4X4-toets: Panda klim die berg…

Die Fiat Panda.

Maroela Media was onlangs by die bekendstelling van die nuwe Fiat Panda. Lesers was baie nuuskierig om te hoor hoe die 4X4-Panda met sy mededingers vergelyk. Ek het Suzuki vir ’n Jimny gevra en ’n afspraak is gemaak met Alan Pepper by Bass Lake.

Alan gee al 25 jaar lank 4×4-instruksies. Hy ry self al vir 40 jaar in die veld. Dit is vir Alan lekker om inligting te deel wat hy al oor dekades op die harde manier moes leer. Ek hou van sulke wyshede wat ’n mens by die ouer garde kry. Ek is nou nie meer ’n tiener nie en weet: Die mense wat al langer as ek op aarde is het al ’n paar myl gestap en weet waarvan hulle praat.

Alan is toegerus met ’n standaard handrat Suzuki Jimny. Ek het die Fiat Panda Cross TwinAir 4×4. Soos hulle langs mekaar staan, kan ’n mens dadelik sien die benaderings-, oorbruggings- en vertrekhoek van die Jimny is beter as dié van die Panda. Die Jimny staan ook hoër op sy bene, met 190 mm grondvryhoogte teenoor die Panda se 161 mm.

Die Suzuki Jimny.

Dit het die dag van die toets gesous in Gauteng. Nie eens ’n bietjie nie. Sommer baie. Die modder het sulke plasse gestaan net waar jy kyk en ons kon dus nie al die hindernisse probeer nie – dit sou net te gevaarlik gewees het. Ons het ’n paar gedoen en ek en Alan is regtig beïndruk met die Panda se vermoë. Die elektroniese ewenaarslot werk puik in glibberige toestande. Die Panda sukkel wel om stadig genoeg in ’n hindernis te beweeg sonder laestrek. Die klein kapasiteit turboaangejaagde tweesilinderenjin help ook nie. ’n Mens moet effens vet gee sodat die turbo inskop om wringkrag te bied – en dan is die eerste rat heeltemal te lank en die spoed te hoog.

Die Jimny se grondvryhoogte en laestrek laat hom toe om regtigwaar in sy eerste rat teen ’n hindernis op te kruip. Veral in glibberige toestande is spoed nie jou maat nie. Jy wil regtig kruip sodat jy kan keer indien die kar in die verkeerde rigting wil gly.

Kruisas-situasies het nie die Jimny óf die Panda gesteur nie; ’n egalige momentum en sagte insette maak van die meeste situasies kinderspeletjies. Daar is ’n redelike pylvak waar Alan vir mense die verskil tussen 4×2 en 4×4 demonstreer. Los die Jimny in 4×2, ry so 50 km/h, ruk en pluk aan die stuur en teen die derde beweging tol hy in die rondte.

Die Fiat Panda.

Met die Panda in outomaties op sy 4×4-skakeling begin hy ook naderhand amper buite beheer raak. Draai om en sit die 4×4-skakeling in “offroad”, doen dieselfde en die Panda gedra hom uiters puik. Die verskil is skrikwekkend. Ek wil hier sommer vir elkeen wat ’n allewielaangedrewe of 4×4-voertuig het sê: As jy op ’n grondpad ry – nat of droog – sit jou voertuig in 4×4: as iets skeefloop, gaan jy beslis nie spyt wees nie.

Die Jimny en die Panda kos amper dieselfde. Dit is wel twee verskillende benaderings tot 4×4. Die Jimny is beslis meer gehard. Die Panda is regtig oulik in ’n modieuse pakkie. Vir stadsjapies wat af en toe in die bos gaan ry of geneig is om avontuur uit te soek gaan die Panda sy man staan in die veld, maar die Jimny is tog meer bekwaam as dinge ernstig raak. Op die pad en in die stad is die Panda ’n gemakliker tjorretjie as die Jimny. Dié twee liggewigte het vir my en Alan ure se pret gebied teen ’n fraksie van ander 4×4’s se geld.

Die twee vergelyk só:

Suzuki se beweerde brandstofverbruiksyfer klink in die kol. Die Panda kon wel tydens die week op toets nie beter as 7.1 ℓ/100 km bied nie. Kry ’n pel – koop elkeen een van die twee en geniet jare se pret saam.

Die Suzuki Jimny.

Die Fiat Panda.

Die Suzuki Jimny.

Die Fiat Panda.

Die Suzuki Jimny.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Disselboom ·

Oulike voertuie, maar om 16 – 19cm bokant die grond met die woord “grondvryhoogte” te vereer, is taalkundig korrek maar gaan jou nie baie ver in die regte bos vat nie.

Petrus Haggard ·

Ek dink om die panda teen die jimny te toets is soos om appelmet pere te vergelyk maar dan moet ek ook se ons het die Terios teen die jimny getoets en die jimny is n klein 4×4 wat berge kan plat maak

N goeie toets vir die Panda sal wees teen die Terios en Duster all twee het nie lae strek nie

Maar wie het nou lae strek nodig as jy kan pret he met n klein “softroader” soos ons hulle noem

Brendon ·

Dagsê Petrus,

Baie dankie vir jou kommentaar. Ongelukkig is die Terios nie meer nuut in Suid-Afrika beskikbaar nie. Die Duster/ Panda vergelyking klink interessant. Die Panda se vreeslike kort asafstand maak dit wel baie meer bekwaam as ‘n ‘softroader’.

Groetnis,
Brendon
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.