Militante liberalisme se aandeel in die opkoms van militante Islam

map-iraqDie oplaaiende krisis in Irak, Sirië, Libanon en Libië is ’n menslike tragedie wat hom voor die oë van die hele wêreld afspeel. Islamitiese ekstremiste het nou selfs al ’n “kalifaat”, oftewel ’n fundamentalistiese Islamitiese Staat (IS), in dele van Irak, Sirië en Libanon uitgeroep.

Die vraag is wat die oorsprong van hierdie bloedige krisis is. Kon dit voorkom word, of is ’n ketting van gebeure op tou gesit wat tot hierdie kruitvat aanleiding gegee het – en wat nou dreig om die hele Midde-Ooste aan die brand te steek?

Die Midde-Oosterse vraagstuk is uiters ingewikkeld, en dit kan en durf nie tot ’n enkele oorsaak vereenvoudig word nie. Tog blyk dit duidelik dat president George W. Bush se inval in Irak hoogs waarskynlik die lont aan die brand gesteek het. Die omverwerping van sekulêre diktators soos Saddam Hoesein en Moeammar Ghaddafi, het ’n magsvakuum geskep wat nou deur ekstremistiese groepe benut word om hierdie lande oor te neem. Bush het met sy sogenaamde “Freedom Agenda”, die VSA se dekade lange beleid voortgesit om Westerse liberale stelsels na nie-Westerse en onliberale lande uit te voer en selfs op hulle af te dwing. Hierdie pogings om die “Ooste te Verwesters”, het net so groot teenreaksie uitgelok as wanneer die Ooste die ondenkbare sou aanpak en die Weste probeer “Islamiseer”!

Nie-Westerse lande sien die pogings om hulle te probeer verwesters as ʼn voortsetting van Westerse (ideologiese) Imperialisme, onder die dekmantel van ʼn oorlog teen terrorisme en -diktators. In talle gevalle het Westerse pogings om Westerse stelsels soos demokrasie op ʼn bykans imperiale wyse af te dwing gelei tot ’n sogenaamde “demokratiese paradoks”. Dis waar ondemokratiese groepe die demokrasie misbruik om aan bewind te kom, net om daarna die demokrasie opsy te skuif en die bevolking te oorheers.

Die goue tweeling
Die Amerikaners glo egter dat die Amerikaanse “goue tweeling” van demokrasie en kapitalisme oral kan werk, en dat hierdie stelsel die wêreldstandaard moet wees waaraan almal moet voldoen en waarvolgens lande bykans “klein “Amerikas” moet word. Die Amerikaners het ’n vaste geloof dat een demokratiese en kapitalistiese suksesverhaal in die Arabiese wêreld sal uitkring en so die hele streek tot hierdie Westerse stelsel sou “bekeer”, al moet dit onder dwang gebeur. Vir hulle is die historiese voorbeeld die gedwonge demokratisering van Duitsland ná die Tweede Wêreldoorlog wat tot demokrasie in Europa gelei het.

Talle van hul eie leiers het Amerika al gewaarsku dat demokratiese kapitalisme, ondanks die meriete van die stelsel, nie oral kan werk nie omdat die voorwaardes daarvoor nie oral bestaan nie. Onder hierdie voorwaardes tel betreklike homogene bevolkings; ’n bepaalde vlak van geletterdheid en ekonomiese ontwikkeling; Westerse waardes, ’n sterk burgerlike samelewing; ’n versoenbare politieke kultuur; en breë ooreenstemming onder die bevolking wat grondliggende vraagstukke betref.

Obama en Poetin
Ná Bush het Obama voortgegaan om in Midde-Oosterse lande in te meng deur byvoorbeeld tydens die opstande in verskeie Arabiese lande soos Egipte kant te kies en steun aan bepaalde groepe te verleen. Waarskuwings van wêreldleiers soos president Poetin van Rusland dat dit katastrofiese gevolge kan inhou, het op dowe ore geval.

Die kommerwekkendste kenmerk van die opkoms van Islam, is die militante karakter van baie aanhangers. Selfs die Harvard-akademikus, Samuel Huntington, het al gesê dat Islam bloedige grense het en betrokke is by meer as die helfte van die gewelddadige konflik in die wêreld.

Die vraag is of die groeiende geweldspotensiaal van Islam ontlont kan word, en in watter mate die opkoms van Islam ’n reaksie op Amerikaanse ideologiese aggressie is. Hoewel terroriste se stellings dat aksies soos die aanvalle in September 2001 bloot vergeldingsaanvalle vir Amerikaanse moorde op Moslems was, onvoorwaardelik verwerp moet word, moet die Amerikaanse aandeel in die herlewing van Islam nie onderskat word nie.

