Hou jy jouself graag besig met kopkrapper-legkaarte en bordspeletjies tydens vakansies? GCHQ, ʼn Britse intelligensie-agentskap, se Kerskaartjie gaan talle mense dié Kersfees besig hou met ʼn ingewikkelde legkaart.
Die legkaarte is kompleks en is ontwerp met verskillende vlakke. “Wanneer jy klaar het met die eerste skaduroosterlegkaart, sal dit ʼn beeld gee wat lei tot nog meer komplekse take om te voltooi,” sê die agentskap.
Die aanwysings is: In die skaduroosterlegkaart is elke blokkie óf wit óf swart. Sommige van die swart blokke is reeds ingevul (as ʼn soort leidraad). Elke ry of kolom het ʼn string getalle. Die syfers dui die lengte van al die opeenvolgende lopies van die swart blokkies aan, en word in die orde waarin lopies verskyn gewys in die lyn. Byvoorbeeld, “2 1 6” dui stelle van twee, een en ses swart blokkies aan. Elkeen van dié stelle het ten minste een wit blokkie wat hulle skei.
Volledige legkaarte kan tot einde Januarie 2016 ingedien word. Die e-pos-adres waarheen jy jou volledige antwoorde kan stuur sal verskyn wanneer jy die legkaarte suksesvol voltooi het. Besoek GCHQ se webwerf om ‘n hoë-resolusie legkaart af te laai.
As enigeen van ons lesers wel die raaisel kan oplos, kontak ons gerus en laat weet hoe jy vorder!
‘n Mens noem dit ‘n “nonogram” en daar is verskeie lekker speletjies in die Android winkel. Bv. Logic Pic en Nonograms Katana. Hou jou brein wakker en aan die gang…