Vermy maar eerder openbare Wi-Fi-verbindings sover jy kan. Hierdie punte is berug daarvoor dat dit onveilig is en misdadigers gebruik dit om niksvermoedende gebruikers te teiken.
Dit is die mening van Carey van Vlaanderen, uitvoerende hoof van ESET, wat ʼn kenner van kuberveiligheid is.
“Ons sit hier met ʼn situasie waar die netwerke dikwels glad nie geverifieer is nie, of waar jy jou persoonlike besonderhede aan onbekende partye moet verskaf vir verifikasie,” het Van Vlaanderen in ʼn onderhoud aan eNCA gesê.
Sy het bygevoeg dat kubermisdadigers dikwels hierdie punte gebruik om persoonlike inligting te onderskep.
“Dit is moeilik om hierdie punte as kwaadwillig te identifiseer omdat hulle dikwels soortgelyke netwerkname (SSID) het as die amptelike openbare Wi-Fi-punt in die omgewing.
Beskerm jouself so
Van Vlaanderen moedig Suid-Afrikaners aan om hierdie Wi-Fi-punte heeltemal te vermy en eerder hulle slimfoon of mobiele internetstokkie (dongle) te gebruik om ʼn punt te skep wat hulle help om aan die internet te koppel.
“As gebruikers nie ʼn ander keuse het as om openbare Wi-Fi te gebruik nie, moet hulle die nodige voorsorgmaatreëls tref om hulle persoonlike inligting veilig te hou.”
Van Vlaanderen beveel aan dat gebruikers betroubare sekuriteitsagteware op hulle skootrekenaars en mobiele toestel laai om hulle teen kwaadwillige aanvalle van kubermisdadigers te beskerm.
“Moenie openbare Wi-Fi gebruik om aanlyn bankdienste te doen of ander sensitiewe inligting oor die internet te stuur nie. Gebruik eerder ʼn virtuele private netwerk (VPN) as jy toegang tot een het en volg algemene aanlyn veiligheidsriglyne, soos om webwerwe te gebruik wat veilig is [die webwerwe se skakels begin gewoonlik met ‘https’] en gebruik die sterkste en unieke wagwoorde.”
- Kyk hier na Van Vlaanderen se volledige onderhoud met eNCA.
- Bykomende bron: MyBroadBand.com