Die opkoms van Islam
’n Belangrike rede vir die opkoms van Islam is gesetel in ’n reaksie op Amerikaans-gedrewe globalisering. Moslems meen dat dekadente Amerikaanse rolprente, TV, musiek en kleredrag hul tradisionele waardes bedreig. Hulle is ook gekant teen die groeiende invloed van Engels en Amerikaanse multinasionale maatskappye in hul lande, wat hulle as neokolonialisme en as die voortsetting van Westerse imperialisme sien.

Wat egter die grootste weersin onder Moslems wek, is die aggressiewe liberalisme wat die Amerikaners met militêre geweld op Moslemlande soos Irak, Afghanistan en Libië probeer afdwing. Die rede vir hierdie Amerikaanse optrede lê in die VSA se buitelandse beleid, wat die bevordering en uitvoer van liberale waardes en stelsels ten doel het.

Bush – en sy voorgangers sowel as sy opvolgers – se projekte om liberale idees soos demokrasie, menseregte, kapitalisme en die regstaat met geweld op nie-liberale Moslemstate af te dwing, het al in lande waar liberalisme ’n vreemde ideologie is tot grootskaalse bloedvergieting en verdrukking aanleiding gegee. Hierdie militante Westerse liberalisme het uiteindelik tot ’n wêreldwye samespanning teen die Weste aanleiding gegee, waaronder die stigting van Brics en die opkoms van ’n wêreldwye militante Islambeweging.

Herleef teenoor oorheers
In ’n tyd van ’n ekonomiese krisis in die Weste, behoort militante Westerse liberaliste na die raad van die Britse historikus, Niall Ferguson, te luister. Hy sê dat in plaas daarvan dat militante liberales die wêreldvrede verder versteur deur almal ideologies te wil oorheers en te probeer verwesters, die Weste eerder daarop moet fokus om homself vreedsaam te herleef. Die Weste het eenvoudig nie meer die militêre, politieke en ekonomiese wil en vermoë om sy wil op die res van die wêreld af te dwing nie. Die tyd is verby dat die Weste ander lande kan dwing om te verwesters.

Die gevolge van Amerika se demokratiese sendingywer is ook nie net tot die Midde-Ooste beperk nie. Rusland gebruik die opstand teen Westerse inmenging in baie lande om ’n breë anti-Westerse koalisie te smee. Amerikaanse voorskriftelikheid is ook besig om die Chinese die harnas in te jaag.

Dis tyd om weer na president Richard Nixon se woorde te luister toe hy geantwoord het op aantygings dat sy destydse diplomatieke bande met China nie vereistes aan hulle gestel het om te demokratiseer nie. Hy het toe gesê dat enige poging in die sestigerjare om China van demokrasie te probeer oortuig nutteloos sal wees; dat dit in die tagtigerjarige teenproduktief sal wees, en dat dit in die negentigerjare gevaarlik sal wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers, Tegnologie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Henkst ·

Volgens lord Chris Patten hou China ʼn bedreiging in vir demokrasie. Die Chinese bedreiging het niks te doen met goedkoop uitvoere nie, maar Patten beweer dat China die idee verkondig dat mens nie demokrasie benodig om rykdom te verwerf nie – en dié houding bedreig die Westerse demokrasieë.

Henkst ·

Volgens lord Chris Patten hou China ʼn bedreiging in vir demokrasie. Die Chinese bedreiging het niks te doen met goedkoop uitvoere nie, maar Patten beweer dat China die idee verkondig dat mens nie demokrasie benodig om rykdom te verwerf nie – en dié houding bedreig die Westerse demokrasieë.

Chris ·

Uitstekende artikel Flip. Hier is ‘n skakel van ‘n video tov Irak. Dis 90 minute lank maar dui op die chaos in Amerikaanse besluitneming en strategie tov Irak.

http://www.pbs.org/wgbh/pages/frontline/losing-iraq/

Soos almal weet het ons baie dieselfde probleem mbt “demokrasie” in SA. Dit was deur die Comrade’s en hul ondersteuners aangewend om mag te bekom net om later daaraan vas te klou. En die swakkelling FW de Klerk’e het blykbaar alles geglo en ons sonder ‘n mandaat aan die chaos uitgelewer.

Chris ·

Uitstekende artikel Flip. Hier is ‘n skakel van ‘n video tov Irak. Dis 90 minute lank maar dui op die chaos in Amerikaanse besluitneming en strategie tov Irak.

http://www.pbs.org/wgbh/pages/frontline/losing-iraq/

Soos almal weet het ons baie dieselfde probleem mbt “demokrasie” in SA. Dit was deur die Comrade’s en hul ondersteuners aangewend om mag te bekom net om later daaraan vas te klou. En die swakkelling FW de Klerk’e het blykbaar alles geglo en ons sonder ‘n mandaat aan die chaos uitgelewer.

Jaco Bisschoff ·

Hierdie artikel laat my baie dink aan die konflik tussen Noord-Korea en die VSA…

Jaco Bisschoff ·

Hierdie artikel laat my baie dink aan die konflik tussen Noord-Korea en die VSA…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.