Kunsmatige intelligensie verander die landskap van landbou in Japan

hommeltuig-hommeltuie-tegnologie

Ter illustrasie. Foto:
George Kroeker/Unsplash.com

Japanse boere gebruik toenemend al meer hommeltuie om die daaglikse take op hul plase te verrig.

TechRepublic berig dat die landboubedryf in dié land talle uitdagings het: Boere se gemiddelde ouderdom is bo 65, landelike gebiede ontvolk en Japan se geboortekoers is boonop baie laag.

Dié omstandighede het Japanse ontwikkelaars en boere in die noordoostelike streek van die land genoop om ʼn nuwe soort hommeltuig te ontwikkel en uit te toets om sake vir die land se boere te vergemaklik.

Die Nile-NT18-hommeltuig kan gebruik word om onkruiddoders en kunsmis op rysvelde te spuit en danksy tegnologie word dié takie nou binne 15 minute afgehandel. Dit neem boere gewoonlik meer as ʼn uur om dieselfde werk per hand te doen. Die spesifieke hommeltuig kan ook skerper draaie maak en sterker winde navigeer.

Boonop kan hommeltuie ook help om landbouers se manier van boer te verbeter. Die hommeltuie dra videokameras wat gebruik word om die groei van gewasse te monitor. Rekenaarontleding van die beeldmateriaal kan bepaal waar gewasse te stadig groei en ander waarde volle inligting verskaf. Dié soort ontledings kan boere help bepaal hoeveel en waar presies kunsmis op die landerye toegedien moet word om die gehalte van hulle opbrengs te verbeter.

Hoewel gewone hommeltuie met die nodige toedienertoerusting sowat R2 miljoen (15 miljoen jen) kos, is die Nile-NT18 kleiner en veel goedkoper en sal dit ʼn boer tussen R260 000 en R520 000 (2 en 4 miljoen jen) uit die sak jaag.

Die hommeltuig se ontwikkelaar is ook besig om met Japanse owerhede te onderhandel om operateurs toe te laat om die hommeltuie sonder lisensies te gebruik.

Verder hoop die ontwikkelaars en die boere dat dié soort hommeltuie binnekort sade sal kan plant. Hulle probeer ook ʼn metode ontwikkel om die hommeltuie effektief in te span om die skade wat deur voëls en diere veroorsaak word, te verminder.

Die hommeltuie is verder al gebruik om die skade aangerig deur tifone en ander natuurrampe aan besproeiingskanale en ander plaasgeriewe te ondersoek.

Ontwikkelaars glo dié nuwe tegnologie kan jong mense se siening van die landboubedryf verander en hulle na dié bedryf teruglok.

Japan Times berig dat hommeltuie sedert 2015 by die plaaslike owerhede geregistreer moet word. Daar is sedert Januarie 673 hommeltuie geregistreer, drie keer so veel as in Maart 2017 – ʼn aanduiding dat die gebruik van tegnologie beslis aan die toeneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

IK ·

By ons natuurlik teen die bekamping van misdaad en die opspoor van ‘verdagtes’ (wat ‘n mooi woord).

KanekVra? ·

Uitstekende tegnologie. Sal dit hier werk in Suid-Afrika? Ek wonder nogal hieroor. Sal die hommeltuig uit die lig geskiet word, of eers met klippe gegooi word. Dan sal die bruikbare parte seker iewers probeer verkoop word. Want wie wil dan nou kompeteer met ‘n werker wat nooit staak nie, altyd sal werk, nie terug praat nie, nie siek word nie en nie jou boerdery enige skade doen nie.

Willem ·

Gaan Google gerus hierdie hommeltuig (drone) waarvan hier bo gepraat word op die internet. Dit is ongelooflik en dan is hy groter as ‘n middelslag kar. Die goed is duur, maar hierdie tegnologie gaan verseker al meer ingespan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.