Navorsers van die Riken-navorsingsinstituut van Tokio, het voorgestel dat die probleem van ruimterommel aangespreek word deur gebruik te maak van laser wat deur fyn optiese kabel gerig word. Die ruimterommel sal deur ’n teleskoop op die Japannese komponent van die Internasionale Ruimtestasie opgespoor word.
Die navorsers meen die metode sal die rommel genoegsaam rem dat dit terug in die aarde se atmosfeer val en uitbrand.
Hul bevindings is in die jongste uitgawe van Acta Astronautica gepubliseer.
Volgens ’n Nasa-berekening was daar verlede jaar reeds meer as ’n halfmiljoen stukke ruimterommel so groot soos albasters of groter om die aarde, en trek hulle teen ongeveer 25 000 km/h.
Bron: Christian Science Monitor