Kunstefeeste in SA, só lyk die toekoms

Foto: Bruno Cervera/Unsplash

Die Vrystaat Kunstefees het die afgelope week sy #MeiMenings-gesprekreeks afgeskop met ʼn sessie waar organiseerders, kunstenaars en belangstellendes oor die toekoms van kunstefeeste in Suid-Afrika beraadslaag het.

“Kunstenaars se kreatiwiteit sal nooit opraak nie. Die korona-pandemie is ʼn geleentheid om anders oor die aanbieding van kuns en vermaak te dink,” sê Ricardo Peach, direkteur van die Vrystaat Kunstefees.

Dié gesprek is aangebied op Zoom, ʼn digitale platform wat aanlyn gesprekke tussen ʼn groep mense van tot ʼn 100 moontlik maak. Ongeveer 80 lede van die publiek het ingeskakel.

“Die doel is om verskillende kunsvorme en bedrywe te verbind,” sê Peach. “Maar dis ook vir ons belangrik om kunstenaars en entrepreneurs bymekaar te bring in dié moeilike tyd.”

Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi), was die gespreksleier en het met organiseerders van verskeie kunstefeeste en teaterinisiatiewe wêreldwyd gesels.

Dit sluit in Peach, Alexa Strachan (Aardklop Nasionale Kunstefees), Andy Lubbe (Innibos), Hugo Theart (Klein Karoo Nasionale Kunstefees), Inge Ceustermans (The Festival Academy in Europa), Jana Hattingh (Suidoosterfees), Rucera Seethal (Nasionale Kunstefees in Makhanda, voorheen Grahamstad), Saartjie Botha (Toyota US Woordfees) en Susanna Seidl-Fox (direkteur vir kuns en kultuur by die Salzburg Global Seminar).

“Dis goed vir mense om op só ʼn platform te gesels,” sê Faasen. “Hoewel die toekoms in baie opsigte nog duister is, is almal hoopvol.”

Faasen verduidelik dat die feesteforum weekliks vergader. Die aanbieding van inhoud, asook die oorlewing van kunstenaars en tegnici word onder meer tydens dié seminare bespreek.

“Dit is belangrik dat die publiek moet verstaan ​​dat feeste afhanklik is van kaartjieverkope. Daarom moet sakemodelle herbedink word.”

Kunstenaars het intussen begin om stuk-stuk hul kreatiewe inhoud aanlyn bekend te stel. Faasen moedig die publiek aan om dié inisiatiewe te ondersteun totdat die verbod op sosiale geleenthede gelig is.

Vir meer inligting oor die Vrystaat Kunstefees se gesprekreeks besoek hul Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.