KragDag se jongmense – ʼn fondasie vir die volgende generasie

Foto verskaf deur KragDag

Met ʼn doen-jou-eie-ding-filosofie, is KragDag ook passievol om hierdie lewensinstelling aan jongmense oor te dra, en die jeug te inspireer en te onderrig om verantwoordelikheid te neem om self geleenthede en uitdagings op hulle pad met selfvertroue aan te pak.

Sakeliga KragDag 2019, aangebied van 8 – 10 Augustus by Diamantvallei-landgoed in Pretoria, is ʼn geleentheid wat beloof om genoeg vermaaklikheid te bied vir die hele gesin (die jonges ingesluit)! Kinders onder die ouderdom van 18 jaar kan die terrein gratis binnekom en sal veral die karnavalritte, die voortrekkeruitstalling en die boeresport geniet.

Daar word ook verskeie ander aktiwiteite aangebied wat die jeug betrek:

KragKIDZ 2019 Junior Entrepreneurskompetisie

Foto verskaf deur KragDag

KragDag bied al vir ʼn geruime tyd jaarliks die Junior Entrepreneurskompetisie aan en spog vanjaar met 43 inskrywings. In samewerking met Fergus Ferguson van ActionCoach, Helpende Hand, Pretoria FM, AfriForum en The Oaks Collective, bied die KragKIDZ 2019 Junior Entrepreneurskompetisie die geleentheid aan jongmense om hul besigheidsidees op die been te bring, selfstandig te word en te bou aan hul toekoms.

Die jongste entrepreneur, Jacobus Erasmus (5), maak en verkoop nylonswepe. Hy sal jou ʼn ding of twee kan leer oor hoe om ʼn sweep te klap! En die oudste entrepreneur, Jolene van Zyl (19) sal jou mond behoorlik laat water vir haar handgemaakte Belgiese sjokolades.

Van koffie met tuisgebakte koekies, heuning, lekkergoed, speelgoed, plakkers, juwele en gemmerbier, tot die diens, koop en verkoop van grassnyers en integrasie en installasie van sonkragprodukte – is net ʼn kort opsomming van alles wat vanjaar se Junior Entrepreneurs jou kan bied!

Hierdie kompetisie bied ʼn informele platform waar kinders onder die ouderdom van 21 die geleentheid kry om hulle besigheidsidees aan meer as 15 000 mense bekend te stel. Afgesien van die ervaring wat met deelname aan die kompetisie opgedoen word, verdien die entrepreneurs ʼn inkomste en daar is boonop kontant- en mentorskappryse op die spel!

Toyota SA Junior Afslaerskampioenskappe

Foto verskaf deur KragDag

Dit is vir KragDag ʼn groot voorreg om op te tree as gasheer vir die Toyota SA Junior Afslaerskampioenskappe asook die Toyota SA Jong Afslaerskampioenskappe in samewerking met Veeplaas.

Hierdie inisiatief is reeds in 2013 deur Veeplaas- en Stockfarm-tydskrifte gedryf en beloof om ʼn opwindende geleentheid vir die deelnemers, sowel as die gehoor te verskaf!

Deelnemers word beoordeel volgens rostrum-interaksie asook rasse- en bedryfskennis. Geen diere word werklik opgeveil nie, maar die diere in die arena word as die onderwerp vir “verkoop” bemark en moontlike kopers word vooraf uitgewys om sodoende fokus en selfvertroue te bevorder.

Gareth Hughes, die wenner in die 2015 Toyota SA Jong Afslaerskompetisie en afslaer by Vleissentraal Ermelo, sal optree as een van die beoordelaars.

Daar is pryse te wen en die wenner sal dan ook in die finale ronde deelneem wat beplan word tydens Alfa Expo in Parys in September 2019.

Hoewel hierdie kompetisie vermaak aan deelnemers en die gehoor verskaf, is die oogmerk om die jeug die geleentheid te bied om sy staal te wys en sy vermoëns in die afslaer se stoel te toets. Hierdeur skep KragDag dan as ‘t ware die geleentheid aan die kinders om die professie as ʼn professionele beroep te oorweeg.

Sakeliga KragDag 2019 Opvoedkunde sub-ekspo

Ingesluit by die 450 uitstallers, is natuurlik ook die jaarlikse Opvoedkunde sub-ekspo. Hier kan ouers verskillende opvoedkundige opsies en aanvullings tot bestaande kurrikulums ondersoek. Die bekende tuisonderwysmentor, Martie du Plessis, bied ook ʼn lesing aan op Saterdag 10 Augustus om 11:30 (Onderwys wat na 20 jaar nog steeds vrug dra – doen dit self!) in die KragDag Raadsaal.

Teken sommer vandag nog die datums in jou dagboek aan en besoek die webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.