Jupiter onttroon as planeet met meeste mane

Enceladus, een van Saturnus se mane. (Foto: Nasa via Wikipedia)

Jupiter, die groot gasreus sowat 778,5 miljoen km van die son, was lank die planeet wat met die meeste mane gespog het. Om en by 79 mane wentel om dié planeet met die rooi kol.

ʼn Onlangse ontdekking deur astronome, gelei deur Scott Sheppard by die Carnegie-wetenskapinstituut, het die grootste planeet in ons sonnestelsel se kroontjie van sy kop gestamp toe hulle ontdek het dat Saturnus, die planeet wat bekend staan vir sy ringe, 20 meer mane het as wat aanvanklik gedink is. Die planeet se mane staan nou op 82.

ʼn Subaru-teleskoop, op Hawaii se Mauna Kea-eiland, is in die ontdekking gebruik.

Hierdie nuutontdekte maantjies het almal ’n deursnee van ongeveer 5 km en 17 van hulle wentel in die teenoorgestelde rigting om Saturnus as die ander. Twee van die mane neem twee jaar om rondom Saturnus te wentel, en die ander drie jaar.

Wetenskaplikes meen die meeste van hierdie nuutontdekte maantjies was eens deel van ’n groter maan wat uitmekaar gebreek het.

melkweg_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

In nog ruimtenuus glo sekere wetenskaplikes dat daar nog ʼn enorme planeet in die Melkweg-sterrestelsel is wat net buite teleskope se visier wegkruip. Ander beweer dat dit dalk ʼn krieketbal-grootte gravitasiekolk kan wees, in Engels bekend as ’n “primordial black hole”.

Die ontdekking is gedoen nadat wetenskaplikes mettertyd besef het dat Neptunus – die groot, blou, ysige planeet, sowat 4,495 miljard km van die son – se wentelbaan versteur word. Die ondersoeke het aanvanklik daartoe bygedra dat Pluto ontdek is, wat toe as die negende planeet gesien is, maar nie die afwykings kon verklaar nie. Pluto is intussen ook van sy status as planeet gestroop.

Daar is dus voortgegaan om na dié wegkruiper-planeet, wat intussen Planeet 9 gedoop is, te soek. Die vreemde wentelbane van ’n aantal klein ruimtevoorwerpe staaf die aanname dat daar ’n reuseplaneet in die uitgestrekte ruimte aan die anderkant van Neptunus moet wentel.

Die vreemde beweging van die voorwerpe anderkant Neptunus dui daarop dat daar ʼn planeet tussen vyf en 15 keer die grootte van die aarde, honderde kere verder van die son as die aarde, anderkant Pluto wegkruipertjie speel.

Indien dit wel ʼn gravitasiekolk is, kan dit een van die oudste gravitasiekolke in die heelal wees. Die krieketbal-grootte voorwerp kan tot 20 keer die gravitasie van die aarde hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Onseker ·

Is daar dalk nog planeet grootter as die aarde verder as Pluto in die sonnestelsel of melkweg? Is daar dalk n krieketbal “black hole” in die sonnestelsel of melkweg?

Herman Toerien ·

Hallo Onseker. Dit is taamlik seker, geoordeel aan die bewegings van voorwerpe anderkant Neptunus dat daar iets sowat 20 keer swaarder as die aarde is. Dit kan ‘n planeet of gravitasiekolk (black hole so groot soos ‘n krieketbal wees. In die middel van die Melkweg (galaksie) is inderdaad ‘n gravitasiekolk. As ek reg onthou, is ‘n kleiner gravitasiekolk naby die middel ontdek. Die gravitasiekolk wat met die middel van galaksies geassosieer word is gewoonlik groot, en dit sluk voortdurend nog sterre en ander hemelliggame in. Die klein gravitasiekolke ontstaan enige plak waar ‘n groot ster aan sy einde kom. Sy eie gravitasie “sluk” hom as’t ware in en pers homself so erg saam dat sy swartekrag selfs lig verhinder om te ontsnap.

Herman Toerien ·

Hallo Charles. Planeet X bestaan natuurlik nie regtig nie. Dit kom eintlik uit die Babilonie literatuur so ver ek weet. Die kanse dat ‘n planeet om twee sonne kan wentel, is behalwe in die geval van dubbelson-stelsels onmoontlik. Tot onlangs is aanvaar selfs met dubbesonstelsels sou dit onmoontlik wees, maar minstens een egval is wel ontdek. Neem bv in ag dat die son teen sowat 220 km per sekonde in sy wentelbaan om die galaksie se middelpunt wentel. Dit is effektief onmoontlik dat ‘n planeet wat van ‘n ander ster af kom wat minstens 4 ligjare van ons af is, die son juis op ‘n plak sal aantref waar hy die planeet sal vang, en na presies die regte plek in die ruimte sal skiet om sy ander son te “vang. Is daai son nader aan die galaksie se gravitasiekol as ons, sal dit teen meer as 30 km per sekonde aanbeweeg het. is dit verder vd middelpunt, effe stadiger.

Cherokee ·

Daar is ook ‘n planeet met ‘n pragtige stad en strate van goud.

AB ·

En julle glo al die snert wat die ouens vir julle vertel. Die diepste gat wat nog ooit in die aardkors geboor was is +- 12km diep. En wat daar ontdek is stem nie saam met wat hulle vir ons leer in die aardkors is nie. Hierdie ouens wil vir julle sê wat mjoene ligjare vêr gebeur maar hulle kan nie eers vir jou die waarheid vertel oor wat 12km in ons eie aardkors aangaan nie! En julle glo die sotte? Klomp fools!

Jan Seerot ·

Geagte AB, ek wonder wat ek al die jare geswot het as jy my nou vertel dat ek eintlik niks weet nie, en dat ek een van die gekke is. Ek het my geld gemors. Vervlaks!
Weet jy dalk meer? Laat ons dan van jou leer asseblief. Dit blyk jy het by die voete van Gamaliël gesit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.