Kepler-1649c – ’n nuwe superaarde gevind

Die foto wys ʼn vergelyking tussen die aarde en Kepler-1649c. (Foto: Verskaf deur NASA.)

Sterrekundiges is al vir baie jare op soek na ʼn moontlike nuwe aarde, of altans op soek na buiteplanete wat soortgelyk aan die aarde is en waarop ons as mense moontlik in die toekoms sal kan lewe. Van die basiese maatstawwe waaraan dié planete moet voldoen, is die moontlikheid om water te kan stoor op ʼn klipperige oppervlak, dit moet om en by die aarde se grootte wees en natuurlik dat die temperatuur van die planeet binne ʼn bewoonbare grens moet val.

Om hierdie soeke te vergemaklik, het NASA die Kepler-ruimteteleskoop (KRT) ontwikkel en dit in 2009 die vreemde ingestuur. In die nege jaar wat die KRT die ruimte bestudeer het, het dié teleskoop meer as 2 600 nuwe planete ontdek en is tans 151 miljoen km weg van die aarde af. Die Kepler-ruimteteleskoop is ongelukkig sedert 2018 buite werking. Vanuit dié ontdekkings wat die KRT gemaak het, is die Kepler-1649c buiteplaneet vir seker die naaste vergelykbaar aan die aarde in ten opsigte van grootte en temperatuur.

Die Kepler-1649c is ongeveer 1,06 keer die aarde se grootte, kry sowat 75% die hoeveelheid lig van sy son af as wat die aarde kry wat beteken dat die oppervlaktemperatuur van die planeet moontlik soortgelyk aan die aarde se temperatuur kan wees. Die Kepler-1649c weeg sowat 1,2 keer die aarde se gewig.

Die foto is ʼn kunstenaarsvoorstelling van hoe dit moontlik op die oppervlak van Kepler-1649c kan lyk. (Foto: Verskaf deur NASA.)

Die planeet is ook geleë in die leefbare sone vanaf sy ster wat beteken dat vloeibare water op die oppervlak kan voorkom en dat dié buiteplaneet dalk lewe kan huisves.

Kepler-1649c is baie nader aan sy ster as wat die aarde aan die son is, en wentel om sy son elke 19,5 aardedae. Dit beteken ook dat die planeet moontlik deur stralingsvlamme geslaan kan word wat die kans vir lewe in gedrang kan bring. Maar tot dusver is geen van hierdie stralingsvlamme in 2020 geobserveer nie.

“Hierdie interessante, verafgeleë wêreld gee ons nog groter hoop dat ʼn tweede aarde iewers daar buite tussen die sterre wag om gevind te word,” sê Thomas Zurbuchen, mede-administrateur van NASA se wetenskapdirektoraat in Washington.

Kepler-1649c sal in ʼn later stadium deur die James Webb-ruimteteleskoop ondersoek word waar daar gefokus sal word op dié buiteplaneet se atmosfeer en ook bewoonbaarheid.

Klik hier vir ʼn illustrasie van Kepler-1649c.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Namib ·

Hulle het hierdie aarde nou opgebruik en verniel en moet nou ‘n plaasvevranger soek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.