Jou laaste sin gee my kouekoors. Dit sal meer as net ‘n kwade dag wees…

Wicus ·

Stem John!

Hoekom het jy dan nog mense nodig?

Gin wonder psigiatriese inrigtings loop oor nie.

Leerling ·

Dit is waarom ons op hoogte moet bly met tegnologie, neons kinders programmering, data analise ens. moet aanleer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.